Gedagtes rondom opiniestukke en hoe nuanses ons ontglip, en hoekom ons baie boeke moet lees om perspektief te ontwikkel

Mens! Jy kan baie woordoorloë baklei en wen in die kuberruim. Twitter. Opiniestukke. Jy kan BAIE artikels lees in populêre media oor andere se idees en indrukke oor die verlede. Wat ek so fassinerend vind, is hoe sommige mense deesdae die Waarheids-en-Versoeningskommissie se statistieke aanhaal as outoritêr. Mense wat self eens op ’n tyd die meriete van die WVK verwerp het. By die WVK se eie bekentenis, het hulle maar ’n klein deel van Suid-Afrika se wandade aangeroer. Daar was eenvoudig nie die geld en mannekrag en die tyd om alles te dek nie. Die verslag het AL die partye se wandade ondersoek. Daar was gepraat van “kollektiewe skuld” (anders as wat daar deesdae op sosiale netwerke al die skuld net op swart mense afgepak word deur sommige mense). Ja, so erg was dinge met betrekking tot die WVK se verslag, dat in 1998 toe dit vrygestel moes word, die African National Congress bitterlik verdeeld oor wat alles in die verslag geskryf staan, terwyl De Klerk dele van die verslag op die laaste nippertjie uitgeblok kon kry. Was dit nie vir Mandela nie, dan kon daardie hele mooi verslag dalk nooit die lig gesien het nie.

Die probleem met geskiedskrywing, is dat dit, anders as die Filosofie, eintlik ’n heel wetenskaplike dissipline is. ’n Mens kan met bepaalde idees oor die wêreld rondloop, en met die vermoë om ’n meester van retoriek te wees. Jy kan baie “volgers” op Twitter he, maar die bewyse le maar oral rond. Harde bewyse. Die geskiedenis van Suid-Afrika word nie geskryf deur Twittergebruikers nie. Dit is professionele historici wat dit doen. Dit is die museumwetenskaplikes, die argivarisse, die skrywers, wat die stories dokumenteer.

Die hoeveelheid boeke en vakartikels wat al geskryf is se meriete oortref al hierdie geskree en baklei op Twitter, tot 70 maal 7 keer doen dit. Dit is bloot maar klemverskille met interpretasie hier en daar wat mense verskil. Oor die feite stem die meeste saam. Die een rede hoekom Hermann Giliomee so groot byval vind, is omdat hy by die beginsel hou om historiese karakters binne hulle konteks, bepaald met die waardes van hulle tyd te oordeel. Dit getuig van selfkritiek.

Dit is nou al so holruggeryde storie dat die een party “beskawing” en “hospitale” en wie weet wat als gebring het. En dat die ander mense van die land geen rol hierin gehad het nie. Daar is uiteindelik grootliks net een rede hoekom Europa in Afrika betrokke geraak het, en dit was vir gewetenlose gierigheid. Dit is so goed gedokumenteer dat dit eintlik belaglik is om hierdie idee te bevraagteken. Maar mens kan ook nou maar jou bronne gaan afstof, dan sal die aanvalle teen daardie skrywers begin. Daar sal tot aan die bitter einde baklei word dat die bronne vals is. Die skrywers verdag. Die bewyssktukke onbetroubaar ensovoorts.

Wat my eie mense betref, die Boeremense, tja, hulle het van Europa af hulle geloof gebring. Die taal? Ja. Tot ’n mate seker. Maar Afrikaans is ’n Afrikataal. Jare voor Jan van Riebeeck aan die Kaap gevestig het, het mense aan ons kus ’n “vereenvoudige” tipe Nederlands gepraat met amptenare van die VOC, waarvan kenmerke in latere, sogenaamde “Standaard Afrikaans” ook uitgebroei het. Dit het ek anderdag gesit en aanhoor by die een of ander taalprofessor tydens ’n lesing by NALN. Die reuse versameling rekords van die VOC bewys hierdie dinge. Toeval? Ek weet darem nie.

Maar wat ek wel weet, is dat die ou Boere maar grootliks bestaansboere was. Hulle het eintlik ’n weersin gehad aan baie ontwikkelinge. Dit was eers teen die 20ste eeu wat hulle noodgedwonge begin deelneem het aan die kapitalistiese kultuur.

Oorloë in Afrika? Chaos? Wreedheid? Dit was daar. Maar wat van Europa en die VSA? Van die Romeinse Ryk tot die Franse Revolusie, die twee wêreldoorloë, en al die VSA se konflikte – is die Weste regtig so beskaafd en vreedsaam? Die Romeinse Ryk was onmenslik wreed, en weens hierdie monsteragtige wreedhede kon hulle politieke orde handhaaf.

Die ou Suid-Afrika, net soos die koloniale orde met sy slawehandel, en net soos hierdie neo-kapitalisiese wêreld waarin ons vandag lewe, is een wat uiters sterk geleun het op goedkoop arbeid. Daar word nie verniet deur sakemense gesê dat jy nooit ryk sal word deur vir andere te werk nie. Goedkoop arbeid is een van die heel nuttigste dinge waaroor die “ou” Suid-Afrika beskik het.

Trouens, dis vir hierdie rede dat die Weste, Engeland, die VSA, en so baie ander lande, liberaal in die apartheidsbestel ingekoop het. In hulle eie lande verdien ’n drywer, ’n bakker, ’n graf grawer, selfs ’n kelner, mos meestal ’n leefbare geldjie. Dikwels as hulle ons land besoek, dan is hulle verstom oor die groot spul arbeiders wat ons gebruik vir iets so eenvoudig soos ’n karwassery, en dan sal hulle opmerk hoe duur arbeid in Europa is, en dat dit net nie moontlik sal wees om so baie mense te huur vir daardie een taak nie.

Voor 1994 was daardie arm klas die swart mense van die land. Dit is natuurlik so dat daar reuse kultuurverskille is tussen ons land se mense. Maar die ekonomie skik die orde. So was dit in die verlede en so is dit nou. Wit en swart is afhanklik van mekaar. Daar is VERSKRIKLIK baie mense wat staatsubsidies kry in ons land. Buitengewoon baie. Maar daardie R1300 of wat rand wat elkeen kry dra so baie besighede. Dit is inderdaad so dat baie besighede op veral die platteland nie sal kan oorleef as daardie mense nie die “grant” kry nie.

So is al die land se mense van mekaar afhanklik. Dit was nog altyd so, en dit sal altyd so wees. Om Twitteroorloë hieroor te veg, gaan ons nêrens bring nie. Dit is belangriker dat ons hande vat, en mekaar bou. Die Boeremense van Suid-Afrika is REUSE onregte aangedoen deur die Engelse, maar nadat Engeland die land tot in die grond afgebreek het, het hulle ook baie kom belê in hierdie land. Ja hulle was ’n hoogmoedige, beterweterige spul, maar hulle het die standaard gestel waarteen die Boere hulleself begin meet het.

Ons almal veroorsaak probleme vir onsself en vir mekaar. Die hele ding van kollektiewe skuld. Maar daar is ook baie wat ons kan doen om kollektiewe oplossings te vind. Om basiese feite oor die verlede te ontken, is nie iets wat ons hiermee gaan help nie.

Advertisements

2 comments

  1. Ag nee, Barend,wat het jy dié keer geskryf? Ek stem glad nie saam met wat geskryf is nie,regtigwaar! Maar nou ja, jy het die reg op jou opinie en ek respekteer dit. Dis hoe demokrasie werk, elkeen gee sy opinie en het respek vir mekaar,hetsy jy saamstem of nie.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s