Die waarde van die belydenis: Belgiese kerke het ‘Belhar’ in 1998 aanvaar

Groote Kerk in Kaapstad (Foto: Ossewa / Wikimedia Commons)

Die Verenigde Protestantse Kerk in België het die Belydenis van Belhar in 1998 aanvaar. Die kerk het nes die meeste kerke in Suid-Afrika ‘n verdeelde geskiedenis. Die ongeveer honderd gemeentes van die Verenigde Protestantse Kerk in België is verdeel oor die drie Belgiese taalgroepe: Nederlands, Frans en Duits.

Ek weet self baie min van die inhoud van die Belydenis van Belhar. Desalnietemin kan ek ‘n beeld skets, wat nie oor die inhoud van die dokument gaan nie, maar oor die aanvaarding van Belhar en parallelle trek met die aanvaarding van ander belydenisse, spesifiek die Dordtse Leerreëls.

Hoewel prof. Pieter Strauss, professor Kerkreg en Kergeskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat, die Belydenis van Belhar min of meer afskryf met die bewering dat dit ‘n produk van sy tyd is, gaan hy verby aan die feit dat van die ouer belydenisse, soos die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls ook produkte van hul tyd is.

Die Heidelbergse Kategismus is ‘n produk van ‘n Duitse politieke vraagstuk met betrekking tot die Aandmaal.  Die Dordtse Leerreëls is ‘n antwoord op die Vyf artikels van die Remonstrante, wat in 1610 opgestel is. Die Dordtse Leerreëls is opgestel tydens die Sinode van Dordrecht (1618-1619). Die bynaam van die Dordtse Leerreëls is darem met rede die Vyf artikels teen die Remonstrante. 

In hierdie sin kan ons die Belydenis van Belhar vergelyk met die Dordtse Leerreëls. Dit is beide antwoorde op ‘n ander visie en daarmee ‘n produk van hul tyd. Belhar is immers ‘n antwoord op die visie van die kerke op apartheid.

Nes die Vyf artikels van die Remonstrante was hierdie visie op apartheid geen belydenis nie, maar blykbaar ernstig genoeg om ‘n teenreaksie in die vorm van ‘n belydenis te veroorsaak.

Maar dat dit ‘n produk van sy tyd is beteken nie dat dit geen vaste waarde oor ‘n lang tyd kan hê nie.

Ek dink die verskillende Suid-Afrikaanse kerke en gelowiges sal ook beter moet kyk na wat in die buiteland gebeur. Die drie verskillende gereformeerde kerk-families in Suid-Afrika is mos nie die enigste gereformeerde kerke nie: In Nederland is daar mos tientalle vergelykbare gereformeerde kerk-families.

Dat die Belydenis van Belhar deur die Verenigde Protestantse Kerk in België aanvaar is, dui daarop dat die dokument ook buite die konteks van apartheid en transformasie aanvaarbaar is. Dieselfde geld noudat die Belhar-debat stadigaan in die Nederlandse kerke van die Protestantse Kerk Nederland (PKN, die Nederlandse opvolger van die NG-kerk) begin. Die PKN is die grootste protestantse kerk in Nederland, met 1,8 miljoen lidmate. Naas die PKN is daar nog 18 kleiner opvolgers van die oorspronklike NG-kerk.

Ek gaan geen inhoudelike uitsprake oor die dokument doen. Maar ek hoop die sinodes sal in hul wysheid besluit. Ek hoop dat die dokument en debat nie deur vuil politieke speletjies (wat niks met die inhoud te doen het nie) gekaap word nie, maar dat mense kyk na die lewensbeskoulike en religieuse visie in die dokument en hulself sal afvra of hulle volgens die dokument kan en wil leef.

En vir die besluitnemers: Mag die Almagtige en Sy woord u bystaan.

Advertisements

One comment

  1. Dis ‘n goeie stuk van jou. Insiggewend. So lekker om te lees van Belgie en Belhar en die dinge. Ons dominees hier in Suid-Afrika hou nie van Belhar nie jong. Naasteliefde is mos nie ‘n kernwaarde van die Skrif nie. . . En omdat Belhar teen apartheid was is dit ‘anders polities’ as die ander belydenisgeskrifte se tipe politiek. Dis net … nie reg nie!

    Maar wat ons kort, glo ek al meer, is ‘n kerk sonder enige belydenisgeskrifte. Die mensdom is divers. Ons kan Belhar insluit in ons bree kanon van tekste wat ons raadpleeg, wat ook denkers en filosowe buite die kerk insluit. Maar ons moet nooit weer enige menslike geskewe teks tot heilig verklaar nie. Daar is nie ‘n enkele geskrif, hetsy Bybel of belydenisgeskrif, wat totaal buite die politieke konteks van ‘n bepaalde tyd ontstaan het nie.

    Ek verstaan nie die slim professore se redenasies nie. Maar dan, ek verstaan al jare nie enige dominee nie, en hou my maar skaars by die samekomste. Dit terwyl ek eintlik van kerke hou, en wens ek kon weer inskakel. Maar ek kan nie meer enige dogma glo nie. Daar is niks wat vas staan meer nie.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s