Gedagtes rondom die oudste rekords oor Jesus

Daar is nou al weer groot sensasasionele beweringe rondom Jesus van Nasaret: Hier gaan ons AL WEER . . . Is miskien al wat ek kan bylas. Maar nee, kom ek contemplate bietjie hierdie storie:

Dit is jammer dat die oudste rekord oor Jesus, nie ’n ensiklopedieinskrywing was nie, maar ’n brief gerig aan die gemeente Tessalonisense. Dis jammer maar dis nou so. Ensiklopedie het nie in daardie jare bestaan sover my kennis strek nie. Ook die metodiek van die antieke geskiedskrywing was primitief by vandag se standaarde. Die probleem met ’n brief is dat dit, anders as ’n ensiklopedie, aan ’n bepaalde individu of gehoor gerig word wat aan die skrywer bekend is. Die skrywer kan dus aanneem dat sy lesers reeds vertroud gaan wees met bepaalde begrippe. Wat het die skrywer van Tessalonisense presies verstaan onder die begrip “Jesus”? Wie Jesus was, wat die details van sy lewe was, ens. ens. Dit kom nie heeltemal duidelik voor in ’n brief nie. Nogtans is dit veelseggend dat hierdie brief minder as twee dekades na Jesus se dood geskryf was, en dat die idee van Jesus as ’n messiaanse figuur duidelik uitgestippel word, veral die gedagte dat Jesus terug sal keer na die aarde. Die evangelies daarenteen is veel meer problematies. Die antieke skrywers daarvan was beslis nie historici soos wat moderne historici is nie. Dit was skynbaar ook nie geskryf met die doel om ongelowiges tot die Jesus beweging te bekeer nie, maar om bestaande lede aan die verhale te herinner, omdat die vroee kerk nie toegang tot hierdie boeke gehad het nie, en hulle geloof in Jesus gebasseer het op mondelingse tradisie. Dit het eers later die gebruik geword om die evangelies te gebruik as boeke om mense te ‘bekeer’. Die Bybel, kan ons dus voltrek, is dus nie die oorsprong van mense se geloof in God nie, dit is bloot maar die produk van mense se geloof. En enige poging om data vas te vang, veral met primitiewe tegnologie soos perkamentrolle en ink, wat met groot moeite oor en oor geskryf moes word met die hand, was blootgestel aan uitdagings.

 

Ek bestudeer nie die antieke verlede omdat ek geld daaruit maak soos Jacobovici of Dan Brown nie. Inteendeel, ek spandeer BAIE van my geld op boeke en oudiovisuele materiaal om te leer. My pogings is ook nie daarop gemik om “DIE WAARHEID” vas te stel nie. Ek het my geloof en dit is die van die agnostiese oortuiging. Daarby staan en val ek. Maar ek is wel oortuig dat met ’n deeglike studie van die verlede, kan mens wel daarin slaag om tot ’n redelike mate die kaf van die koring te skei.

 

Oor die bewering dat Jesus met Maria Magdalena getrou het, staan ek skepties. Dit glo ek nie sal ’n skok wees vir enige iemand nie. Ek staan ook skepties oor baie ander sake, soos die volkstelling, die reis na Bethlehem, die reis na Egipte met baba Jesus (wat waarskynlik ingevoeg was om by bepaalde profetiese voorspellinge oor die Messias in te pas). Ek vermoed daar bestaan wel die moontlikheid dat daar ’n ou manuskrip kan wees iewers waarin dit sê dat Jesus getrou het en kids gehad het. Volgens die ongekanoniseerde evangelie van Phillipus, het Jesus vir Magdalena “gesoen”, en baie mense neem aan dit was op die mond, aangesien die stukkie papier wat daardie detail moes onthul soek is. Jacobovici het egter in die verlede al reuse flaters begaan. Daar is baie antieke tekste geskryf, kindsheidsevangelies, waar Jesus sommer as ’n bose klein kind uitgebeeld word. Daar is evangelies oor moeder Maria, ryke detail in baie boeke oor Jesus en sy tydgenote, waarvan die oorgrote meerderheid nie as histories beskou word nie.

 

Dit is voorts waarskynlik so dat daar geweldige druk op Jesus sou wees om WEL te trou. In daardie jare, nes vandag maar in konserwatiewe gemeenskappe, word dit vriendelik verwag van mense om te trou en kinders te he. In Jesus se tyd was dit eintlik half ondenkbaar vir ’n man om die NIE te doen nie. Dit is gesien as grensend aan sonde en selfsug om nie kinders te he nie. Dit het jou hele kort bestaan op aarde gedefinieer.

