Was ope brief vir Steve ‘n plan van Beeld-redaksie?

Steve Hofmeyr (Foto: AB from South Africa / Wikimedia Commons)

Die afgelope dae is die ope brief wat Virginia Keppler vir Steve Hofmeyr geskryf het, baie op sosiale webwerwe gedeel. Baie is reeds daaroor geskryf: Van aanmoedigings tot neerhalende rassistiese kommentare. Maar ongelukkig het een ding in die debat verdwyn. Virginia Keppler is ‘n Beeld-redakteur.

En juis die feit dat Virginia Keppler ‘n Beeld-redakteur is, gee die storie ‘n politieke lading. Daar is ‘n groot aantal vrae. Want hoe het dit tot stand gekom? Is dit regtig ‘n brief of juis ‘n artikel? Kan ‘n Beeld-redakteur sommer ‘n persoonlike mening publiseer in ‘n koerant en die ruimte kry om 1350 woorde op die koerant se bladsye te spandeer? Wat van die objektiwiteit van die joernalis? Sedert wanneer word ope briewe begelei deur grafika van Grafika24?

Sulke vrae ís gevra, ook op die Beeld-redaksie in die redaksievergadering, afgesien van die feit wie se idee dit was, van Virginia Keppler self of ‘n ander Beeld-joernalis. Daar is geen moontlikheid dat Beeld een van sy redakteure sonder afweging so baie spasie gee vir ‘n persoonlike mening oor ‘n ietsie wat die nuus so beheers. Die vrae moet gevra word, om die veiligheid van Virginia Keppler te waarborg.

Ek vermoed dat die senior redakteur van Beeld, Adriaan Basson, die situasie darem gemonitor en bestuur het. Die skrywe is verseker aan die redaksie se vergadertafel bespreek. Anders sou dit absoluut wanbestuur en ‘n laagtepunt vir die joernalistiek in Suid-Afrika beteken.

As my vermoedens reg is, is die “ope brief” opligting van Beeld-lesers. As die Beeld-redaksie sulke redaksionele oorwegings met betrekking tot dié skrywe gemaak het, kan dié skrywe nie ‘n “ope brief” genoem word nie. ‘n Ope brief, of lesersartikel – soos Die Afrikaanse opinieplatform dit noem – impliseer ‘n bydrae van buite die uitgewer-organisasie. ‘n Ope brief kan deur ‘n persoon, bedryf of enige ander regspersoon geskryf wees. Hoewel redaksies die reg het om ‘n “ope brief” te redigeer, moet die inhoudelike punte steeds dieselfde bly, anders sou dit sensuur wees.

Virginia Keppler is egter nie ‘n persoon van buite die uitgewer-organisasie nie. Sy is, soos hierbo geskryf, deel van Beeld se organisasiestruktuur. Die aanduiding dat die skrywe ‘n “ope brief” is, dui dus op ‘n sekere mate van onafhanklikheid van die redaksie, maar aangesien sy deel is van dieselfde redaksie het sy per definisie nie daardie tipe onafhanklikheid nie. ‘n Koerantredakteur het nie dieselfde ruimte vir vrye meningsuiting as byvoorbeeld ‘n rubriekskrywer, omdat die redakteur ‘n bepaalde mate van objektiwiteit moet behou.

Die huidige verklaring “Virginia Keppler is Beeld se nuusredakteur in Pretoria” is hopeloos te min. Dit gee direkte aanleiding tot vrae soos die verband tussen die mening en diskoers op die redaksie, of dit ‘n mening is van ‘n redaksielid en nie van die hele redaksie nie, en of Virginia Keppler se agtergrond deur die Beeld-redaksie gebruik (of misbruik) is om die publieke debat te stuur.

Ek het niks teen so’n tipe bydrae aan die debat. In die artikel word steeds baie geldige punte gemaak. Daar is egter ander wyses waarop koerantredaksies bydraes aan die publieke debat kan lewer, sonder dat joernalistieke reëls oortree word. Dié skrywe kon byvoorbeeld die algemene kommentaar van die Beeld-redaksie wees. Beeld se daaglikse hoofkommentaar – Beeld sê – is dié ruimte om bepaalde menings wat op die redaksie heers in die koerant te toon. So kan die redaksie of redaksielede ‘n bydrae aan die maatskaplike debat lewer waarby die objektiwiteit van die redaksie en sy afsonderlike lede gewaarborg bly.

