Resensie: Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran van Eric-Emmanuel Schmitt

Die boek “Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran” deur die Franse skrywer Eric-Emmanuel Schmit, het oorpronklik in 2001 verskyn as ‘Monsieur Ibrahim et les Fleurs du Coran’ nadat dit omgewerk is vanuit die oorspronklike drama. Dit is vertaal deur die akademikus Naomi Morgan, en het in 2015 verskyn in Afrikaans. Dit word beskou as Schmitt se bekendste werk, wat ook as ’n film verskyn het met Omar Sharif wat die hoofrol vertolk.

Die waarde van vertaalde letterkundige werke kan nie na wense onderstreep word nie. Dit ontsluit onbekende wêrelde aan lesers, en verruim daardeur perspektiewe. Goeie vertalings in Afrikaans kom egter slegs drupsgewys, weens verskeie faktore, waaronder finansiële redes sekerlike die sentrale een is. ‘Monsier Ibrahim en die blomme van die Koran’ handel oor die verhouding tussen ’n jong seun en n handelaar wat hy bevriend. Te midde van die verwerping en vervreemding van die hoofkarakter, ontstaan daar ’n verhouding tussen hom en meneer Ibrahim wat vir die hoofprotagonis onder meer emosionele, en uiteindelik ook fisiese sekuriteit bied.

Alhoewel die werk sterk godsdienstige ondertone bevat, soos die titel ook duidelik te kenne gee, speel godsdiens uiteindelik nie die sentrale motief in die werk nie. Momo, die hoofkarakter, se naam is ’n variasie op die naam Moses, terwyl meneer Ibrahim se naam weer ’n variasie is op Abraham. Abraham en Moses is twee sentrale figure in die antieke Judaïsme maar meneer Ibrahim en Momo beoefen nie dieselfde geloof nie – eersgenoemde is ’n Islamiet en laasgenoemde is Joods grootgemaak. Maar meneer Ibrahim val nie in die tipiese idee wat baie mense van Islam het nie. Ook Momo pols hom op keer oor Islam:

“Ek dog alle Moslems drink nie alkohol nie”

“Dis waar, maar ek is n Soefiet”. – (p 29)

Die aardse wysheid van meneer Ibrahim is wat Momo die meeste soek en vind by meneer Ibrahim – iets wat Momo mis in sy eie ouerhuis – “Ek het opgekyk na die hoë, diep boekrak vol boeke wat my pa geërf het en wat veronderstel was om die kern van die menslike gees te bevat: ’n inventaris van alle wette, die subtiliteit van die filosofie . . . Hy (my pa) was afgesluit deur die mure van sy wetenskap.” (p 16)

’n Weersin in die establishment, in boekgeleerdheid. Dit is miskien waar ‘Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran’ aansluit by die diskoers van die post-moderne. Dit, sowel as die sterk dog ietwat subtiele klem op godsdiens. Want in die post-moderne wêreld leef God ook voort, maar die boek kritiseer fundamentalisme, sonder om dit direk by die naam te noem.

Die rol van die prostitute in Momo se lewe sluit ook aan by die post-moderne aard van die verhaal, aangesien Momo geen onberispelike karakter is nie. Nie net besoek hy die prostitute gereeld nie, maar hy is ook dikwels besig met diefstal van veral kos. Maar telkens keer die verhaal terug na die sentrale motief, naamlik die verhouding tussen Momo en meneer Ibrahim. Miskien vertel dit vir ons dat die mens altyd maar smag na medemense, in die besonder na mense wat vir ons hoop gee. Mense op wie ons ons eie lewens kan modeleer en ons laat glo in ’n beter môre.

In die geval van Momo het hy dit gevind in een van die mees onwaarskynlikste plekke – by die mark, in die vorm van meneer Ibrahim, die ‘Arabier’.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s