Resensie: Deon Meyer se ‘Ikarus’

Deon Meyer (Foto: Krimidoedel / Wikimedia Commons)

Met die verskyning van Kobra in 2013 het die skrywer Deon Meyer ’n nuwe hoogtepunt bereik, veral in die verrassende manier waarop die hoofantagonis, Tyrone Kleinbooi, heeltemal per toeval by die storielyn ingesleep is. Met Ikarus, die nuutste poging uit Meyer se pen, is daar ’n ander aanslag as waaraan lesers die laaste aantal jare gewoond geword het. In moderne misdaadfiksie is terme soos ‘protagonis’ en ‘antagonis’ boonop eintlik half uitgedien, want kaptein Bennie Griessel, deurwinterde speurder van die polisie se elite-eenheid die Valke, is sy eie grootste vyand. Alkoholverslawing neem in Ikarus weer van hom beheer, en plaas sy loopbaan en lewe op die spel.

Terwyl Griessel worstel met die drankduiwel, klim sy kollegas vierkantig in die moordondersoek in, en skuif Griessel se rol in die ondersoek soms op die agtergrond. Die verhaal wentel om die moord van ene Ernst Richter, stigter van die omstrede Alibi.co.za webtuiste, wat aan veral egbrekers die ‘sekuriteit’ van vervalste verskonings verkoop om hulle doen en late vir andere geheim te hou. Kaptein Vaughn Cupido se kop is op baie plekke. Hy is bekommerd oor “Benna” se drinkery, en dan is daar is Desiree Coetzee, ’n sentrale getuie en werknemer by Alibi.co.za, op wie Cupido tydens die moordondersoek verlief raak. Majoor Mbali Kaleni keer ook terug in Ikarus, deesdae ’n proseliet van die ‘Banting’ leefstyl en professor Tim Noakes se resepte, waartoe sy ook vir Bennie probeer bekeer.

Ikarus word, soos menigte van Meyer se werke, gekenmerk aan twee verhale wat eindelik ineenvloei. So speel die intriges van die Suid-Afrikaanse wynbedryf ook ’n sentrale rol in die roman. Die leser word telkens op wye draaie geneem, veral deur die psigopatiese gene van die familie Du Toit van die wynplaas Kein Zegen, en hoewel dit die sentrale drama van die verhaal uitstel, boet die vloei van die narratief wel tot ’n mate in.

Hoewel Ikarus nie die hoogtes bereik van sy voorganger, Kobra, nie, is dit ’n uiters geslaagde werk en ’n welkome toevoeging tot Meyer se oeuvre. Meyer se gereelde lesers sal nie teleurgesteld wees in sy nuutste poging nie . ’n Hoogtepunt in Ikarus is ongetwyfeld die medemenslikheid van die karakters, die amptenare van die Valke wat mekaar se lief en leed deel en mekaar se laste tot die bitter einde help dra.

Redakteursnota: Hierdie leesverslag is oorgeneem uit Bloemnuus van Donderdag 26 Maart 2015, p. 10. Barend van der Merwe is die oorspronklike skrywer.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s