Afrikaanse media is gevaarliker as ooit tevore

Die Afrikaanse media in Suid-Afrika en Namibië is volstoom aan die rol. Ondersoekende joernaliste veroorsaak die een onthulling na die ander. Stories soos die Prasa-treine wat te hoog is, en verbode aktiwiteite van Noord-Korea in Namibië verskyn danksy kritiese media aan die oppervlakte. Dat joernaliste van RSG – ondanks ‘n verbod van die SAUK – tog oor proteste berig, toon dat Afrikaanse joernaliste wat by die SAUK werk, soms ook buite die SAUK kaders moet werk om geloofwaardig te bly.

800px-class_afro4000_4003
Rapport het onthul dat die AFRO4000-lokomotiewe, wat PRASA gekoop het, te hoog is om op die Suid-Afrikaanse spoor te kan ry (Foto: John Middleton / Wikimedia Commons)

Ja, ek het ooit geskryf dat daar baie klein stories is in die kommersiële Afrikaanse media, soos artikels wat uit vier reëls bestaan en min inligting gee, terwyl meer inligting benodig is. Die kwaliteit is soms te min. Ek het ook geskryf Afrikaanse media mis die snelheid om nuus te breek. Dit geld nie net vir Netwerk24 nie, maar ook vir Maroela Media en Die Republikein. Weens die tweetaligheid van die Afrikaanse gemeenskap moet die media mos kompeteer met Engelstalige media. En dit is soms lastig.

Nietemin bewaak die Afrikaanse media een van die grondbeginsels van demokrasie relatief goed: ondersoekende joernalistiek. Juis hierdie tipe joernalistiek verteenwoordig een van die hoekstene van demokrasie: Die vrye pers kom die beste tot uiting by ondersoekende joernalistiek.

Navorsing in die media sorg dat feite gekontroleer word, sodat leuens van politici, besighede en ander organisasies ontmasker word. Met die inligting kan burgerlike organisasies beter, makliker en stewiger teen die regering en sy staatsinstellings standpunt inneem. Ondersoekende joernalistiek veroorsaak ook ‘n voortdurende stroom van inligting en agtergrondinligting, wat voortdurende opleiding van burgers veroorsaak.

Ondersoekende joernalistiek hoef nie altyd spektakelstukke te wees nie. Dit kan byvoorbeeld ook oor beter onderwys gaan of oor hoe mense die beste hul pensioen kan verseker. Nietemin is die Afrikaanse media baie sterk in onthullende joernalistiek.

Die Republikein is seker die nuutste verrassing met hul reeks onthullings oor die innige bande tussen Noord-Korea en Namibië. Die onthullings het selfs gelei tot vrae by die Verenigde Nasies in New York asook ontkennings van die Namibiese regering se kant af. Die onthulling oor Noord-Koreaanse militêre fasiliteite in Namibië was selfs onderwerp van politieke gesprekke in Europa. Die Republikein onthul voortdurend nuwe ontwikkelings met betrekking tot die politieke, ekonomiese en militêre bande tussen Namibië en Noord-Korea. Dit dui op sterke joernalistiek.

Die redes dat Afrikaanse joernalistiek relatief gevaarlik is vir die regering, is dat die Afrikaanse medialandskap relatief divers is – as ook die min steun onder Afrikaanssprekendes vir beleid van die regering. Afrikaanse media is buitendien gedwing om nuut te dink, omdat hulle minder toegang tot die regeringskanale het en politieke invloed verloor het. Voor 1994 was bande tussen die Afrikaanse pers (Naspers sowel as Perskor) en die regering van die Nasionale Party baie intiem.

Dit maak Afrikaanse media ‘lastig’ vir die huidige maghebbers. Seker as dit nie bly by onthullings, maar ook hele boeke geskryf word oor politici. Adriaan Basson is danksy sy boek Zuma Exposed gehaat binne die ANC.

Joernaliste wat by die SAUK werk en binne die reëls van die SAUK moet werk, word soms ongeloofwaardig. Die skorsing van verskeie joernaliste deur die SAUK wys nie net op die morele bankrotskap van die SAUK, maar ook op die aanwesigheid van – in demokratiese terme gesonde – kommersiële media. Hierdie aanwesigheid dwing SAUK-joernaliste om die gestelde sensuurreëls te oortree om hul geloofwaardigheid te behou.

Daar skuil egter wel ‘n gevaar in onthullende joernalistiek, omdat die keuse van onderwerpe heel moontlik beïnvloed word deur persoonlike voorkeure van joernaliste. Ook is dit nie so dat ondersoekende joernaliste outomaties goeie veelsydige joernaliste nie. Ondersoekende vaardighede word nie altyd waardeer nie – in ‘n kommersiële omgewing moet dit in die lesers se guns wees of op so’n manier gebeur dat lesers of kykers nie van die medium vervreem raak nie, soos by Adriaan Basson se redakteurskap by Beeld gebeur het.

Waar kommersiële media krities kan en mag wees op die handel en wandel van die owerheid, kan goed funksionerende en onafhanklike staatsmedia krities wees oor bedrywe en maatskaplike organisasies. Die SAUK is egter allermins ‘n voorbeeld van goed funksionerende en onafhanklike staatsuitsaaier.

Media behoort in balans te wees om demokrasie ten volle ondersteun. Ondersoekende joernalistiek is verseker een van die belangrikste onderdele daarvan. Suid-Afrika is egter geen volledige demokrasie nie, en daar sal maar gebruik gemaak moet word van die media wat wél help om demokrasie te verdedig en te vestig op plekke waar dit nog nie was nie.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s