Analise: Internasionale Afrikaner-politiek en die Poetin-Zuma-alliansie

Daar bestaan onder Afrikaners baie steun vir die Russiese president Poetin. Herman Toerien het op Maroela Media hierdie vraagstuk ontleed in “SA keer rug op die Weste“, maar hier gaan ons nou ‘n bietjie dieper op die verskynsel van internasionale Afrikanerpolitiek in.

Die feit is dat Afrikaners nog nooit die kans gehad het om op normale wyse deel te neem aan die geopolitieke spel nie. Eers was Afrikaners “deel” van Nederland, daarna van die Britse ryk. Selfs tydens die onafhanklike Boererepublieke was onder Britse susereiniteit. Hulle kon sodoende nie deelneem aan die Eerste Vredeskonferensie in 1899 in Den Haag.

Toe die Afrikaner die Republiek van Suid-Afrika in 1961 gestig het, was dié land niks anders as ‘n internasionale paria. Suid-Afrika was die teiken en kon skaars sy eie buitelandse beleid voer, met uitsondering van die kontakte met Israel en die Republiek China/Taiwan.

Minister Viljoen (Arbeid, Pos- en Telekommunikasie) besoek Nederlandse besighede soos Hoogovens, Royal Dutch Shell en Mijnbouwmaatschappij Biliton in 1975. Sy besoek is oorskadu deur proteste teen sy wandade as minister van Kleurlingsake (1955-1970). (Foto: Nationaal Archief/Wikimedia Commmons)

Weens sy geskiedenis van onmag het die Afrikaner ‘n hang na magtige bondgenote en stabiliteit. Volle demokrasie kan hierdie stabiliteit nie lewer wanneer die Afrikaner hom van moreel verkeerde standpunte bedien. Omdat talle Afrikaners nog in terme van ras dink, het die Afrikaner die morele swakke grond aan sy syde. En demokrasieë hou nie van daardie tipe moraliteit nie, omdat as ‘n mens enigiets in ‘n demokratiese staat wil bereik die morele hoë grond moet betree. Demokraties gekose leiers in werklike demokrasieë sal dus tans nie die Afrikaner steun nie. Tensy die Afrikaner in terme van kultuur gaan dink.

Sover lyk dit talle Afrikaners se keuse om president Poetin te steun te verklaar. Maar dit beteken nie dat die keuse logies is nie.

Die Afrikaner het in 1994 die beskikking oor die staat se strukture en daarmee oor diplomatieke moontlikhede om met ander state te skakel verloor. Die hoogste staatstruktuur wat tans nog deur Afrikaners besit word – vir die Afrikanersaak – is die Orania Verteenwoordigende Raad. Hoewel die tydelike munisipale wet (die Oorgangswet op Plaaslike Regering) van 1993 in 2000 met die instelling van ‘n nuwe munisipale stelsel herroep is, het die Noord-Kaapse regter besluit dat Orania se verteenwoordigende raad (transitional council) bly bestaan tot Orania ‘n skikking met die regering getref het oor die status van die dorp. So’n skikking is nog altyd nie getref nie.

Indien die Afrikaner hom tot die buiteland wil rig, sal die raad dalk ‘n amptelik-diplomatieke rol kan speel. Die raad is egter slegs ‘n plaaslike raad en sal darem net op sy vlak – byvoorbeeld deur ‘n stedeband – kan funksioneer. So’n stedeband word deurgaans gesien as diplomatieke kultuur-politieke bande.

Maar om te kan sien hoe Afrikaners in ‘n interasionale arena op hul eie kan funksioneer, moet ons kyk na die drie tipes buitelandbeleide: kultuur-politiek, ekonomies-politiek en geopolitiek.

Die Afrikaner het geen eie staat of staatstrukture nie en darem is dit sinneloos vir Afrikaners om geopolitiek probeer speel. Europese lande walg gewoonlik van geopolitieke speletjies en reageer gewoonlik op Rusland of China se ekspansionisme. Buitendien is die Afrikanersteun vir Poetin baie vreemd, aangesien hy die ou is wat Zuma sy internasionale reisies bied. Rusland probeer sy belange in Suid-Afrika te verdedig deur die weste te verdring. Zuma is daarby in Poetin se sakke. As Zuma val, verloor Rusland dalk sy versekerde toegang tot Suid-Afrika. Poetin sal dus eerder vir Zuma help om in die Uniegebou te hou as om die Afrikaner te help teen Zuma se politiek.

