Nederduitse Gereformeerde Kerk se besluit oor homoseksualiteit is die regte besluit

Ek onthou jare gelede toe lees ek ’n boek van die psigoloog Shani Grové. Leef Ligter was die boek se naam. Grove is ’n interessante Psigoloog wat ek wel bewonder. Sy het ’n spesifieke belangstelling in die brein. Vandaar ook een van haar ander boeke Dankie Brein. En sy was altyd lief om die werking van die brein in leketaal te ondersoek in haar “selfhelp” boeke. Die menslike brein bevat ’n deel wat bekendstaan as die ‘oerbrein’ volgens haar. En dan is daar die meer gevorderde dele soos die grysstof. En volgens En Grové het die buitenste dele van die brein opgestel teenoor die ‘oerbrein’ of ‘reptielbrein’. Die oerbrein is irrasioneel en selfsugtug, en kom in werking wanneer ons emosioneel is oor ’n saak. Terwyl die meer gevorderde dele van ons brein die plek is waarmee ons eerder moet dink.

Dit was alles baie interessant vir my as kind, maar vandag weet ek nie of die oerbrein NET sleg is nie. Red ons oerbreine nie baie van ons verhoudinge soms nie? Want ons het ons families maar lief, al maak hulle ons ook hoe seer soms, bly ons maar lief. Want ons dink nie logies oor die wat ons liefhet nie.

Maar ja, godsdiens is nie een van die sake waaroor mense logies dink nie. Trouens, godsdienste roep hulle proseliete op tot irrasionele geloof.

Die besluit van die Nederduitse Gereformeerde Kerk om homoseksuele verbintenisse te aanvaar, illustreer weer hoe irrasioneel mense oor godsdiens is. Die mens moet dink met ’n tipe oerbrein oor godsdiens. Hoogs funksionele mense is godsdienstig. Hulle het universiteitsgrade en doen komplekse werke, koud en beredeneerd, maar wanneer hulle Sondae in die kerk inskuif, dan skakel die buitenste ontwikkelde dele van die brein af. Dan word hulle meegevoer in ’n emosiebelaaide rollercoaster.

Die Groote Kerk, die NG-kerk se moedergemeente in Suid-Afrika, in Kaapstad (Foto: Ossewa / Wikimedia Commons)

Ek meen, wanneer mens mense gaan oplei by ’n skool of kollege of universiteit, dan gebruik jy handboeke. En jy vind uit wie was die skrywers van daardie handboeke. Jy soek die sekuriteit dat daardie skrywers hoogs gerespekteerde mense is met ’n bewese rekord van navorsing. Jy wil nie sommer enige mens se skryfsels vat en mense daarmee probeer oplei nie. Maar wanneer die by geloofsake kom, dan gee daardie selfde mens nie ’n veer om wie die Bybelboeke geskryf het, wie die kanon saamgestel het, hoeveel teenstrydighede die Bybel bevat nie. Hoeveel wette daarin hullself ignoreer nie. Nee, al hierdie dinge is irrelevant want hulle glo maar soos pa en ma en soos almal want dis die regte ding om te doen.

Dit is presies ook so met die saak van minderheidsregte. Ons het groot oorloë in Suid-Afrika oor taal, en in die besonder Afrikaans. Minderhede se tale moet beskerm word! Minderheidsregte! So word daar dikwels (en met goeie reg) gehoor. Maar wanneer dit gaan oor minderhede se gelowe, dan sal daardie selfde mens wat so kon aangaan oor Afrikaans se minderheidsregte, nie huiwer om ongelowiges te kritiseer omdat hulle hul kinders by ’n “Christen skool” ingeskryf het nie.

Dit is hoe irrasioneel godsdiens mense maak.

Dit gaan ook so met die hele Belhar debat. Met Belhar was die groot vuishou mos altyd dat Belhar “in ’n bepaalde politieke klimaat” ontstaan het. Asof die Protestandse Reformasie nie in ’n bepaalde politieke klimaat ontstaan het nie! Asof die samestelling van die kanon nie teen ’n bepaalde politieke klimaat ontstaan het nie! Asof keiser Konstantein nie die onstaan van die Katolieke Kerk gebruik het om sy politieke ambisies te dryf nie! Maar as hy dit doen is dit seker fine.

