Bied positiwiteit van die DA en Orania ‘n beter toekoms?

Weens die gemors wat die ANC op Suid-Afrika afdruk, het daar heel wat negatiwiteit ontstaan onder talle mense wat nie direk toegang tot die mag het nie. ‘n Mens kan op verskillende maniere daardie gemors benader. ‘n Mens kan dit aksepteer, ‘n mens kan dit kritiseer of ‘n mens kan daarvan wegbeweeg en ‘n eie toekomsvisie daarstel.

In ‘n omgewing waar die debat heeltemal ontspoor het en vasgetrek is deur ekstreme standpunte en aktivistiese taal is dit saak, as jy regtig ‘n volhoubare koers wil vaar, dat jy van daardie diskoers wegbeweeg. Sodra jy insien dat die huidige debat nie-volhoubaar geraak het, moet vermy om deel van daardie debat te word. Jy sal ‘n alternatief moet stel, sodat jou mening kan groei en ondersteuning kan vind.

Altans, dit is die teorie.

Hierdie teorie word veral gebruik vir groot idees wat nie baie vinnig werklikheid word nie, Twee van die mees opvallende idees is die volkstaatidee asook die idee van ‘n DA-regering vir die hele Suid-Afrika. Berge moet versit word om daardie idees werklikheid te laat word.

Veral die volkstaatidee het al baie mislukte introduksies gehad, onder meer deur die AWB, die amptelike Volkstaatraad, die Onafhanklike Afrikaner Selfbeskikkingekspedisie (OASE), en die Boere-Afrikaner Volksraad (BAV). Waar die AWB se rassistiese taal die opsie gekelder het, het verdeeldheid binne die Volkstaatraad dié poging laat misluk. OASE, wat op positiewe grondslag begin het en selfs steun van Steve Hofmeyr gekry het, kon geen positiewe resultate bereik nie. Hoewel die webwerf baie en interessante artikels oor selfbeskikking bevat, het OASE se Facebook– en Twitter-blaaie plekke van negatiwiteit geword. Negatiwiteit is die strategie van OASE om steun te kry. Die BAV het egter vir ‘n David-teen-Goliat-strategie gekies en het als direkte teenstander niemand minder as die ANC-regering gekies. Die ANC en die regering het soveel gekombineerde mag, dat dit per definisie ‘n doodloopstraat is.

Orania het egter ‘n ander strategie gekies. Orania fokus op sy eie suksesse in stede van die mislukkings van die ANC. Tewens het die Orania Beweging afskeid geneem van verregse organisasies en dié in 2010 – met ‘n brief in Beeld – daarvan beskuldig dat hulle Orania vir hul eie doele misbruik. Hoewel Orania nou nie langer deur ander organisasies misbruik word nie – of Orania is sterk genoeg om hierdie stereotipering te oorkom – is die ideologie rondom die ‘volkstaat’ steeds problematies, omdat dit sentraal staan in verregse, negatiewe en rassistiese propaganda, byvoorbeeld van die Kommandokorps of die Afrikaner Weerstandsbeweging. Omdat die dorp Orania egter ‘n werklikheid is, en die volkstaat (nog) nie, het Orania darem in terme van homself begin praat: Orania, van dorp tot stad. Die volkstaat-konsep is steeds deel van Orania se ideologie, maar minder op die voorgrond. Daar is selfs ‘n nuwe stigting met kantore in Orania gestig, die Hartlandstigting, wat die idee van ‘n volkstaat rond Orania uitdra. So kon die Orania (Beweging) daarin slaag om van sekere negatiewe assosiasies ontslae te raak en aansienlike steun in Europa te verwerf.

Die Orania Beweging het ‘n positiewe sfeer rondom die dorp gevestig, wat geresulteer het in ‘n groeiende aantal inwoners (van 900 in 2011 na 1100 in 2014) en ‘n aantal groot bouprojekte, soos die Stokkiesdraai en Die Ou Karooplaas winkelsentrums en groot behuisingsprojekte soos die huurhuise in die Robynlaan, die Soetdoringkompleks in die Gannaboslaan, die eerste-eie-eiendomshuise aan die Kloekiesingel en tientalle huurhuise in Sonpark. Dié positiewe berigte word weer gebruik om nuwe ondersteuning te kry, sodat weer nuwe projekte afgeskop kan word, ens.

