Vyf redes hoekom 2015 se staatsrede ‘n mislukking gaan wees…

Die saal van die Nasionale Vergadering in Kaapstad (Foto: Shi Zhao / Wikimedia Commons)

President Jacob Zuma gaan pas oor meer as ‘n week (12 Februarie) sy staatsrede in die parlement lewer, maar daar is maar min groen seine vir ‘n goeie staatsrede. Amper al die aanwysers is dieprooi. Die kans is groot dat die staatsrede nog meer ongunstige gevolge vir Suid-Afrika kan hê. Maar oor dié ongunstige gevolge is dit nog moeilik spekuleer. Die president moet immers nog sy staatsrede hou en die gevolge van sy toespraak hang af van die inhoud.

Maar ons kan dalk ‘n bietjie spekuleer oor die onderwerpe in sy staatsrede. Die onderwerpe sal waarskynlik Eskom, die staat van de ekonomie en werkskepping wees. Met sulke belangrike onderwerpe moet dit tog baie maklik wees om ‘n goeie toespraak te hou.

Vra elke man, vrou, skoolkind, wat ‘n bietjie verstand het oor basiese ekonomie en hy of sy sal ‘n goeie toespraak kan skryf; een waarby die inhoud kan bydra aan die ontwikkeling van die land.

Hoewel Jacob Zuma nie dom is nie – ek dink hy is eerder baie slim, anders was hy lankal geen president meer nie – dink ek die staatsrede gaan ‘n mislukking wees. Hier is my vyf redes hoekom die staatsrede gaan misluk:

1. Watter probleme? Is daar probleme?

Die ANC is baie sterk in wat in politieke wetenskap agenda-beheer genoem word. Dit is ‘n feit dat probleme eers opgelos kan word as mense ooreenstem dit is ‘n probleem. Behoorlike oplossings kan net ontstaan as daar ‘n behoorlike probleemdefinisie is. En dit is juis waar die ANC so besig is. By baie probleme ontken die ANC daar is probleme. Voorbeelde van hierdie is byvoorbeeld die probleme met betrekking tot die talewet of die SAUK. In geval van die land se talewet moes die ANC-regering hof toe gevat word om so die ANC die probleem te laat erken. En as die ANC erken daar is probleme, dan probeer hulle die probleme so te definieer dat dit nie so erg lyk nie. ‘n Voorbeeld is byvoorbeeld die probleem van voortdurende plaasaanvalle.

2. Die probleme is nie die ANC se skuld nie

Alle probleme is die skuld van ander mense. Dit is die skuld van apartheid, van Jan van Riebeeck en van kolonialisme. Nee, nooit sal die ANC se manier van bestuur die hoofrede wees van soveel probleme in die land. Die ANC het mos 342-jaar se probleme (van 1652 tot 1994) op sy bord gekry. Hoewel hierdie rede dikwels op die verhoog gebruik word, beïnvloed dit soms ook die politieke beslissings wat die ANC maak. So erken die ANC die voormalige dienspligsoldate van die ou Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) wat in die Suid-Afrikaanse Grensoorlog geveg het, nie as veterane, terwyl MK-lede wat ook in dieselfde oorlog geveg het, wel as veterane erken word. Ondanks dat die Suid-Afrikaanse staat nog steeds dieselfde republiek is, aanvaar die ANC soms nie die opvolgplig oor sake van die vorige regering. Hiermee vergeet die ANC duidelik weer van die skeiding tussen party en staat.

3. Ekstreme oplossings

Die ANC kom soms met die mees vreemde oplossings vir probleme.  Voorbeelde is die muilbandwet wat media moet verbied om geheime stukke openbaar te maak. Die oplossing is nie om die media stil te maak, maar om die rapporte, artikels en planne beter te beveilig teen diefstal. ‘n Ander voorbeeld is die voorgestelde beleid teen die groeiende ongelykheid tussen verskillende groepe Suid-Afrikaners. Eiendomsreg word verder en verder ingeperk en die ANC stel selfs gedeeltelike onteiening (dit kan ook in hierdie staatsrede weer aangekondig word) voor om mense ekonomies te bemagtig. Dit terwyl almal in ontwikkelde lande weet dat grond slegs help om ‘n bepaalde vlak van welvaart te bereik en dit verder maar beperkend werk. In amper alle lande behoort boere tot die armstes van die bevolking. Suid-Afrika is die ontwikkelingsvlak waarby grond kan help lankal verby. Die noodsaak vir klein sakeondernemings is baie groter.

