Om jou geluk na te jaag is jou plig teenoor andere

Geluk. Wat is geluk? Ek dink party dae hieroor. Nie te veel nie. Net bietjie. ’n Mens se idee van geluk verskil van dag tot dag, van seisoen tot seisoen van die lewe. As jy ’n kleuter is, dan maak sekere dinge jou gelukkig, as jy tiener is ander dinge, as jy middeljarig is ander dinge, as jy oud is, ander dinge.

Maar is geluk iets wat ons moet soek in die lewe? Is dit nie selfsugtig om net te wil lewe vir ons eie geluk nie? Moet ons nie ons medemense se behoeftes eerste stel nie?

Ek reken die antwoord le in die begrip “hipernorme”. Ons moet oppas vir hipernorme in die lewe. Hipernorme is idees en gedagtes wat van ons hele wese besit neem. Daar is in die geval van hipernorme niks wat ons dan doen sonder dat ons dit eerste en bo alles meet teen daardie een norm nie. Tipiese hipernorme in ons land is dinge soos geld. Party mense lewe vir geld. Hulle dink die hele tyd aan geld. Alles word in rand en sent gemeet asof hulle die dinge wat hulle opgaar saam na die graf sal neem. Natuurlik is dit belangrik om oor geld te dink, maar dit sal sinneloos wees om dit altyd eerste te stel. Met daardie logika sal jy nooit ’n lekker boek lees of vakansie kan neem nie, want dit kos geld.

Ander hipernorm is ras. Maar laat ek nou liewer nie veel hieroor sê nie.

God of die Bybel kan ook ’n ongesonde hipernorm word. Geloof en godsdiens kan ’n baie gesonde invloed op die individu se lewe uitoefen. Die kerk kan ’n veilige ruimte skep waar iemand gekoester kan voel en netwerke kan bou. Maar wanneer iemand elke laaste ding wil oordeel aan wat in die Bybel staan, dan is dit chaos. Die Bybel kan wel normatief wees vir mense, maar daar moet gewaak word. Dit was boeke wat die uitvloeisel van mense se geloof in God was, en was eers later begin gebruik as die VERTREKPUNT van ’n klomp ander mense se geloof. Nie alles wat daarin staan kan op moderne mense van toepassing gemaak word nie. Die Bybel leer ons hoe ander mense oor God gedink het, en God ervaar het. Hulle wereld en norme was anders as wat ons s’n vandag is.

Ag so kan ek aangaan, daar is baie voorbeelde van hipernorme, en die punt wat ek maak is, selfs geluk moet nie ’n hipernorm in die mens se lewe wees nie. Ons moet soms dinge doen wat ons ONGELUKKIG maak. Ons moet die vullis verwyder en die kooi regtrek. Dis vervelig, maar dit moet. Ons moet soms mekaar help. Uit ons pad gaan. Mekaar se laste help dra.

Tog moet ons ook nie die idee van geluk totaal by die deur uit jaag nie. Gelukkige mense is produktief, en hulle geluk steek andere aan. Daarom sal ons ook die wêreld ’n onreg aandoen deur nie ook maar binne perke ons geluk na te jaag nie.

Wat van logika en/of intelligensie? Kan DIT ons nie lei nie? Kan DIT nie ’n gepaste hipernorm word waarvolgens ons onse lewens kan rig nie? Helaas nee, want ook teen koue logika het die mens al in stryd gekom. Kyk net na die hippies. Die hippies het baklei teen geleerdheid. Wat het geleerdheid daardie jare se mense gebring? Atoombomme. Oorlog. Chaos. Wreedheid.

Daar is orde in chaos en chaos in orde, en die lewe is nie ’n suiwer wetenskap nie. Dit is soos om geskiedenis te skryf, dis deels wetenskap, en dis deels kuns. Dis wat dit so moeilik maak. En dis wat dit so lekker maak.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s