Nasionalisme is nie organies nie, daarom is Geskiedenis altyd in so gemors

Voortrekkermonument (Elmer van Zyl / Wikimedia Commons)

Daar is sekere dinge wat net nooit sal verander nie. Soos die spanning tussen professionele historici en die onderwyssisteem. So tyd gelede is daar aangekondig dat alle skoliere moontlik voortaan aan ’n verpligte studie van “die geskiedenis” onderwerp gaan word. Hierdie nuus is gladnie met entoesiasme ontvang onder professionele historici nie. Die kanker wat herhaaldelik insluip in ons skole, is ironies genoeg NIE primêr te wyte aan onbekwame amptenare wat onderwysers is nie, dit seker ook tot ’n mate. Maar die groot gemors le in die leerplanne, wat maar immer niks anders as ’n politieke speelbal is nie.

Die Mail & Guardian het Vrydag berig oor ’n nuwe M.A. studie wat onderneem was deur ene Adrian van Niekerk, wat sy navorsing by die konferensie van die “Southern African Education Research Association” aangebied het. Van Niekerk het in sy navorsing ’n studie gemaak van Geskiedenis handboeke, en in die besonder die manier hoe oudpresident Nelson Mandela daarin uitgebeeld word. Sy gevolgtrekkinge was dat Mandela as ’n messiaanse figuur uitgebeeld word wat sy rol in die ontstaan van post-apartheid Suid-Afrika uit proporsie blaas. Ek wil tog ’n aantal sinsnedes uit daardie berig direk oorneem:

“All criticisms of Mandela, all his flaws which made him human have been silenced.”

“Mandela is represented as having a policy of reconciliation, when in actual fact it had long been the policy of the ANC.”

“The ‘poor’ repsonse of Mandela’s government to Aids as well as his connection to violence was not mentioned”

“He has been represented like this because South Africa was looking for a new national identity, based on a ‘new history’ with new heroes.”*

Daar is baie dinge wat herhaal in die nuwe Suid-Afrika wat deel was van die ou Suid-Afrika. Een van hierdie dinge is hoe Geskiedenis in skole hanteer word – as deel van die politieke projek van die wat regeer. In die ou Suid-Afrika was die misvorming van die Geskiedenis ook ’n standaardpraktyk in die land se skole. Mens kan maar net die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902) as een voorbeeld neem. Die tipiese geskiedenisboek van die ou Suid-Afrika het die Boere as ’n sterk, brawe klomp krygers voorgestel, wat amper soos een man saamgestaan en geveg het. Die rol van die joiners was natuurlik totaal onderspeel. Maar ons weet vandag dinge was beslis nie soos dit voorgestel was nie. Baie Boere het geweier om oorlog te maak. Sommige is onregverdig ter dood veroordeel as gevolg van hulle weiering om voort te veg. Dit het ons gelees en gesien in die film Verraaiers.

Daar was ook sommer ’n hele groot klomp wat landuit gevlug het om diensplig te ontduik, na die Britse protektoraat Basotholand, wat vandag as Lesotho bekendstaan. Die bewyse van hierdie dienspligontduikers is as ’n verleentheid vir die Afrikanervolk beskou, en dit het onder baie verdagte omstandighede verdwyn uit ons land se argiewe gedurende die 1950’s of 1960’s – ’n blomtydperk van Afrikanernasionalisme.

Die gebruik om karikature van historiese figure te maak, is geen nuwe ding nie. Dit terwyl mense maar mense is. Ja ook in ons eie tyd leef daar nog mense wat ook, nes daardie Boere van die Boereoorlog, landuit gevlug het omdat hulle nie lus was vir die oorlog in Angola nie.

Al hierdie dinge sal nooit verander nie. In die vroeë 1990’s, toe die ‘nuwe’ Suid-Afrika se eerste strale al op die horison begin verskyn, het die historici juis so ’n groot klomp debatte gehad oor ‘Geskiedenis’ in die ‘nuwe’ Suid-Afrika. By een so geleentheid, die toe South African Historical Society (Vandag die Southern African Historical Society) se konferensie in 1991, het die ANC se afgevaardigde Stan Nkosi geargumenteer dat geskiedenis gebruik moet word om die samelewing te verander. Ander, soos die baie bekende professor Henning van Aswegen, het gesê die geskiedenis is besig om “anti-blank” te word. En ene Peter Kallaway het opgemerk dat dit naief sal wees om te dink dat die nuwe dispensasie nie die geskiedenis sal misbruik op presies dieselfde maniere wat die ou dispensasie het nie . . .

