Bouwer Bosch volg in antieke voetspore met sy korrelasie tussen Christenskap en antirassisme

Dit is vandag geen vreemdheid meer om die wortels van die Christelike geloof te bevraagteken nie. Mense worstel met die teologiese regverdiging van apartheid en die verdeeldheid in kerke. Die ‘historiese Jesus’ is knaend onder die soeklig. Die Gereformeerde geloof van ons Nederlandse en Franse voorouers, wil vir baie mense vandag na aannames lyk. En dis ons voorreg om te mag twyfel. Daar was geen vryheid van geloof in die koloniale Kaap waar die Nederlanders hulleself gevestig het nie. Kerk was met geweld afgedwing, en kerk en staat was een, anders as vandag.

 

In daardie jare, en vir baie ander jare, was dit so. Augustinus se teologie was koning. Die kerk was gesien as die verteenwoordigers van God se koninkryk op aarde, met God wat iewers aan “die ander kant” is. Maar vandag kry ons die Julian Mullers van die wêreld, wat sê nee, God is nie iewers aan die “ander kant” nie, God is in alles en alles is in God. Baie ander mense is ateïste, en hulle baklei teen godsdiens en beledig Christene en stig NGO’s.

 

Of jy nou hou van die kerk, of van God, of nie. Die evangelie staan nie in almal se oë vas nie. Maar daar is dinge wat wel vas staan. En een  so ding is die ontsaglike invloed wat die Abrahamistiese gelowe op die mensdom uitgeoefen het. In Jesus, byvoorbeeld, het die mensdom deel aan God gekry. Vir party mense letterlik. Vir andere teologies. Vir almal het dit egter praktiese implikasies.

 

Die wêreldbekende skrywer Karen Armstrong skets in een van haar vele publikasies, The great transformation, hoe die Judaïsme ’n sentrale rol gespeel het in die ontwikkeling van menslike moraliteit. Daar het onlangs weer ’n werk van haar verskyn waarin sy argumenteer dat godsdiens nie die groot rede is vir meeste oorloë soos wat so dikwels beweer was op ’n stadium nie. Trouens, die argument dat godsdiens al die groot oorloë veroorsaak het, is iets wat mens deesdae nogal veel minder hoor as wat jy so ’n 5 jaar gelede nog het.

 

Dit is miskien so dat kerke, nes nasionalismes, hulle mites skep. Maar die militante ateïsme  is self baie lief vir die skep van mites.

 

Bouwer Bosch se opmerking dat mense nie hulleself Christene kan noem en terselfdertyd ook rassisties kan wees nie, volg in ’n baie ou tradisie, omdat dit die aard was van die vroegste mense binne die Jesus beweging. Ons weet reeds dat vroue ’n sentrale rol in Jesus se bediening gespeel het, veral in die vorm van Maria Magdalena. Die Katolieke kerk sou later, vir eeue lank, Magdalena se karakter demoniseer.

 

Die Christelike geloof is vandag die heel grootste geloof op aarde, maar dit kon so maklik anders gewees het. Rome was eintlik ’n kosmopolitaanse plek, met baie gode, baie tipes mense. En hulle was almal welkom. Die Christelike geloof het klein begin. Net maar nog ’n obskure godsdiens, een van vele, en gegroei tot die grootste beweging in die ganse geskiedenis van die mens. Daar word gesê, dat dit veral vroue was wat in die vroeë jare in hulle massas na die Christelike geloof bekeer het. En alhoewel meeste godsdienste welkom was en verdra was in Rome, het die Christene ’n uiters gehate klomp mense geword. Die rede? Dit is omdat Christene die idee van spirituele gelykheid verkondig het, tesame met die verwerping van die Roomse gode.

 

Die idee van gelykheid van alle mense. Vroue. Swartmense. Oosterlinge. Enige mense. Almal is uiteindelik gelyk.

 

Bouwer Bosch se musiek is nie iets wat my geval nie. Ek het hier iewers ’n laserskyf van die Straatligkinders wat ek nie twee keer kon deurluister nie. Ek vind Steve Hofmeyr se sterk melodieë en sy rasperstem véél meer vermaaklik. Maar wat ek verdag vind, is dat jy dieselfde platform vat, en daarop laai jy Bybelversies, net om die volgende oomblik te verklaar dat ander rasse minderwaardig is. Dat hulle apartheid oor hulleself gebring het, omdat hulle kwansuis nie op dieselfde vlak was as die blankes nie. Dit is geen voortsetting van die tradisie van die antieke Jesus beweging nie.

 

Die antieke Romeinse Ryk, waar Jesus sy bediening gelewer het, was ’n plek waar daar ook swart mense was. Jesus se volgelinge sou nooit op hierdie mense neersien, of hulle eenkant toe geskuif het nie.

 

Dit is by hierdie Christene wat ook ek, as nie-volgeling van daardie geloof, baie leer. Ek is trots daarop om te kan sê dat ek sulke Christene ken, en dat ek hulle my vriende kan noem.

 

Bosch sing:

 

“Ons gaan aan asof Jesus ’n voortrekker was”

 

Sien die volledige video hier:

 

http://www.channel24.co.za/Night/News/Afrikaans-singer-You-cant-be-a-Christian-and-a-racist-20141119

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s