Rebelspoor – Die aanloop, verloop en afloop van die Boereopstand van 1914 – 1915 deur L.J. Bothma

Die boek Rebelspoor – Die aanloop, verloop en afloop van die Boereopstand van 1914 – 1915 word op 10 September by Mimosa Mall in Bloemfontein bekendgestel om 18:30. Die skrywer dr. Louis Bothma het die volgende te sê oor sy nuutste boek:

 

1. Hoe gaan dit deesdae met dr. Louis Bothma?

 

Baie goed. Ek skryf sedert 2006 voltyds en Rebelspoor is my agste boek en die sesde een wat ek self uitgee.

 

2. Die 1914-Rebellie het ’n reputasie onder navorsers dat dit swak gedokumenteer is. Het u ook hierdie uitdaging ervaar en watse bronne is meestal gebruik?

 

Die 1914-Rebellie, of Boereopstand soos ek daarna verwys, is beslis ’n omstrede en baie komplekse onderwerp wat erg deur historici afgeskeep is. Terwyl die rakke kreun onder al die boeke oor die Anglo-Boereoorlog, het daar die afgelope 100 jaar slegs ’n paar boeke oor die Rebellie verskyn. Ek het ’n verskeidenheid van primêre en sekondêre bronne gebruik en moes verskeie gevegsterreine besoek.

 

3. Wat kan die lesers verwag? Is dit ’n algemene boek oor die Rebellie of word daar op spesifieke sake gefokus?

 

Rebelspoor is die eerste omvattende boek (530 bladsye) die afgelope 100 jaar oor die Rebellie. Dit is ook die eerste boek wat die onderwerp in sy totale historiese konteks plaas. Die aanloop tot die opstand word van 1795 geskets en die afloop word deurgetrek tot by die nuwe Suid-Afrika van 1994. Die teks word toegelig deur middel van 13 kaarte en ’n fotoseksie. Agterin is ’n volledige bronnelys, 1532 bronverwysings en ’n volledige register. Nietemin kan hierdie nie die laaste woord oor die onderwerp wees nie. Die geskiedenis is nooit klaar geskryf nie.

 

4. Wat is die grootste nalatenskap van die Rebellie?

 

Daar is twee lesse: ’n Volk sonder ’n ideaal sterf en ’n volk wat ander lande inval en verower, betaal in die toekoms die rekening. in 1914 het die Afrikaner ’n vryheidsideaal gehad wat in 1961 op die Republiek van Suid-Afrika uitgeloop het. In 1914 wou oud-Boeregeneraals nie Duits-Suidwes-Afrika vir Brittanje inval en verower nie. Na die Boereopstand onderdruk is, het die Unieverdedigingsmag die Union Jack in Windhoek gaan hys. In 1917 het hulle verder gegaan en ’n volgende opstand, hierdie keer onder die Ovambo’s, gaan onderdruk. Die Ovambo’s het nooit vergeet dat Suid-Afrikaanse soldate hul koning doodgemaak het nie. Só was die afloop van die Rebellie van 1914, nie net die aanloop tot die Republiekwording nie, maar ook die aanloop tot die latere grensoorlog (1966 – 1989). Die nageslag het ’n ontsettende rekening betaal in ’n ander land wat hul oupas nie wou binneval nie. Dit moet ’n aanskouingsles vir die huidige Suid-Afrikaanse regering wees, wat sy soldate in ander lande ontplooi.

 

5. Geskiedskrywing is harde werk. Is daar reeds ’n nuwe projek op die horison of eers ‘n welverdiende skrywersbreuk?

 

Ek het bitter hard aan hierdie boek gewerk. Vir 19 maande het ek elke dag 100 jaar in die verlede geleef. Nou wil ek net eers terugkeer na die hede en aandag gee aan die mense naaste aan my, wat ek noodgedwonge kwaai afgeskeep het.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s