Namibiese kabinet te groot vir dié land

Die Staatshuis, die ampswoning van die President van Namibië in Windhoek (Foto: Laika ac/Wikimedia Commons)

Die nuwe kabinet van Namibië is kort gelede deur die nuwe president Geingob bekend gestel.

Die kabinet-Geingob bestaan uit 28 ministers en 32 adjunk-ministers. Die Republikein meld dat van die 28 ministers sewe vrou is en van die 32 adjunk-ministers vyftien vrou is. Sommige departemente het twee adjunk-ministers, waaronder die departemente van (1) Landbou, water en bosbou, (2) Openbare werke en vervoer, (3) Armoedeverligting en maatskaplike welsyn en (4) Stedelike en landelike ontwikkeling.

Die nuwe Namibiese kabinet tel dus 60 lede, waar die Nasionale Vergadering 104 lede tel. Nes in Suid-Afrika is kabinetslede in Namibië tewens lid van die NV. Los van die feit dat die regerende party (SWAPO) reeds ‘n meerderheid van 77 setels in de parlement het, het die kabinet-Geingob dus anyway ‘n meerderheid in die Nasionale Vergadering. Wat is dan nog oor van die kontrolefunksie wat die parlement ten opsigte van die regering behoort te hê?

Ja-nee, die aantal lede van die kabinet is net-net laer as ons dit vergelyk met Suid-Afrika: die kabinet-Zuma bevat 38 ministers en 37 adjunk-ministers.

Maar laat ons wel wees: Namibië het skaars 2,1 miljoen inwoners. Suid-Afrika het meer as 53 miljoen inwoners. Die feit dat die kabinet-Geingob 60 lede tel, is meer as skokkend.

Laat ons verder kyk. In Nederland het die kabinet-Rutte II 20 lede, waarvan 13 ministers en sewe adjunk-ministers. Maar Nederland het 17 miljoen inwoners, baie meer as Namibië se 2,1 miljoen.

Dus laat ons kyk na die twaalf Nederlandse provinsies. Sommige van die provinsies het net soveel inwoners as heel Namibië. Anders as in Suid-Afrika het die provinsies eie parlemente en eie ‘ministers’ (gedeputeerdes), wat geen deel van die provinsiale parlement is nie. Buitendien het elke provinsie sy eie, politiek-neutrale, verteenwoordiger van die Koning. Hierdie nie-gekose, benoemde verteenwoordiger, die Commissaris van de Koning, lei die provinsiale kabinet.

Inklusief die 12 kommissarisse is daar in heel Nederland 73 provinsiale bestuurders. Sonder die kommissarisse is daar 61 provinsiale ministers (gedeputeerdes). Dit is amper net soveel as die hele Namibiese kabinet.

Die provinsie Gelderland het ongeveer net soveel inwoners as Namibië. Die provinsie het een Kommissaris van die Koning en vyf ‘ministers’/gedeputeerdes. Dus waar Namibië 60 ministers en adjunk-ministers benodig om 2,1 miljoen mense te bestuur, kan die provinsie Gelderland dit met 5 ‘ministers’/gedeputeerdes.

Die provinsie Zuid-Holland is die Nederlandse provinsie met die meeste inwoners, ongeveer 3,5 miljoen in getal. Dié provinsie het een Kommissaris van die Koning en eweneens net vyf ‘ministers’/gedeputeerdes.

Dit is skokkend, nè?

Dit bring my die nut van sommige departemente, want hoe hoër die aantal departemente, hoe hoër die aantal ministers. Ek verstaan dit is nodig om sekere departemente te hê. In Nederland is daar egter tans slegs elf departemente. Daar is in die verlede belangrike departemente opgehef.

Hoewel Nederland die grootste eksporteur van groentes in die wêreld is, is die Ministerie van Landbouw, natuur en voedselkwaliteit in 2010 opgehef. Dit is tans slegs deel van ‘Ekonomiese sake’. Hoewel Nederlanders elke vierkante sentimeter van hul land wetlik beplan en ingedeel het en ruimte steeds baie skaars is, is die Ministerie van Volkshuisvesting, ruimtelijke ordening en milieu in 2010 opgehef.

In 1871 is die Ministerie van Erediensten opgehef en saamgevoeg met die Ministerie van Financiën. Een van die take was om die bou van kerke te finansier. Dié taak is eers in 1988 afgeskaf. ‘n Ander ikoon wat afgeskaf is, is die Ministerie van Verkeer en waterstaat. Die departement is natuurlik ikonies weens die Nederlandse geveg met die water. Besuinigings in 2010 was egter onverbiddelik en die departement, een van die oudste, is opgehef.

In Nederland kyk ons watter uitvoerende organisasies met mekaar gekombineer kan word. Van die opgehefde departemente wat hierbo genoem is, is byvoorbeeld die twee departemente van Ruimtelijke Ordening en omgewing; Verkeer en waterstaat saamgevoeg tot een departement: die Ministerie van Infrastructuur en milieu. Na die Tweede Wêreldoorlog is die departement van Oorlog en die departement van die Vloot eweneens saamgevoeg tot die Ministerie van Defensie.

Namibië en Suid-Afrika kan, betreffende doelmatigheid en effisiënsie, nog baie van Nederland leer. 60 Ministers en onderministers vir ‘n land van 2,1 miljoen inwoners is in elk geval hopeloos teveel.

Ek hoop die Namibiese ministers en onderministers geniet nie dieselfde luukse – betaal deur die belastingbetaler – as hul Suid-Afrikaanse eweknieë nie. Ek hoop president Geingob sal oud-president Pohamba as ‘n voorbeeld beskou en nie teveel na Suid-Afrika se nommer #1 kyk nie.

Want ander raak die soustrein in Suider-Afrika baie lang – en verseker te lang vir die belastingbetalers in dié streek.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s