SONA2015: Opposisie móet parlement nou breek!

Parlementsgebou in die Kompanjiestuin in Kaapstad (Foto: PhilippN / Wikimedia Commons)

Die Suid-Afrikaanse demokrasie staan op ‘n breekpunt. Tydens die staatsrede het die DA die Nasionale Vergadering uitgeloop nadat al die parlementslede van die EFF uiters geweldadig deur polisiebeamptes uit die parlement verwyder is. Die speaker van die NV, Mbete, en die voorsitter van die NRVP, Modise, weier steeds om jammer te wees oor hul ondemokratiese optrede.

Dit is absolute willekeur dat alle parlementslede van die EFF uit die Nasionale Vergadering verwyder is. Slegs vier EFF-lede het vrae aan die speaker gestel. Toe die speaker die vier lede versoek het om hulle uit die parlement te verwyder, het dié EFF-lede geweier. Vervolgens is veiligheidswagte ingeroep en hulle het álle EFF-lede uit die parlement verwyder, nie net die vier wat versoek is om te gaan.

Die speaker moes ingegryp het toe sy sien dat die veiligheidswagte ook die LP’s wat geen reëls oortree het nie, verwyder het. Maar Mbete het niks gedoen nie.

Die feit dat die NRVP-voorsitter en die NV-speaker weier om jammer te wees vir die feit dat daar polisiebeamptes in die vergadersaal gekom het, is onverskoonbaar.

NOOIT MAG DIE UITVOERENDE MAG HOM INMENG BY DIE WETGEWENDE MAG NIE. Die oomblik wat dit gebeur, is dit die einde van die skeiding van magte en is dit die begin van die einde van demokrasie.

Hierdie lyn is rooier as al die ander lyne wat die ANC reeds oorgesteek het.

Frik Lotz skryf dat die VF+ se optrede, deur rustig te bly en die parlement se waardigheid te respekteer, sterk was. Ek stem nie met hom saam nie. Die parlement verkry my insiens sy waardigheid danksy die regverdige wyse waarin parlementslede mekaar respekteer en die wyse waarop reëls toegepas word. In hierdie storie is nie die EFF die boelies van die parlement se waardigheid nie, maar die ANC. Die EFF toon net perfek hoe die ANC die parlement misbruik en hoe die ANC so die parlement lankal van sy waardigheid beroof het.

Ek dink noudat die VF+ die parlement nie verlaat het nie, hy hom konformeer aan of selfs indirek saamstem met die ANC se magsmisbruik in die parlement. Want dít is wat ons Donderdag gesien het. Die VF+ het geswyg toe die ANC sy regeringsmag misbruik het deur polisiebeamptes die parlement in te stuur.

Maar nou het die DA ‘n probleem. Die speaker en voorsitter weier om jammer te wees. Ook nou bly die DA se toon rigting die speaker en voorsitter baie hard. Eintlik kan die DA nie meer in die parlement kom, omdat sy die gesag van die huidige speaker en voorsitter aksepteer meer nie.

Die DA het die parlement vrywillig verlaat en kan eintlik nie sommer weer sy plek in die parlement inneem nie, sonder om te swig vir die aanwesigheid en die gesag van die speaker. Die DA het die grootste moontlike wetlike protes gebruik.

Die voorsitter en speaker moet verdwyn voordat die DA weer aan die vergaderings kan deelneem.

Maar dit gaan nie gebeur nie. Ek dink die NV-speaker en die NRVP-voorsitter sal in hul ambte aanbly.

Dit beteken dat die parlement moet skeur. Die DA moet weier om nog deel te neem aan vergaderings in die parlement. Dit is die grootste vernedering wat sy die ANC op internasionale vlak kan besorg. Alle seine sal internasionaal op rooi staan.

As die DA besluit om die parlement te boikot solank die huidige speaker en voorsitter nog in hul poste is, is dit nie uniek nie. Internasionaal gebeur dit dikwels dat die amptelike opposisie die parlement verlaat as die regerende party demokrasie probeer inperk. Dit het onlangs nog in Hongarye as ook in Curaçao gebeur. In Curaçao was die optrede van die parlementsvoorsitter ook hoogs omstrede. Hy het geprobeer om die regering, wat sy meerderheid verloor het, te red deur geen vergaderings te beplan nie. Die amptelike opposisie het die parlement verlaat en eie vergaderings begin hou, totdat die Goeweneur van Curaçao die krisis besweer het deur die kabinet sowel as die parlement te ontbind en nuwe verkiesings te organiseer.

Die DA sal moet besluit wat hy gaan doen. Maar dit sal baie geduld verg. As die DA te vinnig handel, kan die DA self die groot verloorder word. Maar as die DA dit reg speel, gaan die ANC internasionaal baie aansien verloor. So kan die DA byvoorbeeld haar internasionale netwerk gebruik om die ANC te teiken.

Geduld DA. Dit is in julle mag. Oor die res in die parlement het julle maar min beheer.

En vir wie Zuma, Mbete en die ANC-LP’s nog vertrou: Hierdie lag (direk aan die begin van die video) verraai Zuma se intensie:

Advertisements

2 comments

  1. Ek stem saam, maar die DA moet die ander opposisiepartye insluitende die EFF asook die nie-Zuma vakbonde ken in so ‘n aksie en dit saam met die partye doen.
    Selfs as so ‘n aksie gereel kan word, sal dit waarskynlik eers na heelwat protes, stakings en skade aan die ekonomie die gewensde uitwerking hê.

    Maar as dit nie gedoen word nie sal die skade nog erger wees.

  2. Die VF Plus het nie uitgeloop nie omdat hul in die parlement geplaas deur die mense om te veg vir hul belange. Die VF Plus het beslis nie deur hul optrede te kenne gegee hul stem saam met wat daar gebeur het en alles wel is nie. Gaan lees bietjie wat het hul gesê oor die chaos wat daar plaasgevind het. Dr. Pieter Mulder het op die program Robinson Regstreeks duidelik die VF Plus se saak uiteengesit en duidelik genoem dat pres. Zuma en die speaker die probleem is en nog vele ander probleme wat die ANC se skuld is. Nee, die VF Plus het nie gevlug nie,maar in die parlement gebly sit en hul man gestaan en gewys hul word nie geintimideer nie. Die ANC verlekker hom daarin as opposisiepartye nie in die parlement is nie en daarom moet opposisiepartye nie net elke keer uithardloop of parlementêre reëls minag om n punt te probeer maak en sodoende bietjie publisiteit te kry. Mens moet sterk staan en die regte ding doen. Die VF Plus het die regte ding gedoen! Ek is trots op die sterk leiers vd VF Plus.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s