Nader die einde van die Afrikaanse koerante?!

Plaatje Nuus24 met Opinieplatform en MaroelaMedia

Die webwerwe van die meeste Afrikaanse koerante word gesluit. Die webwerwe van Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport word op 1 Oktober saamgebring in een betaalde webwerf, Netwerk24.

Dit beteken dat net Die Son se mobiele webwerf en Republikein se webwerf bly bestaan as gratis aanlyn Afrikaanse koerantwebwerwe. Dit is nog onduidelik wat daar gebeur met Nuusflitse, voorheen Nuus24.

Die berig kom skaars ‘n jaar nadat Beeld, Volksblad en Die Burger se nuwe betaalde webwerwe aanlyn gegaan is. Laasjaar is Nuus24 geïntegreer in die webwerwe om so ‘n konstante nuusvloei te skep.

Die berig dat dié koerantwebwerwe nou gesluit word, beteken dat die “nuwe” stelsel nie gewerk het nie. Media24, die eienaar van die koerante, het ‘n fout gemaak. En nou probeer hy dit regstel.

Maar weer gaan hy misluk. En die redes hoekom is steeds dieselfde…

Die mees gehoorde kritiek is dat Media24 te min voeling het met die wense en standpunte van sy lesers het. By die veranderings in die medialandskap wat betref die Media24-koerante is dit baie duidelik sigbaar: sonder konsultasie word oor sake besluit. Waar die betaalmuur op die koerantwebwerwe gelate geaksepteer is, het Media24 se planne om Volksblad se verspreidingsgebied te verklein ten gunste van Beeld groot weerstand opgeroep. AfriForum moes publieke druk gebruik om dit te keer.

Dit is duidelik dat Media24 geen lesers- of gebruikersklankgroep het nie. En as dit al bestaan, is dit seker magteloos.

Tweedens roep die stigting van Netwerk24 weer dieselfde vrae op. Waar kom die besluit vandaan? Wat is die redes om die koerante se webwerwe te sluit? Weer bly Media24 stil. Baie stil. En stil bly is die grootste fout in hierdie eeu van kommunikasie en gedeelde inligting.

‘n Derde fout is die merkname. Netwerk24 is ‘n nuwe handelsmerk, sonder enige aansien, beeld en krag. Nuus24 was maar seker die sterkste aanlyn Afrikaanse handelsmerk, totdat dit deur Nuusflitse vervang is. Nuusflitse was aansienlik swakker, aangesien dit geen eie tuiste gehad het, behalwe op Facebook, waar dit die blad van Nuus24 oorgevat het.

Dat die handelsmerke Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport aanlyn verdwyn, is ‘n slegte ding vanuit sakeperspektief. Van die handelsmerke is meer as 100 jaar oud en generasies het daarmee groot geword. Kyk hoeveel mense sê nog TV1 vir SABC1 of Afrikaanse Diens vir Radio Sonder Grense. Baie baie. Om ‘n handelsmerk te vestig is een van die moeilikste stappe in die sakelandskap. Buitendien gaan die koerante se naam nie skielik Netwerk24 wees nie. Dit maak dit net moeiliker om die handelsmerk te vestig. Dit is die vraag om ‘n mens nog die verband tussen die aanlyn handelsmerk Netwerk24 gaan sien en die ‘aflyn’ koerante.

Die stigting van Netwerk24 bevestig net hoe diep die vier koerante saamwerk. En Afrikaanssprekendes wil nie een mening hoor nie, hulle wil debat tussen verskillende menings sien. En om so’n volwasse te kan voer, het die Afrikaanse medialandskap meer diversiteit nodig, eerder as eendersheid.

Die stigting van Netwerk24 lyk nie ‘n oplossing te wees vir die huidige krisis by Media24 se Afrikaanse koerante. Ek dink dit gaan net vererger.

En Maroela Media lag.

Advertisements

4 comments

  1. Hulle is heeltemal uit voeling met hul lesers.Sekere menings kry voorkeur bo ander,netso kry party artikelskrywers ook voorkeur bo ander en daar word ook net nuusdekking gegee oor dinge wat inpas by hul sienswyse. Daar word bv. wye dekking gegee aan politieke party wat hul voortrek omdat hul daai party se sienswyses deel. Ander partye word ignoreer self al is dit belangrike nuus wat lesers moet van weet. Daar word ook besluite eensydig gemaak wat lesers benadeel en dan weet die lesers nie hoekom dit gedoen word nie. Lesers soek eerlik,objektiewe nuus en dat daar oop kaarte met hul gespeel word.

  2. Netwerk24 – whatever. Ek sukkel om my voorneme om ‘n intekenaar van volksblad.com te word, om te sit in ‘n voorneme om ‘n Netwerk24 gebruiker te word.
    Wie sou ooit kon voorspel dat Naspers so sou omgaan met Afrikaans.

  3. Ja, die einde van Afrikaanse koerante le op die horison en wink. Hierdie koerante bestaan nog in harde kopie, maar ons almal weet dis nou die digitale era. Daar was nie te lank gelede samesprekings oor die voortbestaan van Volksblad. Mens moet daardie maatskappy gelukwens dat hulle nie elke liewe enkele besluit suiwer op grond van geld neem nie. Volksblad is skynbaar steeds nog winsgewend, maar dit raak al meer ‘n finansieele uitdaging om die gedrukte weergawe uit te gee.

    Ek was al self baie krities oor Afrikaanse media, maar sal dit betreur wanneer hierdie koerante finaal hulle deure sluit. Dit sal egter ‘n reuse oorwinning wees vir Steve Hofmeyr, Dan Roodt en al hulle meelopers by die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, wat ‘n lang stryd teen die Afrikaanse media voer met hulle ‘boikot Naspers’ veldtogte. Mens sal hulle seker moet gelukwens, hoewel ek gladnie kan sien watse oorwinning dit vir ons gaan wees as Volksblad se deure sluit nie.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s