Orania onder die loep: Orania in EFF-hande?

Daar is verskeie media wat meld dat Orania tydens die komende plaaslike verkiesings in EFF-hande gaan val. Dit herinner aan berigte rond die vorige plaaslike verkiesing dat die ANC Orania ‘verower het’. Van die nuusberigte bevat baie groot foute. Dit dra by aan die onduidelikheid rond die verwarrende status van Orania ten opsigte van die Thembelihle Plaaslike Munisipaliteit.

So is daar hierdie berig van die SAUK dat die EFF Orania gaan ontmantel as hy die verkiesings in die Thembelihle-munisipaliteit wen.

Daar is egter drie redes hoekom Orania na 3 Augustus 2016 nie in die hande van die EFF sal val nie.

Eerstens: Feit is dat die situasie vir Orania nie verander as die EFF die Thembelihle-munisipaliteit wen nie. Die rede is baie simpel: Die Thembelihle-munisipaliteit het geen mag in Orania nie. Hierdie situasie is die uitkoms van ’n skikking in 2000 tussen Orania en ander Suid-Afrikaanse owerhede wat deur ’n hofbevel van die Noord-Kaapse Hooggeregshof bekrag is.

Maar hoe kon dit sover kom? Na die afskaffing van apartheid het elke dorp of stad – inklusief Orania – ’n eie verteenwoordigende oorgangsraad gekry (Wet op Plaaslike Oorgangsregering met verkiesingsregulasies van 1993). Verkiesings vir hierdie oorgangsrade het in 1995 en 1996 plaasgevind en so het Orania sy eie verteenwoordigende oorgangsraad gekry.

In 1998 is egter die Wet op munisipale stelsels (Wet 117 van 1998) bekend gestel, waarmee die regering die huidige stelsel van plaaslike en distriksregering wou implementeer. Daar is aangekondig dat talle plaaslike verteenwoordigende oorgangsrade sou saamsmelt in groter munisipaliteite. Afkondigingslyste is deur die provinsiale regering van die Noord-Kaap gepubliseer. Orania was nie op hierdie samesmeltingslyste nie. Toe blyk dat Orania tog saamgesmelt word met Hopetown en Strydenburg, het Orania geprotesteer by die provinsiale regering, wat nie wou luister nie. Ook met die oog op die Akkoord insake Afrikaner selfbeskikking uit 1994 en artikel 235 van die Grondwet, het die Orania Verteenwoordigende Oorgangsraad verskeie Suid-Afrikaanse owerhede op 4 Desember 2000 hof toe geneem. Weens die foute van die Noord-Kaapse regering was daar ’n groot kans dat Orania die hofsaak sou wen; met die kans dat die verkiesings wat vir die volgende dag beplan was, uitgestel sou word. Daarom het die Suid-Afrikaanse regering voorgestel om die saak te skik. Daar is ooreengekom dat die Orania Verteenwoordigende Oorgangsraad onbepaalde tyd sal voortbestaan en al sy magte en pligte sal behou totdat Orania en die Suid-Afrikaanse regering ’n ooreenkoms sal sluit oor die munisipale status van Orania. Hoewel Orania in die tussentyd binne die grense van Thembelihle sal lê, sal die Thembelihle-munisipaliteit in Orania geen dienste lewer of belastings hef nie. Orania val politiek gesien dus nie onder die Thembelihle-munisipaliteit nie, maar onder sy eie (erkende) Orania Verteenwoordigende (Oorgangs)raad. Tydens vanjaar se plaaslike verkiesings sal inwoners van Orania nie vir die raad van die Thembelihle-munisipaliteit stem nie, maar vir die Orania Verteenwoordigende (Oorgangs)raad.

800px-aerial_view_2_orania_02-2015
‘n Deel van Orania langs die Oranjerivier (Foto: Orania Beweging / Wikimedia Commons).

Tweedens: Selfs as die Orania Verteenwoordigende Oorgangsraad afgeskaf sou word en Orania volledig by die Thembelihle-munisipaliteit ingeskakel sou word, het dié munisipaliteit nouliks mag in Orania. Die rede hiervoor is dat Orania private eiendom is. Die dorp is geleë op grond van die Vluytjieskraal Aandeleblok, wat beter bekend is as die Orania Dorpsraad. Slegs inwoners het aandele in hierdie aandeleblok. Dienste in Orania word gelewer deur die Dorpsraad en word deur die inwoners gesamentlik betaal. Orania bly steeds ’n private dorp binne elke ander staatkundige indeling, tensy dit onteien word.

Derdens is die kans dat die EFF die plaaslike verkiesings in die Thembelihle-munisipaliteit wen baie klein. Danny Jonas het in 2011 tydens tussentydse verkiesings in sy ward as onafhanklike kandidaat 768 stemme gekry. Jonas het later burgemeester geword. Hoewel die Thembelihle-munisipaliteit bestuur word deur ’n koalisie van COPE (2 setels), die DA (1 setel) en Danny Jonas (1 setel), maak die EFF ’n kansie op COPE se setels. Die politieke omgewing van die Noord-Kaap is egter een van die mins voorspelbare gebiede. Die nasionale teloorgang van COPE beteken in die Noord-Kaap veral wins vir die ANC. Teleurgestelde ANC-kiesers verhuis weer na die DA. Tydens die algemene verkiesing in 2014 het die EFF slegs 117 stemme of 1,9% van die stemme in die Thembelihle-munisipaliteit behaal. Noudat burgemeester Jonas lid geword het van die EFF, beteken dit nie direk dat sy stemme na die EFF gaan nie.

Buitendien het die Thembelihle-munisipaliteit groot ekonomiese probleme. Die finansiële probleme van die munisipaliteit was in Januarie so groot, dat Eskom Hopetown en Strydenburg ’n teiken vir beurtkrag wou maak. Verder wil die ANC as grootste oppossissieparty in Thembelihle die munisipaliteit weer onder sy beheer kry. Die munisipaliteit is een van die vier fokus-munisipaliteite van die ANC in die Noord-Kaap. Ook die DA wil graag die munisipaliteit in sy beheer kry. Die stryd om die Thembelihle-munisipaliteit gaan ‘n heftige stryd wees. Soos in die hele Noord-Kaap gaan die verkiesingsuitslae baie onvoorspelbaar wees.

Dus: Die bestaan van die Orania Verteenwoordigende (Oorgangs)raad as erkende politieke instelling op plaaslike vlak, die status van Orania as private dorp met die Orania Dorpsraad as verantwoordelike instelling vir dienslewering en die verkiesingsdinamiek in die Thembelihle-munisipaliteit gaan keer dat Orania tydens vanjaar se plaaslike verkiesings in EFF-hande val.

In hierdie reeks word verskillende aspekte van Orania onder die loep geneem. Die reeks verskyn onreëlmatig.

Advertisements

2 comments

  1. Orania is die toonbeeld van hoe selfwerksaamheid toegepas word en hoe selfbeskikking suksesvol bedryf word. Dis dinge wat die EFF nooit sal verstaan nie. Die enigste party wat wel minderheidsregte en selfbeskikking verstaan en ook bevorder is die VF Plus.

  2. Verkiesings is nou verby en EFF kon nie hondhaar afmaak van die distrik waarin Orania in gelee is nie. Nou kan Orania weer fokus op die masiewe infrastruktuurontwikkeling wat tans aan die gang is. Daar is baie grond wat nou beskikbaar gestel is om huise te bou. Julle moet die Orania Inligtingskantoor kontak om meer inligting te verkry.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s