Hoekom het Afrikaans nouliks inklusiewer geword?!

Die afgelope jare is daar ‘n debat of Afrikaans genoeg transformeer. Aan die een kant skree die regering dat Afrikaanse skole, universiteite en ander kulturele instellings nog “te wit” is, terwyl ander liewer niks wil verander nie.

Ek het altyd gewonder hoekom transformasie altyd in Engels gedoen moet word. Ook hoekom die verantwoordelike Afrikaanse instellings nie daarin kon slaag om in Afrikaans te transformeer nie.

Maar êrens is dit baie duidelik. In teenstelling tot Engels in Suid-Afrika, het Afrikaans ‘n dominante groep wat eienaarskap oor die taal opeis: Afrikaners.

Die probleem met Afrikaans as deel van die transformasiebeweging is dat Afrikaanse instellings nie eens ‘n duidelike weerspieëling van sy gebruikersklas het nie. Die media en ander belangrike kulturele uitings word steeds deur Afrikaners gedomineer. Natuurlik, Afrikaners besit die grootste deel van Afrikaanssprekendes se ekonomiese krag. Dit is dan ook ‘n natuurlike refleks dat dié groep dominant is in kulturele uitings. Maar my probleem is die mate van eksklusiwiteit . Die meerderheid van die Afrikaanse musiekvideo’s het byvoorbeeld net Afrikaners as figurante. Dit is hoekom die musiekvideo’s van “Met jou klere aan” van Leah en “Sing Afrikaner Sing” van Bok van Blerk so nuut voel: die twee video’s se figurante is nie net Afrikaners nie.

Weerspieëling van die nasionale demografie is verwerplik en selfs rassisties, maar totale eensydigheid is ook verwerplik. Almal moet kan identifiseer met Afrikaans en darem moet almal gesien (kan) word.

Die teenstanders van Afrikaans sowel as die bemagtigde sprekers daarvan fokus daarop dat Afrikaans ‘n gemeenskapstaal sou wees en slegs een gemeenskap sou dien. Dit is nie net verkeerd omdat dit nie so is nie – sien die demografie van Afrikaanssprekendes – maar ook omdat taal ‘n bate vir almal behoort te wees.

Die suile van Die Afrikaanse Taalmonument verteenwoordig die inklusiewe agtergrond van die taal (Foto: ECSequeira / Wikimedia Commons)

Die twee kampe maak gebruik van dieselfde foefie: identifisering. Kan ek met die taal identifiseer. Ja? Dan omarm ek Afrikaans. Nee? Dan moet dit verdwyn, omdat dit nie vir my toeganklik is nie. So word die lyne wat tydens apartheid gestel is deur sosiale konstruksies in stand gehou, transformeer Afrikaans nie en is transformasie in Afrikaans heeltemal onmoontlik.

Vir my as Nederlander en Nederlandssprekende bied die taal genoeg moontlikhede om my daarmee te kan identifiseer: om deel te wees van die groep gebruikers en om nie uitgesluit te voel nie.

Hoe anders is dit vir die meeste Suid-Afrikaners. Identifisering werk veral op basis van gedeelde etnisiteit, taal, kultuur, geskiedenis, afkoms en – in sommige lande, soos Suid-Afrika – ras. Om Afrikaans ‘n bate te laat wees vir almal in Suid-Afrika, moet daar in Afrikaans brûe gebou word óór daardie teenstrydige eienskappe.

Waar die etnisiteit, kultuur, geskiedenis, afkoms van Suid-Afrikaners verskil en ras ‘n twispunt is, is dit baie belangrik vir sprekers van ander tale dat Afrikaans beginpunte het om deel te neem. ‘n Voorwaarde is dat dié beginpunte nie net klein projekte van die Stigting Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) of die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV) is nie, maar dat die beginpunte én die groeimoontlikhede vir tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans binne die taal wyd in die hoofstroom beskikbaar is.

My punt is dat Afrikaans geen gemeenskapstaal moet wees nie, maar ‘n openbare taal. As openbare taal dien dit nie slegs sy moedertaalsprekers nie, maar alle Suid-Afrikaners, waarmee die taal in sy hoë funksies behoue kan bly. Taal is ‘n middel vir bemagtiging en Afrikaans kan danksy sy hoë onderrigstandaarde, ekonomiese vooruitsigte, diversiteit en status as kleinste wêreldtaal (saam met Nederlands) ‘n kragtige hulpbron wees in die stryd teen armoede. En tans word dié hulpbron onderbenut.

Hier lê ‘n taak vir die media, skole, universiteite, verenigings en taal- en gemeenskapsorganisasies, maar ook by elke gebruiker van Afrikaans.

Dit is ‘n fout gewees dat daar geen groot samesprekings tussen daardie instellings was nie om oor ‘n strategie vir die transformasie van Afrikaans en – vir die openbare instellings – ‘n strategie vir transformasie in Afrikaans. Nie net om alle moedertaalsprekers van Afrikaans ‘n ‘n handevat te gee nie, maar ook om tweede- en derdetaalsprekers by die taal te betrek.

