Kom ons boikot liewer die Mimosa Mall!

Voel my deesdae almal is besig met ’n boikot van soorte. Vandag het dit aan die lig gekom dat Pick en Pay nie meer die “Afrikaans is Groot” musiekfees wil ondersteun nie, omdat Steve Hofmeyr rassistiese uitsprake op Twitter maak. Laat ons nie vergeet nie dat die “Afrikaans is Groot” fees natuurlik self ’n protesfees is, omdat baie kunstenaars nie in die Huisgenoot Skouspel kamp is nie, met Hofmeyr sekerlik die grootste boikotter onder hulle. Trouens, Steve is mos groot vrinne met al die PRAAG manne, en Huisgenoot is mos ’n prima sogenaamde ‘Naarpers/Naspers’ publikasie. Ek het aan hierdie selfde ding gedink toe Steve ’n tyd terug getantrum het omdat OFM nie sy Toeka 3 wil speel nie. ’n Groot spul van Steve se ondersteuners het dit gelees op die Naspers webwerwe en in Naspers publikasies, en op die daad gedreig om OFM te boikot.

So, jy lees wie jy almal moet boikot in die koerant wat jy (eintlik lankal reeds) veronderstel is om te boikot. Ek meen Volksblad is tog OOK Naspers dan nie? En Skouspel word mos geboikot as deel van die groter Naspers boikot dan nie? Boikot, boikot, boikot.

Maar as daar nou een ding is wat ek dink ’n boikot verdien, dan is dit inkopiesentrums. Nee, nie ’n algehele 24/7 boikot nie. Net sekere tye van die dag. Die ding kom al ’n wyle vir my. Ek kom af en toe daar in die Mimosa Mall. Wonderlike plek. Koop af en toe items daar soos wat die nood ontstaan. Maar so geruime tyd al is daar nou reklame oor die saak dat Mimosa Mall deesdae tot 20:00 op Vrydae oop is. Al die winkels is oop volgens die reklame. Nie dat ek dit weet nie want ek het nog nie gaan kyk nie. Maar die hele gedagte maak my erg ongemaklik.

Wat word van ons samelewing dat mense na ses- seweuur op ’n Vrydagaand gaan inkopies doen? Ja, dalk is daar mense, enkeles, wat nooit anders tyd kry nie. Maar meeste mense op aarde kry tog sekerlik af dae? Kyk as mense nog ’n film gaan kyk op ’n Vrydagaand, of restaurant toe gaan, dan kan ek dit nog verstaan. Die gasvryheidsbedryf is ’n harde joppie, nes die polisie. Maar vir watter goeie rede moet Checkers se personeel Vrydagaand tot 8 uur daar sit? Watse tipe mense ruil kuiers met vriende, of gesinstyd, of musiekvertonings, rugbykyk, braai, Noot vir Noot, al daardie dinge, om in Checkers te gaan rondloop, of by die juwelier, of by Mr. Price, of die vet weet wat hulle alles daar gaan koop?

Erger nog, watse tipe mense martel hulle werknemers met sulke ure?!

Ons leef in ’n land, so word daar gesê, met een van die heel beste Grondwette ter wêreld. Dit is die land van Nelson Mandela. Die oorgrote meerderheid van die land se mense bely dat hulle die een of ander Abramistiese godsdiens beoefen en die Bybel/Tenak/Qur’an as riglyn vir hulle lewens gebruik. Tog lyk dit asof ons mense geld eerste stel. Die heel eerste enkele oorweging wat mense skenk, is rand en sent. Of dit nou is met wie hulle vriende is, wat hulle studeer, met wie hulle trou, en ja, helaas, ook hoe hulle besigheid doen. Diens aan die samelewing, regverdigheid, eerbaarheid, dit is nie wat eerste gestel word nie. Dit is waardes wat al minder belangrik word vir ons.

Dan wonder ons hoekom Suid-Afrika nie altyd so lekker plek is nie. Dan wonder ons hoe kry ons dit reg om die mynwerkers by Marikana af te maai. Dan wonder ons hoekom ons party dae voel asof hierdie land haar eie vlees en bloedmense vyandig is.

Kom ons boikot dan nou maar ook inkopiesentrums wat hulle werkers soos slawe laat werk. Kom ons bel eerder ou vriende en reël ’n kuier op Vrydagaand, (of ewe goed, maak nuwe vriende!) in plaas van om ons tyd in die “mall” te gaan mors.

Advertisements

4 comments

  1. Die winkels in Nederlandse stede (ons het geen malls nie, maar winkelstrate) is een aand in die week tot 21:00 uur oop. Dit word deur die winkeliers in hul eie verenigings per stad bepaal. So het die meeste stede op Donderdagaande inkopiesaand, terwyl die naaste dorp/stad dit op die volgende aand, soos op Vrydagaand.

    Word die winkelbediendes van die Nederlandse winkels soos slawe gebruik? Nee, want die meeste winkels hier is op Sondag gesluit en ook op Maandag in die kleiner stede en dorpe…

    Ek dink dit is juis ‘n goeie verandering, want in Nederland pluk juis die kleiner spesiaal winkels – dus nie die groot winkelbedrywe nie – die vrugte van ‘n inkopiesaand.

    Maar jy maak seker geldige punte in jou blog!!! Soos die mense wat roep om te boikot en dan heimlik, in die geheim hul eie boikot breek… Oor swak ruê en dubbel standaarde gepraat…

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s