President Poetin van Rusland en president Zuma is goeie vriende. Poetin het Zuma in sy sak en het geen belang by Afrikanerpolitiek nie. (Foto: Kremlin.ru / Wikimedia Commons)

Dit is vir Afrikaners eweneens lastig om in die buiteland vir ekonomiese politiek te pleit omdat Afrikaners verspreid oor Suid-Afrika woon en die doeltreffendheid van so’n politieke strategie darem baie laag is. Buitendien is daar geen internasionale noodsaak vir so’n politieke beleid nie, omdat die gemiddelde lewenstandaard van Afrikaners, ten spyte diskriminerende wetgewing op die arbeidsmark, nog steeds (baie hoër) is as die lewenstandaard van ander bevolkingsgroepe in Suid-Afrika. Die gevolg is dat Afrikaners harder as ander Suid-Afrikaners geraak word indien daar byvoorbeeld ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika afgekondig sou word weens die rassistiese BEE-beleid.

Afrikaners kan wel – as groep – probeer om internasionale kultuur-politiek te laat herleef. Hierdie tipe ‘politiek’ het verskillende voorkomste. Dit kan net in die kultuurvorm plaasvind, soos die Week van de Afrikaanse roman of  die Festival voor het Afrikaans. Beide sal hul volgende edisies in 2016 aanbied. Die voordeel van sulke projekte is dat die politiek en staatstrukture omseil word en buitelandse burgers direk aangespreek kan word. Nog ‘n voorbeeld is hierdie onlangse artikel in die Belgiese tydskrif Knack. Ander moontlikhede is meer politiek, soos Solidariteit se poging om ‘n werkgroep Afrikaans by die Nederlandse Taalunie in te stel. Die nadeel van kultuur-politiek is dat dit tans nie erg gewild is nie. Verskeie ontwikkelende lande probeer van hul kulturele vriendskapsverdrae met westerse lande ontslae te raak, insluitende Suid-Afrika.  ‘n Tweede nadeel is dat hierdie benadering natuurlik beperkend werk tot die drie lande waar Nederlands grootskaals as kultuurtaal gebruik word: Nederland, België (Vlaandere) en Suriname. Maar in alle gevalle (taal, kultuur, geskiedenis) is hierdie lande die lande wat die meeste met Afrikaners verwant is.

Ons mag nie vergeet dat die verhouding tussen Nederland en Afrikaners ‘n lang geskiedenis het. Toe die Boererepublieke in 1899 deur Brittanje aangeval is, het Kruger en Steyn hoë morele argumente teen die Britse imperialisme gebruik. Met ‘n sweempie nasionalisme is die steun van die Nederlandse volk verseker. Die bande tussen die Nederlander en die Afrikaner is ook tydens apartheid nie vergeet nie. Hierdie bande is juis die oorsaak van die hewige Nederlandse teenkanting teen apartheid. Die koerswysiging van 1990 was ook vir Nederland ‘n bevryding, so getuig die staatsbesoek van staatspresident De Klerk aan Nederland dieselfde jaar.

Darem kan kultuur-politiek die grootste en wesenlike bydrae lewer tot die ontwikkeling van internasionale Afrikanerpolitiek op sy eie.

Maar moenie die kanse van kultuur-politiek, waarby die steun van burgers belangriker is as die steun van politici, verkwansel nie, deur foute te herhaal nie. Die feit dat die Nasionale Party tydens die Tweede Wêreldoorlog nie so krities was op Nazi-Duitsland nie, ondanks die Duitse besetting van Nederland, was ‘n slag vir die burgerlike verhoudings tussen Afrikaners en Nederlanders, verseker na 1948. Afrikaners sal darem mooi moet dink voordat hulle vir president Poetin, Zuma se vriend in Moskou, steun. Daar is mos “ietsie” met ‘n Russiese Buk-missiel, ‘n Maleisiese vliegtuig en 196 Nederlandse dode in die ooste van die Oekraïne…

Advertisements

One comment

  1. Ek weet nie watter Afrikaners vir Pres. Vladimir Putin ondersteun nie, maar dis baie dom om dit te doen. Pres. Putin is eintlik maar n diktator en hy en Rusland moet liefs maar vermy word deur Afrikaners.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s