Solidariteit moet bruin en Nederlandse vakuums vul

AfriForum betoog in Standerton in 2008 (Foto: Solidariteit / Wikimedia Commons)

Adriaan Basson haal vandag in Beeld hard uit na Solidariteit. Basson skryf dat die samewerking van Solidariteit met ander organisasies buite die Afrikaner-veld maar maer is. Dit is vir my ook die belangrikste kritiek op die manier waarop Solidariteit sy sake bestuur.

Ek stem egter nie saam met die manier waarop Basson sy rasgebaseerde transformasiefilosofie op Solidariteit probeer afdruk. Waar Basson ras as een van die belangrikste steunpilare van Solidariteit uitwys, is die organisasie eintlik baie meer ‘n kulturele organisasie.

Maar Basson skryf in Beeld oor die bekendstellingsgeleentheid van Solidariteit se nuwe kubervakbond:

Die paar swart en bruin mense teenwoordig, uit ’n gehoor van ’n paar honderd, kon ek op my twee hande tel. Natuurlik is daar niks daarmee fout om ’n organisasie te wees wat jou eksklusief beywer vir die regte van wit werkers nie – ons Grondwet laat dit toe, mits jy niemand in die proses benadeel nie. – Netwerk24

Basson is reg, omdat Solidariteit se lede (te) wit ís. Die vraag is darem of Solidariteit ‘n wit organisasie wil wees. Nee, Solidariteit wil ‘n Afrikaner-organisasie wees. En dit is ‘n feit dat veral wit mense hulself as Afrikaner identifiseer. Hierdie feit maak dit moontlik dat Solidariteit onjuis as ‘n rasgebaseerde organisasie omskryf kan word.

Maar Solidariteit is geen rasgebaseerde organisasie nie, dit is eerder ‘n organisasie wat op kulturele waardes gebaseer is.

Tans is tussen 5% en 8% van die Afrikaners lid van die Solidariteit Beweging. Solidariteit se 165 000 lede (R 94 p.m.) en AfriForum se 116 000 lede (R 30 p.m.) bou gesamentlik ‘n jaarlikse begroting van R 225 miljoen, of as ‘n mens wil oordryf en ook die waarheid wil praat: amper ‘n kwart miljard rand. Dít is nog eksklusief die omset van ander Solidariteit-organisasies. Want soos bekend, moet elke organisasie binne die Solidariteit-familie binne twee jaar finansieel onafhanklik wees.

Ek dink geen ander Afrikaanse gemeenskapsorganisasie se begroting is so groot nie. Solidariteit is dié moderne saamstaanorganisasie.

Adriaan Basson vra tereg wat die toekoms van Solidariteit is. Die vakbond self sukkel al jare om groot getalle nuwe lede by te kry. Die groei van die Solidariteit Beweging en sy voetspoor gebeur veral weens die oprigting van nuwe verwante organisasies, soos AfriForum (in 2005) en later Sol-Tech, Maroela Media en Akademia, Kraal Uitgewers, Radio Pretoria (oorgeneem) en die FAK (oorgeneem). Buitendien het elke organisasie sy eie lede. ‘n Mens is nie outomaties lid van én die vakbond én AfriForum nie. Daar is dus baie lede wat by meerdere organisasies lid is.

Waar Basson die toekoms van Solidariteit sien in rasgebaseerde transformasie, dink ek dis nie die oplossing nie. Ek dink Solidariteit moet eerder kyk hoe die organisasie sy eie ideologiese raamwerk van ‘n Christelike Afrikaanse organisasie kan uitbou. Tans bedien Solidariteit slegs 40% van hierdie groep, dus daar is baie spasie vir groei. Solidariteit en sy organisasies kan baie maklik vinnig groei as hy meer aandag gee vir die probleme van die hele Afrikaanse, Christelike gemeenskap in Suid-Afrika.

Maroela Media bestee byvoorbeeld baie aandag aan plaasmoorde en rasgebaseerde transformasie, maar min aandag aan die probleme rond geweld en dwelms in die Kaap. Ook hier is Basson reg, dis nie net Afrikaners wat ly onder probleme in Suid-Afrika nie. Baie taal- en kultuursake tref nie net Afrikaners nie, maar ook ander Afrikaanssprekendes (en ander Suid-Afrikaners). Nie net Afrikaners word geteiken deur geweld, misdaad, BEE en transformasie nie. Ook ander minderhede raak toenemend van die land se politieke prosesse uitgesluit.

Die groot meerderheid van bruin mense is Christelik (90%) en praat Afrikaans (75%). Die groep kan relatief maklik ingesluit word. ‘n Mens kan dit byvoorbeeld sien aan die veranderings wat Die Burger ondergaan het. Die koerant se lesers tydens apartheid was amper almal wit, maar tans is ‘slegs’ 49% van die lesers wit, terwyl 49% van die lesers bruin is. Dit was onnodig vir Die Burger om ideologies te transformeer, want Die Son is ‘n goeie aanvulling op Die Burger. Slegs die nuusdekking van Die Burger is uitgebrei.

