En jy dog Suid-Afrikaanse politiek is ingewikkeld?!

Die Binnenhof in Den Haag, waar die Nederlandse parlement setel. (Foto: Patrick Rasenberg / Wikimedia Commons)

Vandag is daar belangrike verkiesings in Nederland. En die peilings voorspel ‘n skokuitslag, nes by voorgaande verkiesings. Maar ‘n mens kan die huidige situasie gerus bisar noem. In die peilings is dit geheel onduidelik watter party die grootste party gaan wees. Buitendien word die verkiesingsveldtog oorskadu deur landelike probleme, terwyl dit provinsiale verkiesings – met landelike betekenis – is. En tegelyk word daar nog twee verkiesings gehou…

Nee, hierdie provinsiale verkiesings het spannende resies, met landelike gevolge. Daar is geen resies tussen die grootste twee partye nie, maar tussen die grootste ses. Die peilings voorspel tussen tussen die 12 en 15% van die stemme vir elk van die partye. Ses kleiner partye verdeel die ander 20%, elk hulle is tussen die 2 en die 5%. Ja, die groot partye is kleiner as ooit en die kleiner partye is groter as ooit.

Peiling eerste kamer 2015
Peiling van 6 Maart vir die Provinsiale Rade (direkte verkiesing) en daarmee die Eerste Kamer (indirekte verkiesing)

 

Dit is geheel onduidelik wie die verkiesings gaan wen. Die twee regeringspartye, in 2012 goed vir 52% van die stemme, gaan waarskynlik net-net 25% van die stemme haal. Kan jy sulke verskuiwings in Suid-Afrika voorstel?!

‘n Bykomende probleem in Nederland is dat die ses grootste partye die hele politieke spektrum bestryk. Die PVV is uiters regs/volks, die VVD is liberaal/entrepreneurs, die die CDA is midde/christelik, die D66 midde/ateïsties, die PvdA is die linkse arbeidersparty en die SP is die links-radikale vakbondsparty. En die ses kleiner partye is eweneens oor die spektrum verdeel.

Die verkiesingsveldtogte is baie snaaks. Politici wat mekaar wolf of uil noem. Die leier van die PVV wat vir die leier van D66 sê hy is die “Chamberlain van die Lae Lande”. Die minister-president wat vind dat opposisiepartye nie opposisie moet voer nie, maar met die regering moet saamwerk… Dit is provinsiale verkiesings, maar in van die nasionale TV-debatte is die woord ‘provinsie’ nie eens genoem nie. Dit is eintlik om te huil, want elke provinsies het sy eie temas. Die rede is dat die provinsiale rade, nes in Suid-Afrika, die lede van die landelike Eerste Kamer (die senaat of hoërhuis) kies.

Maar provinsiale temas is steeds verskillend. Van menseregteskendings deur opgewekte aardbewings in Groningen. Taal-, kultuur en minderheidsregte in Friesland/Fryslân. Windmeule op die see voor die kus van Noord-Holland. Transnasionale samewerking in Nederlands-Limburg. Elke provinsie sy eie temas.

Maar die provinsiale verkiesings is nie die enigste verkiesings nie.

Dieselfde dag is ook die verkiesings vir die waterrade. Dit is ‘n onafhanklike bestuur, buite die munisipale, provinsiale en landelike bestuurstelsel. Die waterrade hanteer als wat betrekking het op water. Van verdediging tot die see tot voldoende drinkwater asook rioolwatersuiwering. En hoewel buitelanders dit nie verwag nie, is daar in Nederland maar min wil om te gaan stem in dié verkiesings. Een van die redes is dat dié waterrade hul werk so goed doen, dat daar nouliks tot geen probleme is nie. Dus min media-aandag, dus onbekend. Daar is selfs stemme wat sê die waterrade kan maar beter opgehef word, ondanks die baie baie baie belangrike werk wat hulle doen vir die land. Want 60% van Nederland lê mos onder die seevlak.

Die dag is egter nóg snaakser. Daar is eweneens verkiesings vir die eilandrade in Karibies Nederland. Drie Nederlandse munisipaliteite in die Karibiese See, wat sedert 2010 deel uit maak van Nederland maar nie tot ‘n provinsie behoort nie, hou hul munisipale verkiesings. Een van die belangrikste temas daar is of die eilande munisipaliteite wil bly of ‘n andere status wil kry. Ook is die taalmedium op skole  ‘n belangrike onderwerp. Daar is spanning oor die status van Nederlands in die onderwys in twee Engelstalige munisipaliteite en een Papiamentstalige munisipaliteit.

Die provinsiale rade sal na hul verkiesing die Eerste Kamer kies. Dit is lewensbelangrik vir die regerende partye om goeie resultate in die provinsies te behaal, omdat hul wette na goedkeuring van die Tweede Kamer ook goedgekeur moet word in die Eerste Kamer. Die drie Karibiese munisipaliteite behoort egter nie tot ‘n provinsie nie. Dus die Eerste Kamer word gekies sonder dat alle inwoners van Nederland daarin verteenwoordig word, hoewel die Grondwet bepaal dat alle inwoners die Tweede Kamer direk en die Eerste Kamer indirek verkies. Maar aangesien die Grondwet bepaal dat slegs die parlement ‘n oordeel oor die grondwet mag vel, is daar geen Konstitusionele Hof nie. Darem het hierdie ‘ongrondwetlike saak‘ in Nederland slegs ‘n beperkte betekenis.

Vandag, Woensdag 18 Maart is dit verkiesingsdag. Die eerste stemlokale maak om middernag in Europees Nederland (01:00 uur in SA) oop en die laaste stemlokale sluit om 21:00 uur in Karibies Nederland (19 Maart, 03:00 uur in SA). Vanaf 21:00 uur (22:00 uur in SA) verwag mense egter reeds die eerste uitslae.

En die kiesers mag hul kruisies trek. En hul keuses met wysheid maak.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s