Analise: Nederlandse parlementêre vrae teiken ANC

Die Binnenhof in Den Haag, waar die Nederlandse parlement setel. (Foto: Markus Bernet / Wikimedia Commons)

Die ANC het in die visier gekom van die Nederlandse parlement. LP Han ten Broeke van die regeringsparty VVD het vyf vrae oor die politieke situasie in Suid-Afrika aan die Nederlandse kabinet gestel. Ten Broeke is namens die Volksparty vir Vryheid en Demokrasie lid van die Tweede Kamer, wat vergelykbaar is met die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika.

Dit is nie die eerste vrae en mosies oor Suid-Afrika wat in die Nederlandse parlement ingedien is nie. Geert Wilders se Party vir die Vryheid (PVV) stel sedert 2010 reëlmatig vrae oor Suid-Afrika. Maar die party staan, verseker sedert sy onbetroubare houding as regeringsparty in 2012, heeltemal alleen. Ander partye weier nog om met die PVV saam te werk. Onder meer Beeld het gewaarsku vir die party se intensies. ‘n Debat oor die party het in Beeld ontstaan.

In 2011 was daar plotseling ‘n mosie van die Staatkundige Gereformeerde Party en die ChristenUnie wat deur 7 opposisiepartye gesteun is (saam 68 setels). Dié mosie het rassisme en geweld teen Afrikaners veroordeel. Omdat die drie grootste partye (82 setels) teen gestem het, het die mosie destyds geen meerderheid nie gehaal nie, ondanks die feit dat die VVD-minister van Buitelandse Sake die mosie gesteun het. Die VVD, wat nou die vrae gestel het, het egter teen gestem. Ewe as die Christen-Demokratiese Appèl (CDA) en Party van die Arbeid (PvdA).

Dit was baie vreemd dat juis die drie partye teen gestem het, want die VVD is vriende met die DA, die CDA het altyd pro-Afrikaanse standpunte gehad en de PvdA se destydse parlementêre woordvoerder Buitelandse Sake, Frans Timmermans, is juis baie pro-Afrikaans.

In 2012 was daar verkiesings en het die VVD het die CDA geruil vir die PvdA as mede-regeringsparty. Die partye van die teenstemmers het gegroei van 82 na 91 setels (van die 150). In 2014 was verteenwoordigers van die Orania Beweging egter deur die SGP sowel as die CDA in die Nederlandse parlement ontvang, nadat hulle in 2013 al ontvang was deur die PVV. Die CDA is tans egter ‘n opposisieparty.

En nou in 2015, is daar parlementêre vrae deur Han ten Broeke ingedien. Hy is die VVD se parlementêre woordvoerder van Buitelandse Sake. En juis dié feit dat ‘n woordvoerder buitelandse sake van ‘n regeringsparty die vrae indien, dui op moontlike verskuiwings van die kabinet se kant af. In Nederland is parlementêre vrae die belangrikste middel van parlementslede om die regering te kan kontroleer. Wat vir Suid-Afrikaners belangrik is om te weet, is dat ministers in Nederland geen lede van die parlement is nie (Ministers kan mos nie hulself kontroleer nie). Dit beteken dat regeringspartye nie net ministers vir bepaalde sake lewer, maar tewens (soos die opposisiepartye) woordvoerders in die parlement aanwys (Die minister werk mos vir die staat, nie vir die party nie). Parlementêre vrae van die regeringspartye is egter dikwels afgestem met die betreffende minister.

Die vrae, wat nou gestel is, is egter ‘n produk van onderaf. Dennis de Witte, ‘n jong lid van die VVD, het ‘n artikel oor die Afrikaner se vryheid op die webwerf van De Dagelijkse Standaard gepubliseer en VVD-LP Han ten Broeke oortuig om parlementêre vrae te stel. De Witte skryf op sy webtuiste:

Naar aanleiding van onder meer dit artikel en informatievoorziening van mijn hand heeft Han ten Broeke (VVD) Kamervragen gesteld aan minister Koenders (Buitenlandse Zaken) over de politieke ontwikkelingen in Zuid-Afrika.

Tydens die skryfproses van die artikel het De Witte ondermeer ‘n onderhoud met VF-Plus leier Pieter Mulder gevoer.