Die gevolg het dat elke instelling sy eie planne gemaak het en nou afsonderlik deur die teenstanders van Afrikaans geteiken word.

En dit is my insiens nie die enige fout nie. Hoewel die Afrikaanse koerante redelik daarin geslaag het om te transformeer, weier die koerante ‘n roepstem vir die breë, inklusiewe Afrikaanssprekende gemeenskap te wees. Hoewel hulle – dalk tereg? – weier ‘n eksklusiewe Afrikaner roepstem te wees, slaan die koerante die plank behoorlik mis as dit gaan oor die ondersteuning van Afrikaans as openbare taal. Dit is ‘n verlore kans om te toon dat transformasie van Afrikaans en te verduidelik transformasie in Afrikaans moontlik is. Die stilswye (en gebrek aan aktivistiese mediaveldtogte van die media self) verswak die posisie van Afrikaans as openbare taal.

Die universiteite het so moontlik nog ‘n groter fout gemaak. Waar universiteite dikwels ‘n plek is waar intelligensia vastrapplek het en kulture geborg word, het die Afrikaanse universiteite die fout gemaak om – uit naam van transformasie – slegs gebruikers van Afrikaans te word en hulself nie langer as mede-eienaar van die taal te sien nie. Dit het die universiteite in die latere proses van transformasie magteloos gemaak. Die universiteite, behalwe die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, is darem nie by magte om die benodigde transformasie van Afrikaans deur te sit, sodat latere transformasie in Afrikaans moontlik sou wees. In plek daarvan moes die Universiteit Stellenbosch Engels invoer om sy transformasiedoelwitte te behaal. Waar transformasie aan Suid-Afrikaanse universiteite nou sy finale fase ingaan – die transformasie van die universiteite se wese, hul harte en boude – het die onderwys in Afrikaans nou onder skoot gekom. Dit was nooit gebeur as die universiteite gekies het vir ‘n trajek van transformasie in Afrikaans, met Afrikaans as medisyne teen eksklusiwiteit.

Die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein (Foto: Carla de Villiers / Wikimedia Commons)

Dit is hoekom ek die termyne van prof Russel Botman en prof Jonathan Jansen as vise-kanseliers by die Universiteit Stellenbosch en Universiteit van die Vrystaat nie as ‘n sukses beskou nie. Hoewel die rol van Jansen as ‘versoener van ‘n nuwe generasie’ (volgens Nederlandse media in 2010) ‘n rol het gespeel in my keuse om aan Kovsies te gaan studeer, het die gebrek aan ideologiese ontwikkeling van die konsep van versoening (met Afrikaans as brug) en die gebrek aan voortgang van transformasie in Afrikaans (!) my diep teleurgestel. Dat Afrikaans op Kovsies nou onder skoot gekom word, verbaas my niks nie.  Die huidige weerstand teen Afrikaans op Kovsies is ‘n direkte gevolg van ‘n verkeerde taalbeleid waarbinne die transformasie van Afrikaans nouliks moontlik is, waar nie-Afrikaanssprekendes nouliks word genooi dinge om in of met Afrikaans te doen. Tesame met die mate waarin Afrikaans aan Kovsies van nie-Afrikaanstalige studente weerhou word (aankondigings is byvoorbeeld slegs in Engels), kon Afrikaans ‘n nuwe negatiewe stigma kry: as middel tot voordeel van ‘n klein groepie studente.

Natuurlik kon dit ook sover kom, omdat transformasie weens politieke redes nie langer ‘n middel is in die stryd vir meer inklusiwiteit en beter en gelyke toegang vir almal, maar ‘n doel op sy eie geword het. Nou Afrikaans langs die sykant staan, kan hy maklik uitgegooi word.

Hierdie artikel is nie net ‘n beswaar teen die diskoers wat Jonathan Jansen (en voorheen ook Russel Botman) probeer voer (transformasie in Engels), maar ook ‘n aanklag teen die beleidsvoorstelle van Dan Kwadi, vise-kanselier van die Noordwes-Universiteit, wat met sy nuwe planne die versigtige transformasie van Afrikaans en transformasie in Afrikaans op die Potchefstroomkampus die nek omdraai. Sy planne sal Afrikaans as openbare taal definitief afskaf en tot ‘n gemeenskapstaal maak soos op die Universiteit van die Vrystaat en Universiteit Stellenbosch lankal gebeur het.

Die punt is dat Afrikaans nie die afskaffing van sy hoë funksies moet vrees nie, maar eerder sy beperkte vermoë om in die openbare lewe ‘n vastrapplek vir almal (ook tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans) te wees. Slegs dan sal Afrikaans vir die meeste mense aanvaarbaar wees en sal sy hoë funksies behoue bly.

Dus, om Afrikaans as gemeenskapstaal te sien, gaan nie help nie: dié definisie is te eksklusief. En dít gaan die ondergang van die taal as taal in die openbare lewe wees. Afrikaans behoort darem ‘n openbare taal wees – aanvaarbaar vir en gebruik deur almal.

Advertisements

2 comments

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s