Orania langs die Oranjerivier (heel bo), met Orania-Wes (onder) en Orania-Oos (midde), die Oewerpark (links) en Kleingeluk (heel regs) (Foto: Orania Beweging / Wikimedia Commons)

Onlangs het ook die Demokratiese Alliansie hul mediastrategie ingrypend gewysig.Waar Helen Zille voorheen op die foute van die ANC gewys het, is die rol oorgeneem deur Julius Malema se EFF.  Dit het spannings tussen die DA en EFF veroorsaak. Die debat rondom die foute van die ANC het – nes by die volkstaatidee – geheel ontspoor deur die klompie hardliners van die EFF. Die DA moes sy strategie wysig om regtig ‘n toekomsalternatief vir die politiek van vandag te bly en nie self daar in te versink nie. Nadat Mmusi Maimane oorgeneem het by Helen Zille as partyleier, fokus die DA op nasionale vlak nie langer eksklusief op die foute van die ANC nie, maar fokus die party ook op sy suksesse in die Wes-Kaap.

Die DA wil sy suksesse baie graag eksporteer na ander dele van Suid-Afrika, maar die DA sê – baie tereg – dat die kiesers eers die DA in die mag moet stem. Anders kan die DA mos nie sy beleid uitvoer nie. Die veldtog #Vision2029 vra die kieser om te droom van ‘n toekomstige Suid-Afrika na 10 jaar DA-bestuur vanaf 2019. Die DA ignoreer die groot olifant in die kamer en vra die kieser die bykans onmoontlike om te doen: dat sóveel mense DA stem in 2019 dat die party die land se regering kan oorneem.

Die DA vra mense om weer terug te keer na die ou ideale van die Madela-era. Dit maak gebruik van dié positiwiteit, wat nie deur die ANC besoedel is nie. Die naam van daardie party word nie eers genoem in die #Vision 2029-veldtog nie.

Lindiwe Mazibuko, Patricia de Lille en Helen Zille onthul die verkiesingsplakkate van hul 2011-verkiesingsveldtog (Foto: DA / Wikimedia Commons)

Hoewel die doelstellings van die Orania Beweging en die Demokratiese Alliansie baie verskillend is, gebruik die organisasies dieselfde mediastrategie. Hul doelgroep is verskillend (die DA probeer alle Suid-Afrikaners te werf; Orania probeer Afrikaners te werf), maar hul posisies binne hul doelgroep lyk baie dieselfde. Hulle het beide ‘n vastrapplek, maar staan nog altyd net so buite die werklike geveg binne hul gemeenskap. In die breër Suid-Afrika word bepalende gevegte gevoer binne die drie-alliansie van die ANC, die SAKP (kommunistiese party) en die vakbond Cosatu, daar speel die DA slegs ‘n opposisie-rol. Binne die Afrikaner-gemeenskap word daar ‘n duidelike geveg gevoer tussen die Solidariteit Beweging en die Afrikaanse koerante en hul rubriekskrywers. Die Orania Beweging staan net-net buite hierdie geveg.

Die steun van die DA sowel as die Orania Beweging groei egter so vinnig – mede danksy hul mediastrategie – dat dit faktore van belang binne hul doelkaders geword het. Die DA sowel as die Orania Beweging het leiers en woordvoerders van hul doelgroepe geword, of die huidige maghebbers daarvan hou of nie.

Laat die DA en die Orania Beweging hul nuwe posisies wys gebruik, want hul drome kan steeds in duie val. Nie meer deur toedoen van buite af nie, maar slegs hul eie optrede kan hul drome maak óf breek.

Advertisements

4 comments

  1. Daar is geen toekoms vir die Afrikaner onder die DA nie. Die DA is niks anders as n DA lite nie. Hul ondersteun dan regstellende aksie, BEE, grondhervorming en is beslis nie n ondersteuner van selfbeskikking nie. Die enigste hoop en toekoms vir die Afrikaner en ander minderheidsgroepe is minderheidsregte en selfbeskikking.

  2. Minderhede se regte word maar altyd vertrap. Kyk hoe gaan dit met godsdiens is skole. Waar kleindopers in die meerderheid is word daar vir grootdopers se kinders vertel hulle gaan brand in die hel. Waar grootdopers die meerderheid is, werk dit andersom. Ateiste is altyd in die minderheid in Suid-Afrika, so die se kinders word permanent afgeransel met die dreigemente dat hulle in die hel sal brand.

    So gaan dit orals met minderhede. Hulle kultuur en regte word maar altyd op getrap.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s