Han ten Broeke het vyf vrae aan die minister van Buitelandse Sake gestel:

  1. Suid-Afrika is inmiddels meer as 20 jaar ‘n demokrasie. Hoe beoordeel u die staat van demokrasie en die regstaat in Suid-Afrika? En hoe beoordeel u spesifiek die leierskap van die Suid-Afrikaanse president Zuma?
  2. Ondanks die afskaffing van apartheid, lyk dit of rassisme nie verdwyn het uit die Suid-Afrikaanse samelewing nie. Kan u ‘n samevatting gee oor die inspanninge van die Suid-Afrikaanse regering teen diskriminasie? En is daar in Suid-Afrika sprake van diskriminerende wetgewing?
  3. Is u bekend met berigte dat regstellende aksie in Suid-Afrika op so ‘n manier toegepas word dat baie, jong blankes geen toekoms meer sien in hul land nie en op groot skaal emigreer? Kan u dit bevestig, en so ja, hoe beoordeel u hierdie kwessie?
  4. Wat is die stand van sake rondom die menseregtegesprek met Suid-Afrika wat deur die Europese Raad begin is?
  5. Hoe beoordeel u die rol wat Suid-Afrika in die streek het, byvoorbeeld in die Afrikaanse Unie en die mate waarin Suid-Afrika deelneem aan vrede-operasies? Het hierdie rol die afgelope jare verander?

Die vrae is neutraal, behalwe vraag drie, wat stel dat jong wit Suid-Afrikaners geen toekoms sien in Suid-Afrika nie. Wat buitendien opval is dat dié woorde van die derde vraag – “positieve discriminatie [in Zuid-Afrika] wordt op zo’n manier toegepast dat veel jonge blanken geen toekomst meer zien in hun land en massaal emigreren” – presies dieselfde is, in presies dieselfde volgorde, as in ‘n opinie-artikel van Flip Buys (hoof van Solidariteit), wat in 2011 in De Volkskrant, ‘n gesaghebbende linkse Nederlandse koerant, gepubliseer is.

Die minister van Buitelandse Sake is onlangs egter vervang. Tot November 2014 was dit die pro-Afrikaanse minister Frans Timmermans en nou is dit minister Bert Koenders. Hy is ‘n Afrika-deskundige en was tot onlangs Gesant van die Verenigde Nasies in Ivoorkus (2010-2013) en Hoof van die Verenigde Nasies se troepemag in Mali (2013-2014). Dit kan die ANC bevoordeel, maar ek is nie seker nie. Die feit dat hy minister is namens die PvdA, histories ‘n kameraad van die ANC, kan die ANC wel bevoordeel.

Ek weet nie wat die kabinet op die vrae gaan antwoord nie. Die vrae is op 23 Februari ingedien. Dit beteken die minister moet die vrae voor 16 Maart beantwoord.

Daar kan drie politieke redes wees vir die wyse waarop die vrae in die parlement ingedien word:

  1. Dit kan daarop dui dat die kabinet baie graag enigiets oor die politieke situasie in Suid-Afrika wil sê. Die roete van die vrae, via die parlement, kan daarop dui dat die kabinet sy mening wil gee sonder om deur die ANC van koloniale bemoeienis beskuldig te kan word. Want hoewel die vrae van onderaf kom, in ‘n regeringsparty is die belange die regering altyd belangriker.
  2. Die druk van onderaf. In hierdie geval het Dennis de Witte ‘n baie belangrike rol gespeel.
  3. Minister Bert Koenders is minister namens die PvdA, die ander koalisieparty. Die PvdA is histories gesien ‘n kameraad van die ANC en die antwoord op die vrae kan moontlik gebruik word as politieke munisie teen die PvdA.

Die vrae beteken mense begin inligting oor Suid-Afrika te versamel. Dit is gewoonlik die eerste stappe van ‘n politieke proses. Na vandag se verhoudings in die Nederlandse parlement gemeet, kan ons sê dat 12 van die 15 (!) partye in die Tweede Kamer sedert 2011  interesse (ge)toon (het) in Suid-Afrika. Hulle besit 110 van die 150 setels. Daarvan het ses partye het op eie inisiatief enigiets gedoen, byvoorbeeld vrae in die parlement, ‘n ontmoeting met (Suid-) Afrikaners of ‘n mosie ingedien. Die ses partye (PVV, SGP, VNL, VVD, CDA, CU, van (ver)regs na links) het saam 76 setels – ‘n meerderheid! – in die Tweede Kamer.

Op vlakke van kultuur, taal maar ook politiek het dinge volstoom aan die gang geraak hier in Nederland. En ek dink die vrae is net die begin van ‘n golf wat hierdie jaar gaan plaasvind. Die minister moet egter nog antwoord gee op die parlementêre vrae. Verskillende Nederlandse politieke partye is besig om munisie teen die ANC te versamel. Dinge broei nou reeds so, dat dit nie lank meer kan vat voordat een van die Nederlandse politieke partye ‘n skoot gaan los nie.

En die ANC se diktatoriale optrede in die Suid-Afrikaanse parlement, met rassekwota’s, ens. werk lekker saam. Die politici in Holland is nie blind nie. Hulle moet net met die juiste argumente aangespreek word. En die ou wat rassistiese uitsprake doen, gaan die Hollandse politiek teenoor hom vind.

Advertisements

One comment

  1. Baie interessante artikel en goed uiteengesit. Dis tyd dat die wereld uitvind wie en wat die ANC werklik is. Ook tyd dat die Afrikaner se regverdige saak internasionale blootstelling kry en ook ondersteuning.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s