Resensie: Die Derde Boereoorlog deur Len Els

Boerekommando op Spionkop tydens die Tweede Boereoorlog (Foto: Howard C. Hillegas / Wikimedia Commons)

Die Boere. Is dit nog regverdig om van die Boere in 2014 te praat? Dis ’n begrip wat gelaai is. Dis een van daardie begrippe soos ‘baas’ en ‘meester’, jy sê dit nie meer nie.

Dit herinner my aan ’n ding wat gebeur het hier iewers sedert die 1994 oorgang. Daar was eendag ’n belangrike vergadering gehou en die spreker het herhaaldelik verwys na die “missie” dit en die “missie” dat. Dis nie ons missie nie en ons missie is sus en so. Die tipe van ding. Dit was nie lank nie toe val iemand die spreker in die rede, en die persoon sê nee, dis dinge van die verlede hierdie. Ons is nou in die “nuwe” Suid-Afrika en ons praat nie meer van “miesies” nie dit is nou “mevrou” of “mejuffrou”.

Dis ’n ware storie hierdie, van hoe taal chaos veroorsaak.

Gelukkig veroorsaak taal darem meer orde as chaos, of doen dit? Ek is nie aldag seker nie.

Maar, oor die onderwerp van Boer, is daar nog mense wat hulleself as “Boere” beskou? Die woord “Boer” laat mense ongemaklik, en dit word soos pes vermy. Die Boere van Suid-Afrika word na verwys as die “Afrikaners”. Dit is die aanvaarde term in akademiese kringe. En tog weet ek, ek is nie net ’n Afrikaner nie. Dit seker ook. Maar ek is ’n Boer. Jare gelede is daar na ons taal verwys as “SeBuru”, miskien moet ons toegee, met reg, tot ’n mate. Maar ons weet ons taal is vry vandag. Die sensus statistiek bewys dat ons taal grootliks deur mense gepraat word wat nie Boere is nie. Die Boere praat “Afrikaans”, maar dit is nie mense wat heeltemal deur hulle taal gedefinieer word nie.

Alhoewel baie burgers van Suid-Afrika hulleself sal weerhou om die Boere vandag nog “Boere” te noem, weens die sug na politieke korrektheid, en sensitiwiteit, en die konnotasies, en om aanstoot te vermy, en alhoewel ek waardering het vir daardie opregte eerbare bedoelinge, is ek nie skaam op die naam Boer nie. By elke laaste “Boer” in ons land se standaarde is ek seker geen Boer nie, maar by die meeste s’n is ek wel. Dit is so met identiteit. Jou eie idees oor wat jy is, wie jy is, tel min. Dit is die gemeenskap wat grootliks besluit. En hulle oordeel vanuit hulle eie subjektiewe verwysingswêreld. Hoe kan ek hulle oordeel?

Al wat ek weet is, as tot Koos Kombuis kan sing van “Boer in beton”, en Julius Malema van “Skiet die Boer”, dan aanvaar ek, daardie identiteit is deel van hierdie land.

Maar ek kom nou eintlik met ’n vreeslike ompad, en gedra myself nou soos ’n filosoof, wat ek beslis nie is nie. Ek is regtig nog partykeer verbaas oor als wat in “SeBuru” gebeur. Ek verbeel my dit is Steve Hofmeyr wat eenkeer gesê het (tydens een van sy meer logiese uitsprake) dat daar NIKS is wat nog nie in Afrikaans gedoen is nie. Ons taal het ryp geword in veel minder as ’n eeu sedert dit amptelike taalstatus gekry het, kompleet met ’n eie leksikon et. al.

