Steve Hofmeyr is geen Biko!

Mense kan so voorspelbaar wees. So vervelig. Vat nou net die media. Hulle het so te kere gegaan oor die Oscar Pistorius saak. Dis regskenners en sterrewiggelaars en Psigoloë en die Here weet wat als, elkeen het ’n opinie. Een lees sy lyftaal, ander een sy handpalms, ander een sy aura, ander een kyk na hoe sy hare verkleur het. En so maak almal afleidings.

Julius Malema. Hoeveel onnodige aandag het die media nie aan die man in die verlede gegee nie? Dat hy en sy party die dinamiek van ons politiek verander het, is so, maar Suid-Afrika staan nog. Meer nog, mense werk saam al gaan dit swaar. Wit en swart en al die ander mense. Die lewe gaan aan. Die nag van die lang messe het nooit plaasgevind nie. Mandela is begrawe. Al die slim regses wat my op elke geleentheid gewaarsku het “jy sal nog sien die dag as Mandela sterf” was verkeerd. Al hulle beledigings en intimidasie ten spyt. Van dit als het niks gekom nie nes ek vermoed het, en ek het dieselfde vermoedens rondom “Satan” en die “hel”. Die grootste hel is dalk, soos die filosoof opgemerk het, ander mense. Maar laat ons dan ook in dieselfde asem sê – mense is ook ons kosbaarste bate! Ons moet meer op de positiewe fokus.

Nou kyk nou net weer ook na Steve Hofmeyr. Daar word hopeloos te veel aandag geskenk deur die media aan hierdie sanger se politiek. Vir wat word daar so baie berigte oor sy politiek geplaas? In een van die nuutste berigte, vergelyk Steve homself nou deesdae met die apartheidsaktivis Steve Biko. Hoe presies hy by hierdie gedagtes uitkom, weereens kan ek net sê, weet die Here alleen.

Steve Biko se standbeeld in Oos-Londen (Foto: Bfluff / Wikimedia Commons)

Steve Biko het gelewe in ’n tyd toe daar algemeen aanvaar was dat swart mense ondermense is. Nie net blankes het dit geglo nie, maar swart mense het dit self geglo. Steve Biko se idees was radikaal. Hy het die gedagte verwerp dat swart mense minderwaardig is (iets wat Hofmeyr vandag nog nie eens doen nie). Biko was iemand wat ’n onuitwisbare merk op die politieke landskap gelos het. Hy is met valkoë dopgehou, sy vryhede was ingekort, en, soos ons almal weet, is hy uiteindelik deur die staatsamptenare gemartel en vermoor.

Steve Hofmeyr (Foto: AB from South Africa / Wikimedia Commons)

Steve Hofmeyr daarenteen is ’n uiters goeie sanger en musikant en ook skrywer van veral kommersiële liriek. Maar daar is niks aan sy politieke idees wat buitengewoon of vernuwend is nie. Niks. Hy bring geen paradigmaverskuiwing in ons politiek met sy idees nie. Al wat hy is, is net nog ’n apartheidsapologeet. Daar is hordes soos hy, dalk duisende. En volgens die mediaberigte kry hy glo nou doodsdreigemente. As dit waar is, en ek glo nogal dit is, dan is dit iets afskuweliks wat ek nooit kan goedpraat nie, en ek hoop die mense wat hieraan skuldig is, kan gevang word.

Eintlik is dit so erg dat ek tot die gevolgtrekking gekom het dat Steve in sirkels praat. Een dag verdedig hy apartheid, en die volgende oomblik sê hy Biko se aktivisme teen apartheid “maak sin”, en dat hy dink hy sou presies dieselfde as Biko opgetree het.

Dit is waarskynlik so dat Steve Hofmeyr se lewe in gevaar is, maar Steve Biko se lewe was, anders as Hofmeyr se eie, besonder kort en brutaal. Mag dit wat met Biko gebeur het, nooit met enige mens gebeur nie!

Wat my die meeste moed gee, is dat Hofmeyr glo die versekering gegee het dat hy nooit die politiek sal betree nie, en sy musiek sal los nie.

Want anders as Steve Biko, gaan Steve Hofmeyr nie eendag onthou word vir enige van sy politieke idees nie, maar vir die kosbare musiek wat hy gekomponeer het, en die goeie kunstenaar wat hy is. Dit is sy sterkpunt. Dit is waarmee hy naamgemaak het, en hy sal beter doen as hy by daardie resep bly, en sy vreemde politieke rondslomp los.

Dit is vir my opmerklik hoe dit die ja-stemmers en die dienspligontduikers is wat die meeste lawaai maak vandag. Hulle skree en gaan tekere maar bereik maar niks, behalwe om die koerant te haal. Op Twitter “tag” hulle die liberale kunstenaars met uitdagende opmerkings. Hulle het derduisende volgelinge op Twitter, groot gedeelte van wie waarskynlik net op hoogte wil bly van al hulle gekhede. My familie het nee gestem en diensplig gedoen. Ek was te jonk vir enige van daardie dinge, maar ek is grootgemaak om die “nuwe” Suid-Afrika te aanvaar en saam te werk.

En om nie verlangend terug te kyk soos Lot se vrou na die vleispotte van apartheid nie. Die ou Suid-Afrika is verby. Dit sal nooit weer wees nie.

Advertisements

3 comments

  1. Barend,jy verstaan heeltemal verkeerd wat Steve bedoel het met Steve Biko. As hy in Biko se skoene was,sou hy dieselfde as Biko opgetree het en dís wat hy probeer sê. Steve Hofmeyr staan op vir die Afrikaner en die Afrikaanse taal en probeer darem iets doen vir ons mense. Wat is fout daarmee om te veg vir minderheidsregte? Wat doen Steve dan so vreeslik verkeerd? Lyk my hy maak die liberaliste ongemaklik juis omdat hy dalk iets reg doen! Baie mense,veral die liberaliste,probeer polities korrek optree en dan word als en almal veroordeel wat nie soos hulle dink en optree nie. Mens kan dit liberalistiese diktatorskap noem en dis juis die soort mense wat so venynig is teenoor Steve. Steve Hofmeyr het die reg op sy opinie en ook die reg om op te staan vir die Afrikaner se regte. Ek sien niks fout daarmee nie en ek hoop hy gaan van krag tot krag. Steve, doen so voort met jou goeie werk vir ons mense!

    • Soos menigte aanhanger van Steve se musiek sal ek nie teen hom draai nie. Ek gaan hom nie boikot dit en boikot dat soos hy met almal maak nie. Woolworths, Beeld, Huisgenoot, die, daai. Nee. Ek sal liewer bid dat hy wakkerword. Daar is slimmer maniere om ‘n verskil aan die wereld maak.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s