Resensie: Waarom soveel Bybelvertalings? van prof. dr. Jan van der Watt

Die voorblad van De Gansche Heilige Schrifture, die Bybel se Statenvertaling (Foto: Nederlands Bijbel Genootschap / Wikimedia Commons)

Die Bybel is een van die mees verwarrendste versamelings boeke wat daar op aarde bestaan. Verskillende geloofstradisies gebruik verskillende kanons. Een groepering beskou sekere dele as outoritêr terwyl andere dit verwerp. Bybelboeke is oor die jare aangepas, verkeerd oorgeskryf, is uitgelaat en ingevoeg, maar hulle oefen steeds ’n reusagtige invloed uit op die moderne mensdom.

Te midde van al die chaos en verwarring oor die Bybel, is Jan van der Watt se boek uiters verfrissend. Dit weerlê heelwat van die mites wat floreer rondom die Bybel. Een so mite is byvoorbeeld dat die ganse moderne kerk die skepsel is van die Romeinse politieke orde. Dat die Rooms Katolieke kerk, deur die amptelike vasstelling van die Roomse kanon, grootliks die doel gehad het om ander groepe volgelinge van Jesus te onderdruk. En hoewel daar sekerlik sekere gevalle kan bestaan van godsdienstige onverdraagsaamheid, is dit onwaarskynlik dat die ganse sogenaamde ‘nuwe Testament’ ‘n vervalsing is.

Trouens, ontdekkings by die grotte van Qumran het hierdie dinge bevestig. Daar was wel verskillende weergawes van dieselfde teks in omloop, maar die verskille is as n reël nie reusagtig nie.

Vir my was een van die grootste lesse wat ek uit hierdie boek geleer het, veral dit wat Van der Watt te sê gehad het rondom die Afrikaanse vertalings, en in die besonder die sogenaamde 1933/53 vertaling, vis-a-vis die 1983 vertaling. Van der Watt verskaf ‘n breë raamwerk vir van die bekendste vertaalteorieë, en illustreer noukeurig dog opsommend enkele van die groot kopsere waarmee vertalers gekonfronteer word.

As een voorbeeld – die ablaut verskynsel is baie ongewoon in Afrikaans. Dit is die gebruik van menige lid van die Indo-Germaanse taalfamilie waar ’n bepaalde klinker in ’n woord omvorm sal word, sodat die woord uiteindelik toegevoegde betekenis kry. In Afrikaans is ablaut grootliks afwesig, en is grootliks beperk tot tydsaanduiding, byvoorbeeld ‘gestorwe’ in plaas van ‘gesterwe’. Maar van hierdie ander Indo-Europese tale, krioel van die goet.

Die resultaat in spesifiek Grieks, is dat die woordorde van bepaalde sinne uiteindelik baie minder saak maak as in byvoorbeeld Afrikaans. Daar word ook gepraat van die analitiese aard van Afrikaans, waar Grieks of Italiaans baie meer sinteties is. Wanneer sommige sinne vanuit Grieks vertaal word, kan die sinne dus totaal onlogies voorkom wanneer dit woord vir woord gedoen word. In ander gevalle werk die woord vir woord vertaling egter redelik goed. En hoewel sommige vertalings meer fokus op woord vir woord vertalings, soos die 1933 Afrikaanse vertaling, gebruik alle vertalings uiteindelik eerder ’n kombinasie van vertaalteorie om by die finale produk uit te kom.

En hierdie is maar net een faktor wat ’n rol speel by vertaling. Daar is heelwat ander. Kom mens byvoorbeeld by die saak van idiomatiese taalgebruik, dan is dit chaos van een taal na die volgende. En elke kultuur het sy eie idiomatiese erfenis wat uiteraard ook neerslag vind in die Bybel en die proses van vertaling beduiwel.

En hoekom het sekere sinne ‘verdwyn’ uit die 1933/1953 Afrikaanse vertaling. Die rede is eenvoudig dat die brontekste van die twee vertalings, die 1933 en die 1983 vertaling, totaal verskil het. Dekades se ontdekkings en akademiese insigte het daartoe gelei dat die besef ontstaan het dat sekere sinsnedes of gedeeltes waarlik nooit deel van die oorspronklike tekste was nie. Vir baie eeue was die tekste met die hand oorgeskryf. Die proses was uiteraard nie altyd 100% akkuraat nie. Dinge is weggelaat of bygevoeg, soms aspris, meestal per ongeluk. Teen 1983 was vertalers nader aan die oorspronklike Grieks as in 1953. En so is dinge toe uitgelaat.

Daar bestaan baie boeke wat hierdie onderwerpe aanraak, maar wat uniek is van Van der Watt se boek, is die feit dat dit in Afrikaans is. Nooit weer kan mens weer ’n Bybel optel en dieselfde daaroor dink as jy hierdie kort maar kragtige werkie gelees het nie. Om te wil beweer dat mens die Bybel en NET die Bybel moet lees, is absurd, dit het ek net weer besef. Daar is baie wat mens kan leer deur aanvullend te lees oor die geskiedenis van die Bybel, hoe dit ontstaan het, hoe dit vertaal was, hoe die wêreld was waarbinne die skrywers van die Bybel geleef het, en dies meer.

“Waarom soveel Bybelvertalings” is nie net van waarde vir mense van een bepaalde geloof of groepering nie. Alle mense kan baat by die lees daarvan. Die Bybel is so ’n invloedryke boek, dat van die grootste geeste inspirasie daaruit geput het. Een so voorbeeld is Ghandi, wat ’n spesiale plek vir die Bybel en in die besonder vir Jesus gekoester het. Deur meer te leer van andere se kulture en gelowe, en in die besonder hoe hulle heilige boeke gekom het tot waar dit vandag is, strek enige mense tot voordeel.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s