Redakteursnota: Laat ons saam die vrye woord verdedig!

Ek is Charlie

In Frankryk het Woensdag die ergste vorm van sensuur plaasgevind: gewapende moslemterroriste het die redaksie van die weeklikse tydskrif Charlie Hebdo in Parys bestorm met die doel om dié redaksie vir altyd te laat swyg.

12 mense, insluitende die redakteur, joernaliste, tekenaars, polisiemanne en ‘n skoonmaker het in die aanval gesterf.

Maar Charlie Hebdo wil nie stil wees nie. Die weekblad se uitgewer gaan die oplaag vir die volgende uitgawe, wat volgens skedule vir volgende Woensdag beplan is, is met 875 000 verhoog tot 1 000 000 eksemplare.

Charlie Hebdo is nie ‘n regse weekblad nie. Dit is eerder uiters links, maar steeds en altyd geweldloos. Die weekblad stry met satire teen alle vorme van gesag, religie en als wat vryheid beperk. Jode, Christene, Moslems, diktators, terroriste, die pous: Charlie Hebdo dryf die spot met jou.

Terroriste mag nooit wen nie. Ook al jag die polisie – op die oomblik dat hierdie skrywe geskryf word – steeds op die daders, 36 uur na die daad.

Satire is die wapen van Charlie Hebdo. Spotprente en teks. Niks is magtiger as die kombinasie. Dit spot. Dit raak. Elke teenreaksie op satire is ‘n verlies vir die wat daarteen agiteer. Woorde werk nie teen satire nie. Daar is geen anti-gif teen satire nie. Dit is so magtig dat moslemterroriste gedink het dat hulle outomatiese wapens moes gebruik om die satire stil te maak.

Hierdie is nie ‘n “gewone” aanslag nie, net om so veel as moontlik mense dood te maak en angs in ‘n samelewing te skep nie. Dit is ‘n aanval op die demokrasie soos dit in die meeste westerse lande bestaan. Dit is ‘n poging om ons mening, ons regte, ons wese stil te maak.

Moslemterroriste het uit naam van hul geloof ‘n aantal joernaliste vir altyd laat swyg. Dit was die joernaliste met die meeste moed. Charlie Hebdo se redaksie was een van die laaste wat nie bang is nie. Na ‘n aanslag met brandbomme op die redaksiekantoor in 2011, het die weekblad grappies oor die aanslag gemaak.

Die swaard mag nooit die pen verslaan nie. Laat ons saam die vrye woord en die vryheid van spraak verdedig.

Die enigste manier om die wapen te laat swyg, is om die pen te gebruik. Laat jou stembande praat, gebruik jou reg om uit te spreek. Anders sal die wapen ons altyd agtervolg.

Die Afrikaanse opinieplatform wil vir almal ‘n tuiste bied, ongeag jou mening. Dit is ons basis. Ons hou nie van sensuur nie, verseker nie as dit deur ‘n staat  of sekere ideologie afgedwing word nie. Ons vind dit absoluut onaanvaarbaar dat geweld op die mees gruwelike manier ingespan word om sekere menings te verdryf.

Ons gedagtes is by die mense wat rou om die verlies van hul geliefdes en vriende.

Vandag, op Donderdagaand het derduisende mense in honderde stede en dorpe in heel Europa betogings gehou. Miskien het honderdduisende mense in talle Europese stede gedemonstreer. In Nederland was daar betogings in meer as 30 stede en dorpe en in Amsterdam was daar reeds 18 000 betogers.

Laat ons saamstaam. Deel jou afsku.

Ek is Charlie. Saam is ons Charlie. Je suis Charlie. Nous sommes Charlie Hebdo.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s