Van Niemand(t) na Iemand: Dit is tyd dat die NG kerk leiding neem in die aanvaarding van homoseksualiteit

Wie onthou nog die tyd in 2011 toe Nelus Niemandt verkies was as moderator van die NG kerk se algemene sinode? “Niemandt verkies tot moderator” – het die Beeld se opskrif dit uitbassuin. Sommige mense het nog gegiggel oor dié opskrif, en met reg. Die NG kerk, nes menigte instelling in ons samelewing, het ’n binnekring – jy is in of jy is uit. Nie enige persoon word verkies as moderator van hierdie eeue oue instelling nie. En Niemandt kom boonop uit ’n predikantfamilie, in die besonder wat sy skoonpa betref, wat in 1982 tot moderator verkies was. Vir menigte lidmaat en ander tipe NG geaffilieerdes soos ekself, was hy inderdaad maar net nog ’n “Niemand(t)”, net nog ’n standaard NG moderator.

Maar vier jaar later is Niemandt nou oornag skielik op mense se lippe, nadat hy gepleit het vir die volkome aanvaarding van homoseksuele mense binne die NG kerk. Hierdie ontwikkeling volg nie lank nadat dit aan die lig gekom het dat homoseksuele huwelike nou in al die state van die Verenigde State van Amerika (VSA) wettig verklaar is nie. Suid-Afrika is natuurlik histories en in wetlike terme ’n leier op die gebied van gayregte. Ons Grondwet beskerm die regte van mense se seksuele oriëntasie. Sedert Suid-Afrika se Grondwet in 1996 aanvaar was, het verskeie lande ook die wettiging van homoseksuele huwelike wettig verklaar. Onlangs het Mosambiek die straf van homoseksuele dade laat vaar. Maar met die VSA se wettiging van homoseksuele huwelike, is dit asof daar nou ’n reuse skuif plaasgevind het weens die VSA se globale posisie.

Hoeveel geleenthede is nie in die verlede gemors deur die kerke in die algemeen en die NG kerk in die besonder om uit te reik na die gay gemeenskappe van ons land nie?

En wat is die verskoning wat hiervoor gebruik word? Die antieke sekswette soos opgeteken in die antieke boeke van die Joodse Talmud, in onse land bekend as die sogenaamde ‘Ou Testament’. Die storie van die Bybel in ons gemeenskappe is die storie van hoe mense ’n teks selektief lees, en slegs die dele wat by hulle spesifiek kultuur inval tot wet wil verklaar, en wil verklaar tot die wil van God vir die mensdom.

As ons kyk na die antieke sekswette, dan was dit byvoorbeeld geen fout om seks met jou slawe buite die eg te he nie. En as jou broer gesterf het, dan was jy verplig om met sy vrou te trou. En so is daar baie dingetjies wat in daardie antieke boeke staan wat moderne mense nie tot op die letter navolg nie, maar net dit wat hulle van hou, dit wat by hulle spesifieke kultuur inval, ja DIT word tot goddelike en heilige reg verklaar en verhef.

Die NG kerk staan nie hier voor ’n hekkie waaroor dit kan struikel nie. Dit staan voor ’n geleentheid om by die wenpaal uit te kom. Die NG kerk het in die verlede dikwels verkeerd geoordeel, en foute gemaak. Vroue is onderdruk. Apartheid is nagepraat. Maar die NG kerk het ook reuse koersaanpassings gemaak wat ons samelewing gedien het, en wat gehelp het om verhoudinge te normaliseer, en gehelp het om mense te leer om meer verdraagsaam te wees.

Ons NG kerk staan weer voor so geleentheid. Daar gaan eendag teruggekyk word na 2015 en gesê word – dit was die jaar waar die NG kerk gekies het om homoseksuele mense te aanvaar, of dit was die jaar waarop hulle maar weer teruggeval het op die ou sondige weë van werping, en van teologiese en Bybelse misbruik en vergrype.

Ecclesia semper reformanda est!

Advertisements

10 comments

  1. Dit gaan nie oor wat mense sê en of hul dink homoseksualiteit is reg nie, maar oor wat God sê in Sy Woord. Duidelik staan daar geskrywe in Sy Woord, die Bybel, dat homoseksualiteit onaanvaarbaar is. Punt.

  2. Die Bybel bevat antieke wette. En dit word selektief toegepas. Die Bybel leer eintlik dat gaymense vermoor moet word. Maar Bybellesers lees de laaste boek in die Bybel selektief.

    • Gaymense vermoor mekaar, hulle is die helfde van Reeksmoordenaars en moord is so veelvoorkomend, dat dar selfs baie voorbelde van prominente gaymense wat andere gaymense vermoor het:

      – Gianni Versace vermoor van Andrew Cunanan; Wikipedia: “After dropping out, he settled in the Castro District of San Francisco.[2] While there, he frequented high-class gay bars and sold sex to wealthy older men,[2] and became involved in petty theft and drug dealing.”

      – Rudolf Moshammer vermoor van Herisch Ali Abdullah; Wikipedia (Duits): “Abdullah wurde im November 2005 für schuldig befunden, Moshammer nach einem Streit über die Bezahlung homosexueller Handlungen mit einem Kabel erdrosselt zu haben.”

