Sunette, Steve se Kerkpleinbetoging: Kommandokorps die probleem

Die Krugerstandbeeld se onthulling in 1925 op die Stasieplein in Pretoria (Foto: Die Krugergenootskap / Wikimedia Commons)

Beeld kom gister met die berig dat die Solidariteit Beweging en Orania ekstreme en rassistiese uitings by die Kerkpleinbetoging veroordeel. Die betoging was deur die VF+, Sunette Brigdes en Steve Hofmeyr gereël.

Tydens die betoging is daar ekstreme en rassistiese opmerkings gemaak deur sommige betogers. Veral die aanwesigheid van die rassistiese Kommandokorps was ‘n groot verlies vir die saak.

Toe Steve Hofmeyr Die Stem van Suid-Afrika gesing het, het lede van die Kommandokorps agter hom gestaan en op belaglike wyse in ‘militêre houding’ gestaan. Daardie organisasie het die doel om die ‘swart man’ bang te maak vir die ‘wit man’, om so die ‘wit man’ teen ‘swart aanvalle’ te beskerm. Die doel om mense bang te maak, kan ‘n terroristiese oogmerk genoem word.

Tewens was daar borde met bewerings van volksmoord op Afrikaners, wat onder meer deur Sunette Brigdes se Boervroue Liga getoon is. Ja, plaasmoorde is problematies, maar dit is nie volksmoord nie. Om sulke borde, waarmee hulle die swart meerderheid, die regering en misdadigers almal rassiste noem, by die Krugerstandbeeld te toon, is dom. Paul Kruger het niks met apartheid of kolonialisme te make nie. Dit is die standpunt wat die mense wat die standbeeld op Kerkplein wil behou, moet uitdra. Nie nuttelose bewerings van “volksmoord” nie.

Dieselfde mense het nou vir die Orania Beweging volksverraaiers genoem, omdat die Orania Beweging ‘n ander – dalk meer realistiese – standpunt oor Afrikanerstandbeelde het as die betogers.

Ja, daar was rassistiese en ekstreme opmerkings tydens die betoging op die Kerkplein. En dit was ‘n fout van Sunette Brigdes en Steve Hofmeyr om nie daarteen op te tree nie.

Maar as ons kyk na die tweets wat veral Sunette Brigdes oor die beeldenstorm die wêreld instuur, dan gaan dit vir haar nie oor die Afrikaner se erfenis nie. Dit gaan oor die wit man se erfenis in Suid-Afrika. Asof Afrikaners en Anglo-Afrikane skielik dieselfde taal, kultuur en voorouers het. Haar beheptheid met Engels – so is die Kleinvallei-webwerf net in Engels beskikbaar – toon dat haar standpunte eerder ras-gebaseer is as kultuur-gebaseer. Daardie beskerm-die-wit-man-se-erfenis-standpunt is net so ras-gebaseer as die ANC se regstellende aksie. En darem kan ‘n mens daardie standpunt as indirekte rassisme merk.

En dit is ‘n baie groot jammerte dat die VF+ hom nie teen die aanwesigheid van die Kommandokorps en sulke ekstreme en rassistiese uitlatings uitgespreek het nie. Dit is ‘n absolute verlies vir demokrasie omdat hulle nou seker vir die ANC en EFF stokke gegee het om die VF+ te slaan.

Dit is buitendien wonderbaarlik dat die betogers nou so boos is vir die Solidariteit Beweging en die Orania Beweging na ‘n berig uit Beeld. Hulle boikot mos vir daardie “links-voor-ingenome” koerant, nè? Dat hulle dié beriggewing tog vertrou… Dit sê baie oor hul boikot-Beeld-aksie.

Darem is dit die betogers wat hul argumente moet regkry. Daar is niks fout met hul standpunt nie, maar dit is hul argumente wat baie onsamehangend is!

Redakteursnota: Enkele ure nadat hierdie artikel opgelaai is, skryf Kallie Kriel van AfriForum op Facebook

Dit is egter ʼn feit dat AfriForum nie aan Bridges se byeenkoms deelgeneem het nie. Die rede is dat AfriForum nie gemaklik is met selfaangestelde “offisiere” [die Kommandokorps, Red] wat bekend is vir hulle uitsprake, wat Afrikaners se beeld benadeel en met militêre uniforms by die aksie opgedaag het om die aksie te diskrediteer nie. Afrikaners se billike aansprake moet nie ondermyn word deur die ondeurdagte optrede van ʼn paar individue nie. […] Kom ons red nie net Afrikaners se standbeelde nie, maar ook Afrikaners se beeld.

Steve Hofmeyr met agter hom lede van die Kommandokorps. Die “Ek is Jan”-T-hemp wat Steve Hofmeyr dra, is ‘n inisatief van die Orania Beweging se Ek-is-Jan-veldtog.

Sunette word bygestaan deur Kommandokorpsleier Jooste. Die doel van die doek agter, wat groot sê “waarskuwing”, is om sekere groepe bang te maak.

Van die borde bevat rassistiese uitsprake:

Advertisements

8 comments

  1. Dankie aan Steve Hofmeyr, Sunette Bridges en Pieter Groenewald dat hul opstaan vir ons erfenis. Wie anders gaan dit doen? Dis tyd dat ons nou saamstaan en ophou baklei ondermekaar. Ons het nie tyd daarvoor nie en moet aandag gee aan die belangrike kwessies. Ironies is die doodse stilte van die DA en Pres. Zuma oor wat tans aan die gang is. Weereens dankie aan almal wat opstaan vir die behoud van ons eie.

  2. Daai kommandokorps oumanne met die pense wat op die kniee hang, nee wragtag ons het nou maar eenmaal die vermoë om ons naam behoorlik g@t te maak.

    • Ons moet ophou om medevolksgenote af te kraak. Hierdie is uiters belangrike sake waarmee ons besig is en die tyd dat ons frases gebruik dat ons nou ons naam g@t maak, met n plank slaan, ens. is verby. Die situasie is ernstig en tyd vir verdagmakery, slegsê en dies meer, is verby. Laat ons saam weerstand bied teen die afkraking van ons erfenis en geskiedenis.

      • Frik ons moet ook ernstig begin dink aan wat’ ons doen. Die tyd vir wat daai manne wil doen is saam met Eugene Terblanche begrawe. Dit is nou tyd vir goed beplande aksies en nie vyf oumanne wat op kerkplein staan met uniforms en boeppense nie. Hulle verstaan nie die konsep “moenie jou vyand van skietgoed voorsien nie” as ons dit net in hulle koppe kan kry.

        Die swartman lag hulle uit maar hy vrees die wat hy nie kan sien nie en hy weet hulle is iewers besig. Die ANC se kopseer is Orania en kleinfontien en Kleinvallei nie vyf outoppies in uniform op kerkplein nie. Frans Jooste is besig om ons naam deur die modder te sleep net soos Eugene Terblanche gedoen het.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s