 

Maar soos so baie details oor Jesus se lewe, glo ek nie dit kan bewys word nie. Die sekerste wat ons weet, die naaste wat ons regtig kan kom, is om te kyk hoe het andere oor Jesus gedink. En daarin is die briewe van die apostel Paulus baie kosbaar.

 

Die evangelies is ook baie interessant, maar dis nie historiese boeke nie. Die feit dat die evangelies mekaar kontrasteer is vir my meer ’n bewys van die meriete daarvan as wat dit die historiese waarde daarvan weerle. Hoe kan ek dit sê? Hoe kan ek sê die feit dat ek WEET dat al die inligting daarin NIE 100% betroubaar is nie, dat dit die meriete daarvan verhoog?

 

Dit kom weer terug na die feit toe dat antieke geskiedskrywers nie met moderne geskiedskrywers vergelyk kan word nie. Die metodiek van die antieke skrywers het net hemelsbreed verskil van vandag se mense. Maar as die hele nuwe testament een groot fiksie skepsel is soos wat sekere mense dit wil he, en dat die Roomse Kerk die outeurs van hierdie fiksie was, dan sou die Roomse Kerk tog seker een groot samehangende spul tekste geskep het, sonder enige teenstrydighede, sou hulle nie?

 

Dat Jesus ’n historiese figuur was, daarin het ek min twyfel. Ek grond my idee op die bogenoemde, maar ook op die werk van Geza Vermes, wat baie wyd beskou word as die heel grootste gesagfiguur op die onderwerp van die sogenaamde ‘historiese Jesus’. Hoewel Vermes se werk as omstrede beskou word deur baie mense, omdat hy veral ook baie van die historiese waarheid agter baie detail in die evangelies verwerp, is sy gevolgtrekking dat daar ongetwyfeld iemand soos Jesus bestaan het.

Advertisements

3 comments

  1. Jesus Christus is deel vd Goddelike Drie Eenheid. Hy is God, Hy het vlees geword,gesterf aan die kruis,opgestaan uit die dood,opgevaar na die Hemel en Hy lewe en Hy is my God!

    • Frik, dit is goed so. Dit is jou siening en ek aanvaar dis jou mening. Ek verwerp nie jou mening 100% nie, omdat ek self nie regtig ‘n vaste geloof in enige iets het nie. Miskien is jy reg en ek verkeerd.

      Die bogenoemde het ek geskryf nie om enige finale gevolgtrekkinge te maak nie. Dit is my gedagtes rondom die idees dat Jesus getroud was met Maria Magdalena en kinders met haar gehad het. En dan is daar ook die sogenaamde “Christ myth theory” wat die laaste ruk weer taamlik opgevlam het. Dit is die teorie dat daar nooit regtig iemand soos Ya’shua (Jesus) bestaan het nie.

      Die bogaande stuk is my idees oor hoekom ek skepties is oor daardie gedagtes. Ek is opgelei as historiese navorser, en dit is die benadering wat ek volg. Ek kan nie met hierdie benadering, so glo ek, by finale antwoorde uitkom nie, maar ek kan hoogstens, soos ek se, die “kaf van die koring skei”. En wat ek tot dusver sekerheid oor het, is dat:

      1. Daar was beslis waarskynlik iemand soos Jesus en
      2.Dit is nie moontlik om te weet of Jesus getrou het en/of kinders gehad het nie, dis als spekulasie.
      3. Die eerste volgelinge van Jesus het uiteenlopende idees oor Jesus gehad, maar een ding wat hulle gemeenskaplike geglo het, is dat Jesus die Messias is wat terug sal keer na die aarde.

      Hoewel ek openlik erken dat ek skepties is oor die triniteitsleer, skiet ek nie jou geloof daarin af nie. Ek is jammer as ek daardie indruk skep. Dit gese, sukkel ek om te sien dat daardie leerstelling in die eerste eeu, die tyd van Jesus, bestaan het, en ek sukkel om te sien dat Jesus se eerste volgelinge die Triniteitsleer geken en verkondig het. Die woord Triniteit staan immers nie een enkele keer in die ganse Bybel nie. Triniteit het beslis nie in die tyd van die sogenaamde “Ou Testament’ bestaan nie, en sou as ‘n belaglike idee afgeskiet gewees het. Daar was wel die hoop op ‘n Messias in die Ou Testament, iets wat deur Jesus in baie mense se oe vervul was.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s