Ek dink Solidariteit kan baie meer druk vir die probleme, wat in die Kaap speel, sonder ook maar iets van sy ideologiese agenda te verloor. Want selfwerksaamheid kan ook die beste oplossing vir die probleme van die mense in die Kaap wees. Bemagtiging in Afrikaans is bemagtiging in Afrikaans, niks anders nie. In die sin maak dit nie saak wie jy help nie.

Tweedens kan Solidariteit sy impak vergroot deur die regte alliansies te sluit. Solidariteit werk as vakbond reeds saam met die Christelijk Nationaal Vakverbond, ‘n Nederlandse vakbond in die Protestants-Christelike tradisie. Dit is die tweede grootste vakbond van Nederland. Die Christelijk Nationaal Vakverbond en Solidariteit is ongeveer ewe groot, met beide 300 000 lede. Die twee vakbonde deel buitendien hul Christelike vakbondideologie.

Solidariteit soek immers steeds toegang tot die Nederlandse politiek. En dit is moeilik om daardie politiek te bereik sonder om ‘n organisasie op voetsoolvlak in Nederland te hê. Organisasies soos die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam of die Suid-Afrikaanse sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Kaapstad probeer die verhoudings tussen Afrikaans- en Nederlandssprekendes te bevorder, maar dit is moeilik, omdat die meeste van die organisasies slegs in een van die lande verteenwoordig is en so voetsoolvlaksteun in die ander land mis.

As Solidariteit se vakbond sy samewerking met die Christelijk Nationaal Vakverbond kan verstewig of selfs (gedeeltelik) daarmee kan saamsmelt, kry Solidariteit die beskikking oor direkte toegang tot die Nederlandse regering en magsmiddele van die Christelijk Nationaal Vakverbond om sy saak te bepleit. Hoewel Christendemokrasie in Nederland die afgelope jare heelwat steun verloor het, is dit nog steeds ‘n sleutelelement in die Nederlandse politiek. So’n gesamentlike beweging kan ‘n faktor van internasionaal belang wees.

Solidariteit moet die belange van sy lede, van sy vakbond en AfriForum tot die mense wat deur Helpende Hand gehelp word, dien. Om eksklusief op Afrikanerbelange te fokus, is dalk nie die beste langtermynstrategie nie. Die uitdagings raak mos net groter. Dít sal Solidariteit moet besef.

Solidariteit se beginsels is vas genoeg om nou te begin met die groot uitbou!

Advertisements

3 comments

  1. Interessante artikel.

    Hoe minder oor Basson van Beeld gese word, hoe beter. Of Basson homself nog as ‘n Afrikaner beskou, is ‘n ope vraag, want hy het ten minste een kommunis as sy held. Ek beskou hom nie as ‘n Afrikaner nie, en verdermeer misbruik hy sy posisie by Beeld om die Afrikaner se kultuur en vryhede te ondermyn/af te breek en om die Afrikaner onder die hiel van die kommuniste te hou. Daar het gevolglik ‘n vevreemding by baie Beeld-lesers onstaan. Met iemand soos Basson as Trojaanse Perd binne die stadspoorte, het ons nie vyande buite nodig nie! Die Burger het hom ook van die Afrikaner vervreem.

    Wanneer ‘n organsisasie sy deure begin oopgooi vir elke ander volk en kultuur, is dit die begin van sy ondergang. Dis presies wat die Nasionale Party gedoen het, en dit het sy vroee dood veroorsaak. Dit gebeur tans ook by tradisionele Afrikaanse universiteite, Afrikaanse skole en … by die FAK. Dit sal ook met die kerke gebeur … en met Solidariteit. Nog ‘n goeie verdere voorbeeld van so ‘n transformasie van ‘n organsasie, is die DA – wat in die proses om iets vir alle SA volke en kulture te wees, uiteindelik niks vir niemand is nie!

    Solidariteit is nie Pick ‘n Pay nie – wat werk vir die een, werk nie noodwendig vir die ander nie. Persoonlik wil ek slegs deel wees van ‘n organsiasie wat eksklusief my kultuur, geskiedenis en vryheidstrewes onderskryf, Samewerking met ander organisasies op soortgelyke beginselbasis, is egter steeds welkom.

  2. Adriaan Basson weet nie waarvam hy praat nie en is anti-Afrikaner. Beeld het destyds baie gal gebraak oor die sogenaamde Nazi saluut van studente by PUK, maar is doodstil oor die nie-blanke persoon wat sy bewondering vir Hitler uitgespreek het by Wits nie. Hoekom is Basson doodstil daaroor? Sy opinie oor Afrikaners beteken niks nie, hy verloën sy eie mense!

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s