Orania wen, maar verloor Zuma na Jan van Riebeeck-uitspraak?

Zelda 'van Riebeeck' la Grange
Skermskoot van Zelda se Twitterprofiel. (Foto: Twitter)

Orania se aanlyn-aanhang groei baie vinnig sedert die uitspraak van president Jacob Zuma dat alle probleme in Suid-Afrika ontstaan het na die aankoms van Jan van Riebeeck in die Kaap die Goeie Hoop.

Hoewel ek hierdie artikel reeds ‘n paar dae gelede geskryf het, moes ek dit twee keer grondig herskryf na die Zelda “van Riebeeck” la Grange-saga.

Na die uitspraak van Zuma dat alle probleme in Suid-Afrika ontstaan het na die aankoms van Jan van Riebeeck in die Kaap, het die Orania Beweging ‘n veldtog begin, met die naam ‘Ek is Jan’, en later het dit verander in ‘Ek is ‘n Jan’. Dit is gebaseer op die wêreldwye Je suis Charlie of Ek is Charlie-veldtog na die terreuraanslae in Parys.

Die veldtog het al gou navolging gekry van talle Afrikaner organisasies, waaronder die Solidariteit Beweging. So het talle Afrikaners op sosiale media na hulself verwys as ‘Jan van Riebeeck’, ‘Jan’ as tweede naam gebruik of hul van verander in ‘van Riebeeck’. So ook Ernst Roets, uitvoerende hoof van AfriForum.

Die aantal ondersteuners van Orania se Facebookblad het gegroei van 15 328 op 11 Januarie na 17 884 op 17 Januarie. Dit is ‘n groei van 2556 ondersteuners in 6 dae. Ek sal nie ontken nie dat ek die aantal ondersteuners op dié Facebookblad monitor. Gewoonlik groei die aantal ondersteuners van Orania se Facebookblad tussen 300 en 500 per maand. Die komende dae, week sal bewys hoe lank die skerp groei aanhou. Die Orania Beweging het in elk geval ‘n tweede veldtog geloods, waarby mense hul eie gratis Ek-is-‘n-Jan-sertifikaat kan bestel.

Die Vryheidsfront Plus het inmiddels ‘n klag ingedien by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie.

Saterdag (gister) het Zelda la Grange, die voormalige persoonlike sekretaris van Nelson Mandela, op twitter hard geskree teen Jacob Zuma en sy uitsprake. Sy het haar profielnaam verander in “Zelda van Riebeeck”.

https://twitter.com/ZeldalaGrangeSA/status/556359243469979648

https://twitter.com/ZeldalaGrangeSA/status/556387445642895361

Sy het egter in emosie onverstandige uitsprake gedoen. Want ander twiets van haar was nie-gefundeerd, onwaar en selfs skokkend. Soos die twiet waarin sy president Hollande van Frankryk aanspreek. En toe moes sy, as eerlike en opregte mens, maar jammer wees. Maar ek skryf daaroor in ‘n volgende artikel.

Wat egter opval in die hele saga rondom die uitsprake van Jacob Zuma, is dat die veroordeling veral kom vanuit Afrikaner-geledere. Ander dele van die Suid-Afrikaanse samelewing is tjoepstil, terwyl Julius Malema en sy Economic Freedom Fighters (EFF) juig.

Ook talle liberale Afrikaners swyg. Dit is myns insiens nie verkeerd nie dat hulle swyg. Elkeen het mos die reg om op te staan sowel as om te swyg; dit is sy eie keuse.

Maar die swygende massa toon ‘n belangrike ding: Zuma se ondersteuning word nie geraak deur die uitsprake nie. Ek dink hy word selfs eerder meer populêr aangesien hy links-radikales met die uitsprake paai. Dit is mos die kant wat in hom teleurgesteld geraak het en  waar hy kan wen.