As Beeld die bydrae van Virginia Keppler as hoofkommentaar gedruk was, was die talle vrae én hierdie artikel oorbodig.

Met die tipering van dié bydrae as “ope brief” het die Beeld-redaksie my insiens twee groot foute gemaak. In die geval van ‘n persoonlike bydrae van Virginia Keppler is dit wanbestuur van dié koerant omdat die objektiwiteit van verdere beriggewing deur Virginia Keppler asook haar eie persoonlike veiligheid in die geding kom. In die geval dat die skrywe deur die Beeld-redaksie gemonitor en bestuur is, kom die objektiwiteit van die hele redaksie in die geding, omdat die redaksie nie eerlik is oor die wyse waarop sy die debat probeer stuur.

Ek besef terdeë dat objektiwiteit in ‘n koerant ‘n onhaalbare ideaal is. Koerante moet des te meer openheid gee oor hoe die redaksie “die werklikheid” sien en hoe die redaksie daarop reageer. Dit is een van die belangrikste voorwaardes om demokratiese beriggewing te bewaar en ondeursigtige propaganda te vermy.

En sien daar waar die ontevredenheid jeens Beeld se beriggewing vandaan kom. Dit het reeds eerder gebeur, soos in die Puk-saga.

Beeld sal moet werk aan die verantwoording van sy beriggewing teenoor sy lesers. Sy kan dit doen deur meer deursigtig te wees. Anders is daar ‘n Beeld-saga op koms.

Redakteursnota: ‘n Afskrif van hierdie artikel is na Beeld gestuur om vir Beeld die moontlikheid te gee om te reageer.

Advertisements

5 comments

  1. Ek dink dis hare kloof die.
    Steve se tweet dat swart mense die argitekte van apartheid was, is so gemeen, leuenagtig en simpel, dat Virginia dalk ‘n behoefte gehad het om haar persoonlike reaksie te laat publiseer.
    Ek sien geen fout daarmee dat Beeld dit publiseer het nie.

    As Beeld se reaksie teen daardie tweet gekant is, maak dit hulle nie on-objektief nie. Elkeen, regs of links, behoort teen sulke leuenagtigheid te wees soos wat Steve daar openbaar het.

    • Ja-nee, ek stem heeltemal met dié kommentaar saam. Dit is egter nie waaroor my artikel gegaan het. Dit gaan meer oor die sturing wat media aan die publieke debat gee en hoe hulle dit verantwoord (of juis nie verantwoord nie). 😉

      Maar dankie dat jy die kommentaar nog hier geplaas het.

      • Ongetwyfeld Christian. Wat verwag jy? Dit is Suid-Afrika die. Voor 1994 het Naspers koerante die NP bevoordeel. Vandag is dit die DA. Ek het ‘n stuk geskryf “Jou DA, jou koerant”. Maar, ten spyte hiervan is daar baie goeie werk wat steeds deur die Naspers koerante gedoen word.

        Steve Hofmeyr veroordeel kamakastig Naspers koerante, en tog plaas hy skakels na Volksblad op sy Twitter. Die rede daarvoor is eenvoudig dat Volksblad ‘n uitstekende koerant is. Foute is daar seker ook, maar hulle doen bitter goeie werk. Steve en sy trawante kan skree en beledig en hierdie trotse Afrikaanse instelling afkraak soos wat hulle wil, feite bly feite.

  2. […] Een van die eerste artikels wat hierdie jaar (van Augustus 2014 tot en met Julie 2015) populêr was, was die artikel van Barend van der Merwe oor Steve Biko en Steve Hofmeyr (Steve Hofmeyr is geen Biko). In die tyd, toe Steve getweet het dat “swart mense die argitekte van apartheid was”, het Christian vir Beeld uitgevra wat die strategie agter ‘n ope brief van ‘n nuusredakteur was (Was ope brief vir Steve ‘n plan van Beeld-redaksie?). […]

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s