Ek was jare terug ’n eerstejaar op universiteit. 2015 sal dit ’n volle dekade gelede wees. Ek was maar treurig met Sielkunde, en het die vak na een jaar gelos, omdat ek belangstelling verloor het. Maar ek sal nooit vergeet nie, dat die dosent daar een dag in die klas gesê het dat die Boeremense van Suid-Afrika, is buitengewone presteerders. Proporsioneel tot ander nasies, bereik hulle meer as die gewone. En dieselfde ding word ook gesê van die Afrikaanse letterkunde (hoewel Afrikaans, nes elke ander taal op aarde, geensins die eiendom van ENIGE etniese groep of nasie is nie – dis wêrelderfenis!) Dit is nou maar net toevallig so dat Afrikaans die taal van die Boere is. En van Afrikaanse skrywers en boeke is daar ’n stortvloed.

Ek hoor so af en toe mense wat negatief hierop reageer. Ek het simpatie. Tot ’n mate. Want party mense voel geïntimideerd. En hulle reaksie is om negatief te raak. Maar die massas werke wat verskyn in Afrikaans, en waarvan ek, moet ek tot my spyt erken, nie eens naastenby die helfte gelees kry nie, en dus gladnie bybly nie, is vir my geen rede tot kommer nie. Dit sus my om te weet dat die Afrikaanse gemeenskap so ryk innerlike woordewêreld het. Dit is omdat hierdie land so gewelddadig is. So wreed. Omdat ons eintlik moet erken ons kon Afrika nooit regtig “tem” nie, nie ons of ons voorsate nie. Ons oupas en oumas kon nooit regtig Afrika tot hulle “moederlande” modelleer nie. Maar die een ding waarmee ons wel hierdie wêreld tot ’n mate kon tem, is met ons taal. Afrikaans.

Twee Boereoorloë, twee Wêreldoorloë – toeval? Ek wonder hoeveel mense was al by Majuba, en weet wat daar gebeur het, of hoekom die sogenaamde “Eerste Boereoorlog” so ’n spesiale plek in die harte van baie Boeremense het. Nou het ons via Len Els ’n fiksie gekry insake die Derde Boereoorlog.

’n Mens kan nou al beslis begin praat van Els se “oeuvre” na my beskeie mening. Verse, kort prosa, en nou, “comics”. Els is nie ’n skrywer wat oor enige netwerke met die formele skrywersestablishment beskik nie. As sulks sal sy werke nooit met die Hertzogprys bekroon word nie. Maar sy stem is belangrik vir baie mense. Dit is kosbare toevoegings tot die skatkis van Afrikaanse publikasie.

Die Derde Boereoorlog onderstreep nes van Els se vorige werke sy fyn ingesteldheid op die nuanses rondom die kompleksiteite van identiteit in Suid-Afrika. ’n Mens is in die versoeking om dinge agter die teks te gaan soek, en dalk sal mens baie vind as jy dit doen. Elke skrywer skryf immers vanuit ’n bepaalde konteks. Maar geneem en gelees buite enige bepaalde konteks, is Die Derde Boereoorlog ’n ontspannende leeservaring.

Soos die lewe werk, geval alles nie almal nie. So is die lewe. Ek het egter die teks heel komies gevind, en die illustrasies interessant. Die verhaal is soms moeilik om te volg, maar dit is nie ’n “fout” wat ek voor die skrywer se deur sal le nie. Al wat dit beteken is ek sal dit moet herlees as ek al die nuanses beter wil snap. Ek is nou maar eenmaal nie die sterkste fiksie leser nie, en sukkel gereeld om my aandag ten volle by ’n fiksie te behou.

Die teks is gelaai met sosiale kommentaar, en helaas, soos ons nou al gewoond is in hierdie postmoderne wêreld waarin ons lewe, word die hoof protagoniste geensins voorgestel as karakters van suiwer morele waardes nie.

