Opinieplatform verjaar: Van komplimente tot doodsdreigemente

Die Afrikaanse opinieplatform het hierdie maand twee jaar oud geword! Dit was ‘n bewoë jaar. Harde debatte is gevoer, doodsdreigemente aanlyn gestuur en artikels is opgelaai. Nie Jacob Zuma, maar Sunette Bridges is die persoon waaroor op ons webwerf die meeste geskryf, gesê en geskree is.

Een van die eerste artikels wat hierdie jaar (van Augustus 2014 tot en met Julie 2015) populêr was, was die artikel van Barend van der Merwe oor Steve Biko en Steve Hofmeyr (Steve Hofmeyr is geen Biko). In die tyd, toe Steve getweet het dat “swart mense die argitekte van apartheid was”, het Christian vir Beeld uitgevra wat die strategie agter ‘n ope brief van ‘n nuusredakteur was (Was ope brief vir Steve ‘n plan van Beeld-redaksie?).

Maar onderwerpe soos Steve Hofmeyr, Jacob Zuma, Orania, Sunette Bridges en transformasie is baie populêr. Veral toe  in April die beeldenstorm losgebreek het en talle monumente en beelde geskend is en ‘n omstrede betoging in aanwesigheid ‘n terroristiese organisasie op die Kerkplein plaasgevind het, is verskeie artikels van Die Afrikaanse opinieplatform wyd versprei. Nadat AfriForum en Orania onder skoot gekom het na ‘n berig in Beeld dat hulle die betoging vermy het weens die aanwesigheid van die Kommandokorps, het dié organisasies die artikel Sunette, Steve se Kerkpleinbetoging: Kommandokorps die probleem gebruik om hul standpunt te verduidelik. ‘n Paar dae later het Christian sy artikel oor Sunette Bridges (Hoe Sunette Bridges Afrikaners van hul toekoms beroof) geskryf. ‘n Paar weke het niks gebeur nie, tot Bridges die berig self lees en dit in Junie tesame met ‘n kommentaar daarop op haar Facebook-blad deel.

Die artikel het amper viral gegaan. Dit is duisende kere gelees en gedeel en honderde reaksies is op verskillende platforms (hier op ons webwerf, maar ook op Facebook) geskryf. Talle doodsdreigemente is vir Christian gestuur.

Die redaksie van Die Afrikaanse opinieplatform veroordeel doodsdreigemente aan ons skrywers. Daar sal opgetree word teen dreigemente of vernederende kommentare wat regstreeks teen ons skrywers gerig is.

Die artikel oor Sunette Bridges is darem die mees gelese artikel van 2014-2015.

‘n Ander artikel (Orania, rassisme en joernaliste: Waar is die waarheid?) is ook wyd versprei, baie gelees en meer as 100 keer gedeel. Ook het ‘n artikel uit 2013 waarin geskryf is dat die DA van koers moet verander en ‘n eie diskoers moet gaan gebruik (Moet die DA die ANC-alternatief wees?) hierdie jaar waarheid geword met die #Vision2029-veldtog wat onder Mmusi Maimane gevoer word. Hoewel die artikel waarskynlik die koerswysiging van die DA nie beïnvloed het nie, bewys dit dat ons skrywers geen bog skryf nie!

Die afgelope jaar het hierdie en ander artikels bygedra aan die groei van ons webwerf. Die aantal besoeke en lesers het albei sowat verdubbel ten opsigte van ons eerste jaar.

(Foto: Kerri-Jo Stewart / Wikimedia Commons)

Ons besef die webwerf kan nie bestaan sonder sy lesers (ja, dis u!) nie. Ons wil u darem bedank vir u bydraes in die vorm van kommentare, maar ook in die vorm van artikels. U kan naamlik u eie artikels oplaai en ons sal dit vervolgens (moontlik onder ‘n skuilnaam) publiseer.

Die mees gelese lesersartikel van 2014-2015 is Lesersartikel: Steve-in-die-politiek kan ‘n positiewe bydrae lewer. Ons dank Frik Lotz vir sy bydrae (en ander bydraes). Ons wil ook die ander lesers wat artikel opgelaai het, bedank!

Baie dankie vir almal wat tydens ons tweede bestaansjaar ‘n bydrae gelewer het of net ons artikels gelees het. Ons hoop ons kan nog lank voortgaan om debat binne die Afrikaanstalige gemeenskap te stimuleer!

Advertisements

2 comments

  1. Nou ja, geluk Frik! Ek is bly dat die Afrikaanse Opinieplatform ‘n plek is waar daar aan diverse mense ‘n platform gegee word om te publiseer. Dit is uniek op baie plekke en definitief in Afrikaans. Daar is nie net een gedagtestroom wat hier seevier nie. Dit is net jammer dat daar soveel vloektaal op die artikel oor die sangeres was – iets wat die opinieplatform bietjie besoedel het. Ek hoop van harte dat lelike taal soos daardie nie altyd geduld sal word nie, en dat uiteenlopende mense op beskaafde wyse op hierdie platform sal kan debatteer so lank as wat dit nog bestaan.

  2. Dis vir my altyd n plesier om te skryf en n mening te gee oor n spesifieke saak. Sodoende kan daar dan gedebatteer word en verskeie menings gegee word. Soms sal on saamstem en ander kere weer nie. Die Afrikaanse Opinieplatform is daar vir elkeen wat iets wil sê oor n spesifieke saak. Ek moedig ander lesers aan om ook artikels te skryf want sodoende kan daar nog meer opinies wees oor baie sake. So, begin dink aan onderwerpe om te skryf en laat die debatte begin!

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s