Hierdie ekstreme oplossings het nog ‘n aspek: Hulle word elke jaar ekstremer. Kyk maar terug in die tyd. Die beleid van regstellende aksie of grondhervorming is in 2000 dalk met net so veel argwaan bekyk van vandag se planne, terwyl vandag se planne baie meer radikaal is. Die ANC verplaas elke jaar die paaltjies van planne wat ‘toelaatbaar’ geag word verder na links. Die publiek raak so gewoond aan betwiste planne dat hierdie betwiste planne op ‘n oomblik nie langer betwis is nie.

4. Die ANC is nie werklik in beheer nie

Daar is ‘n moerse gaping tussen die politieke elite van die ANC en wat die kiesers van die ANC op grondvlak dink en wens. Natuurlik  moet daar in elke demokrasie ‘n bietjie verskil tussen die groepe se opvattings wees, maar die kiesers moet in elk geval die gevoel hê dat die elite ook in belang van die stemmers regeer en bestuur. Die gaping tussen die ANC-elite en sy stemmers het nou so groot geword dat die ANC nie meer heeltemal in beheer is van wat in die townships aangaan nie. Tydens apartheid kon die ANC redelik goed besluit wie wat doen in die townships, ondanks die aansienlike beperkings van die NP-regering wat hierdie invloed juis moes breek. Vandag maak mense in die townships juis meer en meer ‘statements’ waarop die ANC geen invloed het nie. Die golf van betogings in 2013 was onder meer ‘n bewys hiervan.

Sou president Zuma in die staatsrede goeie dinge sê, dan sal hierdie planne maar baie moeilik op die grondvlak geïmplementeer kan word, omdat (1) die ANC sy invloed in die townships gedeeltelik verloor het en (2) die staat sy doeltreffendheid en praktiese uitvoerende mag weens korrupsie, wanbestuur en magspeletjies deur ANC-lede gedeeltelik verloor het.

5. Die president se naam is Jacob Zuma

Jacob Zuma self is die laaste rede hoekom die staatsrede ‘n mislukking gaan word. Zuma het sy geloofwaardigheid en sy betroubaarheid heeltemal verloor weens talle oorsake, van korrupsie in Nkandla tot sy uitsprake. Selfs al sou die toespraak wat betref inhoud sterk wees, dan sal hy self die grootste rede wees hoekom mense skepties sal wees oor die toespraak.

Die kans dat sy staatsrede ‘n goeie een gaan wees, sal maar baie min wees. Voor die 8-Januarietoespraak, wat hy vanjaar tydens die ANC-vieringe in Kaapstad gehou het, het baie deskundiges gewonder of Zuma hom by die teks sou hou wat vir hom geskryf is. Die Jan van Riebeeck-uitspraak getuig egter daarvan dat Jacob Zuma steeds sy eie plan trek tydens belangrike toesprake.

Zuma kan op 12 Februarie ook weer die nar wees wat van sy eie toespraak ‘n grap maak.

Ons sal maar moet sien wat president Zuma tydens die staatsrede bring. Maar ek is skepties. Met vyf belangrike redes.

Advertisements

2 comments

  1. En wat gaan die EFF doen? Gaan Malema en sy maters verdere chaos saai? Mens moet hulle nie onderskat nie, hulle dreig daarmee en mens moenie hierdie dreigemente ligtelik opneem nie. . . Die EFF wys lekker tande vir die ANC al is hulle veel kleiner as die DA.

    • Ja-nee, ek stem saam. Die EFF gaan verseker ‘n belangrike rol speel. Maar ek kan baie moeilik spekuleer oor die EFF se invloed op die staatsrede, omdat ek geen duidelike sig het op die strategieë van die EFF en sy verhoudings met die ANC, ook nie op die inhoudelike verhoudings tussen die partye binne die verskillende onderwerpe.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s