Dit is deesdae standaard en dit is iets eerlik aan die postmoderne. Ek het in 2013 een keer na ’n bespreking geluister waar Deon Meyer sy een boek “Kobra” bespreek hier in Bloemfontein, en toe vra ’n lid van die gehoor vir Meyer – kan jy ons nie ’n vlekkelose protagonis gee nie? Jou protagoniste is ’n spul suiplappe wat deur egskeidings is en wisselvallige verhoudinge met hulle kinders het! Die antwoord? – Dit is hoe die lewe is. Ons kan dit wegwens, maar dit bly daar. Homo Sapiens hou van illusie. O hou ons daarvan! “Christelike Volkseie Onderwys”. “Nazisme”. Die “struggle against apathate”. “Our heroes”. “Freedom”. . . Ons hou te veel van iets wat skitterblink gepoets is, wat ons blind maak van bewondering.

Dit is hoekom Charles Smith deesdae so te velde trek teen KykNET Musiek.

Vir sy aanhangers behoort Els se “Die Derde Boereoorlog” ’n welkome toevoeging te wees. Vir my is dit ’n viering van die verwarrende toestand van menswees. Maar dis traan met ’n lag, en ’n lekker lag daarby.

Advertisements

3 comments

  1. Len se tong in die kies realisme is vir my persoonlik altyd verfrissend, en dalk omdat ek ‘n redelike konsep begrip het van waar sy siniese humor ontstaan is sy werk vir my ” meer” en ek vind dat die werke ( dig en andersins) geskryf is vir die niche mark van mense met n sekere begripsvlak.
    Die resensie self is ongelukkig vir my ietwat liggewig en mis amper die kol, dit kom met ‘n ompad en bespreek die algemene tendens van neo- letterkunde sonder om werklik die resensie leser te prikkel om die comic van nader te bekyk
    Groete
    Hexi

    • Ek stem heeltemal saam met Ronel. Dis ’n wakker waarneming. Hierdie is geen resensie nie en ek plaas die blaam vierkantig voor die deur van ons hoofredakteur by die Afrikaanse Opinieplatform – ’n koddige mannetjie met baie vreemde idees oor die verskil tussen ’n webjoernaalplasing en ’n resensie. Pal is hy besig om my webjoernaalplasings se status op kunsmatige wyse te probeer verhoog deur die opskrif daarvan te verander na “resensie”. Nietemin het ek tog groot waardering vir die meeste dinge wat hy aanvang. Veral die perspektiewe en al die wonderlike inligting wat hy met ons deel, en sy liefde vir Afrikaans/Nederlands deel ek. En die effort wat hy insit as redakteur. Ek verdra hom en hy verdra my – en so skryf ons lekker voort 😉

      Ek wil ook verder opmerk – ek is nie regtig ’n ernstige skrywer nie, skryf maar net vir die pret. Ek is ook nie die heel grootste kenner van fiksie nie, maar ek hou van stories en probeer op hoogte bly. Ek is trots daarop om te kan sê dat ek wel al een keer in my lewe ’n ware koerantresensie oor ’n “storieboek” geskryf het, naamlik in die Bloemnuus, in verband met Deon Meyer se “Kobra”. Sien die skakel:

      http://www.bloemnuus.co.za/102702/news-details/deon-meyer-se-

      My grootste liefde is egter die nie-fiksie, die geskiedenis, en dis waar ek al my meeste resensies geskryf het vir joernale. Enkele voorbeelde is:

      http://dspace.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/9885/BB_67%282013%29_Van_der_Merwe_B.pdf?sequence=1

      http://dspace.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/10912/No_69(2014)_10_Van_der_Merwe_B.pdf?sequence=3

      As ek egter die redakteur van ’n ernstige tydskrif/koerant/joernaal was, dan sou ek ook nie hierdie blogplasing as ’n ernstige resensie beskou het nie. Maar die Opinieplatform is meer in ligte luim, so ek verskoon die redakteur. Dis meer geskryf met Els se boek as vertrekpunt.

      Stem ook saam met al die ander opmerkings. Dis nie almal se tipe boeke die van Els nie. Maar ek geniet dit en sien vreeslik uit na die tweede Aquila!

      Dankie vir die lees en kommentaar!

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s