Solidariteit as kulturele imperialiste en alternatiewe menings

Die logo van die Solidariteit Beweging (Foto: Solidariteit / Wikimedia Commons)

Die voormalige voorsitter van die Erfenisstigting het in ’n onderhoud in Beeld vir die Solidariteit Beweging omskryf as kulturele imperialiste. Oudgenl. Majoor Gert Opperman het gesê hy is teen ’n oorname van die Voortrekkermonument deur die Solidariteit Beweging gekant. Hy gee ’n interessante analise van Solidariteit se besigheid as belangrikste rede:

“Ek het vierkant in die pad gestaan om te voorkom dat Solidariteit die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting oorneem. […] Hulle het ’n baanrekord dat hulle met aggressiewe metodes Afrikaanse instansies wil oorneem. […] Die FAK is reeds oorgeneem en hul kulturele been, Maroela Media is hul kommunikasiebeen, Helpende Hand hul sosiale been en Akademia hul akademiese been. […] Hulle wil die Afrikanerbond ook oorneem en die Voortrekkers het hulle eintlik al de facto. Die gevaar van dié oorname van die Afrikaner is dat een man se siening verhef word tot die Afrikanersiening as daar net ja-broers en meepraters om hom is.” – Gert Opperman via Netwerk24

Ek stem saam met Opperman dat Solidariteit sy besigheid voortdurend uibrei. En ja, dat daar ’n sekere verwantskap tussen Solidariteit se organisasies is, is duidelik. So is dit moeilik om byvoorbeeld ’n kritiese artikel oor AfriForum op Maroela Media se webwerf te vind. Of jy moet die een artikel van Piet Croucamp vind. Maar oor die algemeen is Maroela Media ’n spreekbuis van Solidariteit.

Selfs in die nuuskommentaar, wat tog redelik onafhanklik lyk, het die die afgelope week meerdere oproepe gedaan om aan te sluit by Solidariteit se organisasies.

Maar die vraag is of die kritiek steeds tereg is. Die hoogste bome vang die meeste wind en die Solidariteit Beweging het sedert 2005 maar gegroei tot die grootste Afrikanerorganisasie.

Die vraag is hoe die Solidariteit Beweging so vinnig kon groei. As hulle kulturele imperialiste is, beteken dat hulle ander organisasies verdruk het. Maar hulle het geen ander organisasies verdruk nie.

Ander Afrikaanse organisasies word nie verdruk deur Solidariteit nie. Hierdie organisasies, soos die FAK, maar ook die Afrikanerbond, lê op sterwe.

As ’n mens kyk by die laaste aktiwiteite-aankondiging op die webwerf van die Erfenisstigting, met Gert Opperman as voorsitter, dan sien ons:

“Die jaarlikse Erfenis Gholfdag sal op 22 Februarie 2013 plaasvind by die Dienste Gholfklub, Thaba Tshwane (Voortrekkerhoogte).”

Regtig? Hoe kan die Erfenisstigting nou sy stem dik maak as hy nie daarin slaag om openbare kontakte te hou met sy ondersteuners via sy webwerf? Ek verstaan baie goed dat AfriForum permanente medewerkers in diens het en die Erfenisstigting (amptelik) nie. Want die personeel wat by die Erfenisstigting in diens is, is in diens by die Voortrekkermonument.

Die probleem van organisasies, soos die Erfenisstigting, is dat hulle nie winsgewend is nie. Solidariteit is egter wel winsgewend, omdat hy dienste lewer. Kyk na amper alle organisasies van Solidariteit. Hulle lewer dienste en mense moet daarvoor betaal. Slegs AfriForum Jeug lewer geen betaalde dienste nie, omdat lidmaatskap gratis is. Maar die organisasie het ook slegs twee betaalde personeelslede.

Solidariteit verskil egter van ander besighede, omdat dit sy winste terugploeg die gemeenskap in. So kon Solidariteit daarin slaag om homself groot en belangrik te maak.

Dat inmenging van Solidariteit in ’n organisasie nie beteken dat die organisasie deur Solidariteit gekaap word nie, word bewys deur die Afrikaanse Taalraad. Solidariteit is een van die talle organisasies wat tesame die ATR opgerig het. Hoewel die volledige administrasie van die ATR in hande is van AfriForum, is die standpunte van die ATR volledig anders. Die vorige voorsitter Micheal le Cordeur het genoeg kanse gesien om ’n ander mening te hê oor taalsake as AfriForum. Hy het selfs daarin geslaag planne om die ATR by die Afrikaner Burger Netwerk in te skakel, te torpedeer. Die ATR se nuwe voorsitter prof. Anne-Marie Beukes moet haarself nog bewys.

Maar ander kant is kulturele imperialisme nodig. As minderheid moet Afrikaanssprekendes kan sê: “Genoeg is genoeg. Hier trek ons die lyn.” Om dit te kan hard sê, byvoorbeeld toe die SAUK-nuus na SABC3 verplaas is, is sterk organisasies nodig, wat skokke en vyandige invloede van buite kan oorleef. Dit verg ’n tipe ingesteldheid.

Die Solidariteit Beweging het na die ineenstorting van talle Afrikanerorganisasies, soos die NP, die Afrikanerbond asook die FAK, die Afrikaner weer ’n stem na buite gegee. Dit is nou aan die mense, wat nie saamstem met Solidariteit en Naspers se diskoerse nie, om alternatiewe menings en geluide te laat hoor.

Want alternatiewe menings kan net bestaan as die hoofstroomgeluide sterk genoeg is. Maar die hoofstroom moet darem ook weer nie te sterk wees nie.

Redakteursnota: En dit is hoekom Die Afrikaanse opinieplatform ’n lekker onafhanklike alternatiewe tuiste is. 😉

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s