Boekresensie: ‘Krokodil aan my skouer: Stoffel toe en nou’ van Christiaan Bakkes

Menige liefhebber van die geskrewe woord in Afrikaans sal dit eens wees dat ons baie verskuldig is aan die familie Bakkes: Margaret, Johan, en Christiaan, laasgenoemde wat met sy alter ego, “Stoffel”, ons neem na plekke waar die meeste van ons nie sal waag om te gaan nie.

Die nuutste toevoeging tot die ‘Stoffel’ reeks volg egter nie die patroon van wat lesers al sedert 1998 gewoond geraak het, toe Die lang pad van Stoffel Mathysen verskyn het nie. Krokodil aan my skouer is nie kort vertellinge nie en bied die leser ’n aaneenlopende narratief. In teenstelling met sy voorgangers, het ons hier met ’n Stoffel te make wat meer as net vertel, wat ook ’n bestekopname doen, soos wat die titel te kenne gee.

Die leser vind sommer baie meer van Stoffel uit, en daar word in sy kinderjare in sy kenmerkende eerstepersoon-vertelstyl gedelf. Van die detail mag sekere lesers skok, soos Stoffel se eksperimentering met dwelms. Stoffel beleef van jonktyd af ’n ontnugtering met struktuur: “Ek slaag my matriek glorieloos. My punte lees soos die naam van ’n death metal-rockgroep – vol D’s, E’s en F’s.” (p 31). Die wêreld frons vir hom, maar Stoffel is groter as sy omstandighede en beperkinge. Hy vind in die natuur en ruimtes van Afrika ’n bekoorlikheid wat van hom besit neem. Wat hom betower. En te midde van noemenswaardige uitdagings bekwaam hy homself as natuurbewaarder.

’n Sentrale tema is Stoffel se ervaringe as deel van sy verpligte militêre diens, en dit word tereg op die flapteks beskryf as ’n “stuk geheime geskiedenis”. Stoffel is in hierdie stadium ’n soldaat, maar steeds le sy grootste lojaliteit by die saak van natuurbewaring, waartoe hy homself geroepe voel. By die sinvolheid van die oorlog word daar ook stilgestaan, en Stoffel bespreek vlugtug sy afskeid van die ‘ou’ Suid-Afrika en aanvaarding van die ‘nuwe’ – wat toepaslik kulmineer in sy ontmoeting en interaksie met Nelson Mandela.

Vir getroue lesers sal die titel “Krokodil aan my skouer” reeds ’n klokkie lui. Op ’n dag lei Stoffel se onbeteuelde selfvertroue hom tot ’n onbesonne besluit. Hy spring in ’n dam, bewus van die twee krokodille daarin, en verloor uiteindelik meer as net sy linkerarm – ook sy pos as wildbewaarder in die Krugerwildtuin. Ook uit dié stormagtige tyd sou Stoffel herrys – wyser en sterker as tevore, met ’n nuwe uitdaging – renosterstropery. “Ek was nooit briljant nie.”, voltrek Stoffel, “Maar ek was altyd bereid en gewillig”.

Hierdie boekresensie van Barend van der Merwe het verskyn in Bloemnuus van 22 Augustus 2014 op bladsy 9.

Advertisements

2 comments

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s