Eskom se nuwe Medupi-kragstasie sal sonder sekerheid krag lewer

Die Kusile-kragsentrale naby Witbank, Mpumalanga is vergelykbaar met die Medupi-kragsentrale (Foto: Rute Martins / Wikimedia Commons)

Eenheid 6 van die Medupi-kragsentrale naby Ellisras/Lephalale, Limpopo is hierdie week in werking gestel. Maar moenie dink beurtkrag gaan nou skielik verby wees nie! Die probleme met kragvoorsiening is bloot te groot. Buitendien gebruik die Medupi-kragsentrale steenkool as brandstof, wat dié kragsentrale baie afhanklik maak van die grille en genade van talle mynwerkers. Om nog maar te swyg van die R1 miljard wins op termyn wat die ANC met die kragsentrale gaan maak.

Natuurlik is dit baie welkom vir Suid-Afrika se moerse elektrisiteitstekort dat Medupi se eenheid 6 in werking tree. Die kragsentrale word sedert 2007 gebou. Probleme rondom die bou word onder die vloer gevee met slegte kommunikasie deur Eskom. Een van die nuutste voorbeelde is die datum waarop eenheid 6 in werking sou tree. Op 13 September 2014 het Eskom 100 dae begin aftel na 22 Desember. wanneer eenheid 6 sy eerste krag op die netwerk sou begin laai. Van die ander vyf eenhede sou na elke 9 maande een gesinchroniseer word.

Op 22 Desember het Medupi se eenheid 6 egter geswyg. Eers op 2 Maart, 70 dae later, het eenheid 6 sy 794 MW krag begin opwek. Volgens die oorspronklike skedule sou eenheid 5 teen September 2015, nege maande na Desember 2014, gesinchroniseer word. Die sinchronisasie is egter uitgestel na Maart 2016.

Ondanks die vertraging het die belofte om elke 9 maande ‘n eenheid aan te skakel verander na elke 6 maande, vanaf Maart 2016. Dit sou beteken dat die beplande teikendatum van Maart 2018 vir die voltooiing van die hele kragsentrale steeds behaal word. Maar hoe realisties is dit as die sinchronisasie van die eerste twee eenhede steeds na vertraging voltooi kon word. En hoekom kan die sinchronisasietermyn nou skielik verkort word van 9 maande na 6 maande per eenheid?!

As sinchronisasie van die eenhede nie 6 maande maar ‘n jaar per eenheid sou vat, soos by eenheid 5 die geval gaan wees, sal die Medupi-kragsentrale se ses eenhede pas teen Maart 2020 voltooi wees.

En as die Medupi-kragsentrale eenmaal volledig operasioneel is, beteken dit nie noodwendig dat die kragsentrale altyd krag sal lewer nie. Die kragsentrale gebruik naamlik steenkool as brandstof. Dié steenkool word gewin in die Grootgeluk-steenkoolmyn, wat direk naas die kragsentrale geleë is. Die groot nadeel van steenkool is dat die winning daarvan afhanklik is van die grille en genade van die mynwerkers.

Die mynstaking van 2014 was Suid-Afrika se langste en duurste ooit. By sommige kragsentrales moes steenkool oor honderde kilometers aangevoer word, omdat die mynwerkers van sommige kragsentrales gestaak het. En vir wie hoop dat die storie nou politiek opgelos is, het ek slegte nuus. Verseker wat betref die Medupi-kragsentrale. Hoewel die ANC 75% van die stemme in die Ellisras/Lephalale-munisipaliteit gekry het, het die EFF met 11% van die stemme ‘n stewige fondament in die munisipaliteit.

Julius Malema sal dus invloed (kan) hê op die bedryfsverhoudinge by die kragsentrale asook op winsmakery van die ANC. Want die ANC se (privaat) 25%-belang in die Medupi-kragsentrale kan deur Malema en sy EFF geteiken word. Die ANC se geldsug skep ‘n nuwe speelveld vir rewolusionêre politiek. Stakings en darem geen krag beteken mos geen winste vir die ANC nie. En met verwagte winste wat miljoene rande per jaar beloop, kan die ANC finansieel hard geraak word…

Die EFF, waar die mans mynwerkersklere dra, sal hierdie feite verseker weet én gebruik in hul politiek teen die ANC.

Nuwe stakings sal maar seker die voorland wees. Met kragonderbrekings en beurtkrag tot gevolg. Die nuwe Medupi-kragsentrale ten spyte. Selfs as die Medupi-kragsentrale ooit volledig sal werk, is beurtkrag nie verby nie. Die vraag is immers steeds so veel groter as die aanbod…

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s