Die ander kant word mos deur die Demokratiese Alliansie (DA) bedien. Maar Zuma sien die EFF as ‘n groter gevaar as die DA. En darem doen hy hierdie uitspraak, om so die EFF se ondersteunerskorps te paai en om so die EFF se vinnige groei te keer. Maar die EFF sal ondertussen nie sy aanvalle op Zuma & kie stop nie. Die EFF kan net groei as hy kiesers uit die links-midde kan oortuig. En juis daar staan Zuma se African National Cogress (ANC).

Die uitsprake sal eerder die DA as die ANC negatief raak. Die DA is mos gevange in die politiek-korrekte midde. Dit is vir die DA amper onmoontlik om op die uitsprake te reageer. En die DA kan net groei aan sy linkerkant, daar waar dit teleurgestelde ANC-kiesers ‘n tuiste kan bied. As die DA die uitsprake skerp sou veroordeel, sal die groei van die party se ondersteunerskorps aan die linkerkant stagneer.

Maar as die DA stil bly, sal sy kiesers aan haar regterkant verlies. Met name Afrikaners sal nie meer die party wil ondersteun nie. Die DA reken seker dat die winste aan sy linkerkant groter kan wees as die verliese op die regterkant. Die mag van getalle aan die regterkant is gewoon maar net te min. En dit is juis die kant waar die Solidariteit Beweging, die Vryheidsfront Plus en Orania opduik. Hulle sal profiteer van die uitsprake – en dit is reeds te sien.

Maar steeds is dit maar klein bewegings in die gehele politieke landskap. Die ANC sal nie skrik van sulke verskuiwings waarby enige duisende Afrikaners die hoofstroom politieke stelsel verlaat nie, maar vir die Solidariteit Beweging, die Vryheidsfront Plus en Orania kan dit wesentlike verskuiwings en ‘n positiewe hupstoot wees. Dit kan bydra tot die versterking van hul gemeenskapstrukture.

Uiteindelik kan dus die Afrikaner gemeenskap sowel as Zuma se ANC die wenners wees van die Jan-van-Riebeeck-uitsprake van Jacob Zuma. En die effek het Jacob Zuma tydens die skryfproses van sy toespraak dalk gemis.

Advertisements

3 comments

  1. Orania is daardie rariteit in Suid-Afrika – ‘n gemeenskap wat self beheer neem oor hulle toekoms. Tog jammer dat hulle so lanklaas ‘n geskiedenisboek gelees het. Die persoon in die prentjie is nie Jan van Riebeeck nie. Dit is Bartholomeus Vermuyden, ‘n man wat in sy ganse lewe nog nooit sy voete in Afrika gesit het.

    Ek steun steeds Orania se reg tot selfregering. Ons moet hulle ondersteun. Maar dit is tog jammer dat sommige mense nie meer belangstel in die nuuste ontwikkelinge in die geskiedskrywing nie. Professor Hermann Giliomee se boeke is tog redelik genuanseerd en gesaghebbend dan nie? Maar in plaas daarvan is hulle tevrede om te bly vassteek by die apartheidsdogma van hulle kinderjare.

    Presies nes sekere mense bly vassteek by die 1953 Bybel al is dit ook algemene kennis dat die 1983 vertaling op ‘n ouer grondteks gebasseer is. Maar so is die brein. Lui. En vol aannames!

    Ek is nie Jan nie. Jan is niks van my nie. Hy het net 10 jaar hier gebly en sy taak was om ‘n verversingspos te stig – nie ‘n permanente sogenaamde “beskawing” hier te plant nie. Hy was ‘n amptenaar van die geldgierige VOC en die Boere het later met reg in opstand gekom teen die VOC se uitbuiting en geldgierigheid.

    Nee wat. Ek is nie Jan nie. Maar om van Jan die oorsprong van AL ons land se probleme te maak is natuurlik ewe belaglik.

  2. President Zuma se uitsprake is regtig verregaande. Hy leef in sy eie droomwereld. Interessant is die DA se stilswye. Dit wys hul voel niks vir Afrikaners se strewes en belange nie. Dis tyd dat Afrikaners hul volle gewig by die VF Plus ingooi.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s