      Is daar net een eenderse voorbeeld in die heteroseksuele wêreld?

      • Addendum:

        Die punt is dat dit nie “antike wette” vir “antike probleme” is nie, maar dat baie dinge – en besonder probleme van die samelewing – menslik konstant is.

        In ander woorde: Ja ons kan van die geskidenis (en dus ook die Bybel) baie leern om probleme van die samelewing te oploos.

  3. Frik ek aanvaar jou mening. Dit is jou mening en dis goed so. Jy en die Vryheidsfront Plus hou nie van gaymense nie. Die Vryheidsfront Plus wens ook nie ‘n gaymens geluk met hulle prestasies nie, soos ons weet, omdat dit bots met hulle anti gay sentiment:

    http://www.mambaonline.com/article.asp?artid=5423

    Ek en jy dink nou maar eenmaal verskillend oor hierdie dinge.

    Vir my part kan ek net die grootste waardering uitspreek teenoor Nelus Niemandt. Hy het die moed om sy mening te lug en om homself ongewild te maak.

    • Barend, jy het die nie verstaan nie.

      Dis nie net “Frik se mening”, dis die mening van die outeure van die Bybel. Dis ‘n feit, maak nie saak nie of jy ‘n Christen is of nie.

  4. Dit is duidelik dat die skrywer waarskynlik self in ‘n gay verhouding is of naby aan een staan, gevolglik sy onbybelse en pro-gay standpunte.

    Die NG kerk het nou al soveel begin oorhel na die kommunisme en struggle-teologie, dat die oorklim van die gay-hekkie net nog ‘n verdere terugwaartse, linkse, onchristelike en liberale stap sal wees.

    Homoseksualisme – soos egbreek, diefstal, moord, ens. – is als onchristelike dade. Punt. En om die VSA as voorbeeld uit te wys, is ‘n baie swak voorbeeld, want die VSA verbreek en vertrap als in die wereld wat reg en nasionalisties is.

    Dat die NG kerk foute gemaak het in die verlede is waar, maar deesdae maak hulle meer foute as ooit tevore, en dit is een rede hoekom die kerk se ledetal daal. Ek is een so ‘n lidmaat wat nie die manteldrraaiing langer kon aanvaar nie.

    Die kwasi-kommuniste in beheer van die NG kerk en by die kweekskole, is heeltemaal uit voeling met ons op grondvlak. En … apartheid is NIE sonde nie, maar ‘n God-ingestelde wet. Die NG kerk se belydenis dat apartheid sonde is, is self ‘n sondige daad…

  5. Verstaan nie jou argumente nie Robbie maar dankie. Verskil steeds van jou. Homoseksuele mense moet aanvaar word in die kerk. Dit is hoog tyd dat verandering kom want die Bybel word selektief gelees. Mense pas net daarin toe wat hulle van hou. Wat by hulle kulture en vooropgestelde idees pas.

  6. Mense probeer gedurig God se Woord verander om hul te pas. God verander nie en Sy Woord, die Bybel verander ook nie. Die Bybel is nie net een of ander antieke storieboek nie, dis waar God met ons praat en as Hy sê homoseksualiteit is onaanvaarbaar dan is dit onaanvaarbaar! Daar hoef dus geen debat te wees of dit reg of verkeerd is nie. God gee duidelik Sy antwoord in die Bybel en hoe mense dit nie kan verstaan nie, nou ja,dit weet ek nie. God sê dis onaanvaarbaar. Sela.

  7. Nee. Ek is nie self homoseksueel nie. Dit gaan oor die selektiewe toepassing van die antieke wette. Ek hoor nooit predikante wat preek teen Jan Braai nie. Tog staan dit daar in die boek Handelinge van die Apostels hoofstuk 15 dat jy nie bloed mag eet nie. Maar Jan Braai maak nooit sy steaks behoorlik gaar nie.

    Die probleem in die kerk is dat mense die wet selektief toepas. Hulle soek hulle kulturele voorkeure uit en heg Bybelversies daaraan en wil dit dan tot God’s wil vir die mensdom verklaar. Maar hulle maak een fout, hulle gaan selektief om. Uiters selektief.

    Wie het begin met die afskaffing van die wet? Dit was die apostel Paulus self. Trouens, as hy dit nie gedoen het nie, dan was Suid-Afrika nie vandag ‘n Christelike land nie. Paulus se kosmopolitaanse visie het die kerk laat versprei onder nie-Jode. Die kerk sou gesterf het, want dit het aanvanklik nog besnydenis en die volle navolging van die wet verkondig. Tot vandag nog pas elke denominasie die wet selektief toe en dit veroorsaak redelike klomp twis en tweespalt. Elke ou stig sy eie denominasie.

    Self is ek nog NG. Ek is self nie aktief as NG lidmaat nie, maar ek het nie die kerk eintlik verlaat nie. Maar dis ‘n NG debat hierdie. Al rede hoekom ek vermoed die gesprek ander reaksionere predikate so ontstel is omdat dit die valshede van hulle eie denominasies beklemtoon.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s