En vir een of ander rede glo mense onverbiddelik dat die gesag van ’n Roomse sinode van 1700 jaar gelede swaarder weeg as die gesag van ’n Boere sinode in Pretoria in 2015. Die Katolieke het vandag nog steeds nie vroue as priesters aanvaar nie. Die Boere het wel.

Kyk ons na die Bybel self, dan sal ons sien die irrasionaliteit van geloof strek veel, veel verder. Volgens die Bybel in die boek Handeling van die Apostels (hoofstuk 15) moet gelowiges nie bloed eet nie. Maar mens sien geen predikant ooit preek teen daardie nat beesbiltong nie. Of daardie medium rare steaks van die restaurante nie. In die Eerste Brief aan die Timoteus hoofstuk 2 staan daar vroue nie duur klere en juwele moet dra nie en eenvoudig en nederig moet lewe. Trouens die Bybel beveel ook op plekke dat vroue moet stilbly by die samekomste. Ander sekswette is daar ook te vind in die Bybel, soos die gebruik om jou broer se suster te trou in die geval dat jou broer sterf. Bigamie was immers aanvaarbaar in antieke Judea, en so ook die besit van slawe.

Maar daardie een wet, daardie een sekswet wat deur die patriargale sisteem bly voortleef het, die anti-gay wet, daardie wet word nog uitgesonder, en dit word selfvoldaan uitgebasuin en verklaar tot die wil van God vir mense. God said, I believe it, that settles it…

Het God dit regtig gesê? Het God die kanon van tekste gekies? Het God daardie boeke geskryf? Nee. Mense het.

Die Bybel is deur mense geskryf en dit is die logiese verklaring vir die teenstrydighede. Meeste mense erken vandag die Bybel se teenstrydighede. Dit is reusagtige teenstrydighede. Nie net historiese teenstrydighede nie, maar ook teologies. Die waarheid oor hierdie kanon is dat dit deur mense geskryf is, en die kanon is deur mense saamgestel. En dit het gebeur in ’n pre-wetenskaplike wêreld. Moderne geskiedskrywing wat gekenmerk word aan die wetenskaplike metode, het eers na die Europese Reformasie aanvang geneem. En bo-alles getuig die teenstrydighede in die Bybel daarvan dat hierdie skrywers mense was. Gewone mense. Want hulle het verskillend gedink. Vat nou maar die boek Jakobus. Jakobus verskil teologies van Paulus se briewe, omdat Jakobus (wat moontlik geskryf was deur die broer van Jesus), self ’n wetsonderhoudende Jood was. Jakobus het geglo dat mens se geloof jou nie kan red sonder dade nie, en Paulus het net mooi niks hiervan gehou nie. Trouens in die brief aan die Galasiërs hoofstuk 2 verwys Paulus na “Jakobus se mense”. Hy het homself en sy volgelinge gesien as in kontras met Jakobus en sy volgelinge, wat die wet in totaliteit nagekom het, terwyl Paulus die wet nie as juis so belangrik gesien het vir saligheid nie.

Die proses om die wet af te skaf is ’n baie ou proses in die kerk. Dit het by Paulus begin. Dit het nie by die sinode in Pretoria begin nie.

Maar jong, mense dink nie reguit wanneer God in die prentjie kom nie. Daarom dreig van hulle nou om die NG kerk te vernietig.

Advertisements

2 comments

  1. Ek stem nie saam met die NG Kerk se onlangse besluite oor gays nie. Die mens kan nie God se Woord, die Bybel, verdraai en aanpas om hom te pas nie. Die NG Kerk moes gevra het wat sê God se Woord oor homoseksualiteit en dis duidelik dat hul dit nie gedoen het nie. God sê uitdruklik in Sy Woord dat homoseksualiteit verkeerd is. Is dit dan so moeilik om te verstaan? Die kerk is besig om op die verkeerde pad te loop en dis tragies, baie tragies.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s