Daar is geen rigting in hierdie dinge nie. Dit sal altyd weer herhaal. Die enigste ding wat mens hieroor kan sê, is dat ALLE, maar ALLE nasionalismes, is uiteindelik kunsmatige goed. Noem my maar ’n humanis, ’n liberalis, ’n wat ook al jy wil. Of dit nou die Nasionale Party se Afrikanernasionalisme was, of Hitler se Nazisme, of die African National Congress se weergawe van nasionalisme, of die Boerevolk republikeine of die AWB, dit maak nie saak nie. Die een ding wat hulle almal in gemeen het, is ’n stewige mitologiese onderbou, wat uiteindelik in mekaar het of sal tuimel.

En ja, dit sal beslis gebeur voor Jesus kom.

*Oorgeneem uit ’n berig van Mail & Guardian, wat gevind kan word deur HIER TE KLIEK.

Advertisements

7 comments

  1. Ek het my diensplig met trots gedoen en het nie eens daaraan gedink om dit te ontduik nie. Ek het in een vd beste weermagte gedien en dit was vir my n eer om dit te doen. Die film Verraaiers is niks anders as n verheerliking vd joiners en hensoppers nie.Netso trots op ons dapper Boerekrygers soos genl de la Rey,genl de Wet,Danie Theron en dies meer. Natuurlik is vandag se geskiedenis wat opgedis word aan ons kinders n totale verdraaing vd waarheid en ophemeling vd ANC en sy lakeie. So eenvoudig soos dit!

  2. “Al hierdie dinge sal nooit verander nie” – Ek is nie so seker nie. Dit moet moeiliker vandag wees om eensydige nasionalistiese sienings af te dwing as voor die tyd van die Internet.

    My hoop is ook dat namate mense se vlakke van geletterdheid styg, die verdraaiing van die geskiedenis, en die mag van nasionalismes flouer moet word. So miskien is daar byvoorbeeld ‘n kans dat die nasionalisme wat nou in Indië posgevat het onder Modi nie so intens en geweldadig sal wees soos die nasionalisme van die 1930’s nie. En ek dink dieselfde is moontlik vir SA.

  3. Is Nasionalisme organies, wel ja en nee. Dit hang af van wat jy beskou as nasionalsime. In die konteks van jou artikel stem ek egter saam. In ʼn onlangse debat het Flip Buys dit goed gestel op die vraag na wettigheid van ʼn regering: ʼn mens moet onderskei tussen regering en staat sowel as tussen legitimiteit en wettigheid. As voorbeeld wen ʼn party ʼn verkiesing in Duitsland met 47% van die stemme en vorm die kern van die regering as grootste party, Hamas aan die ander kant regeer in effek oor gebiede wat hulle beheer met 90% instemming van die bevolking. Die een is ʼn wettige regering die ander dalk nie, maar die onwettige Hamas is in die voorbeeld ʼn baie meer legitieme regering as die wettige een.

    Wanneer enige vorm van Nasionalisme deur ʼn staat onderskryf of afgedwing word, is dit ongetwyfeld kunsmatig. Wanneer jy egter te make het met, wat soms beskryf word as opponerende nasionalisme, waar etniese groepe die staat uitdaag is dit alles behalwe kunsmatig. Uiteindelik kom dit neer op wat jy as nasionalisme beskou. Ideologieë verwar mense te maklik, en ek dink dit is omdat die moderne staat aspekte van baie ideologieë absorbeer ( wanneer dit die bestaan en uitbreiding daarvan voorstaan) en net so weer verwerp (wanneer dit beperkings daarop plaas of afskaling bepleit).

    Dit is wat ek vreemd vind aan sommige Afrikaanse Linkses hulle tree nes nasionaliste op in hul veroordeling van mense wat hul self nie eerstens as “Suid-Afrikaners” of “Afrikaanses” beskou nie. Ek hou van klasieke liberalisme maar dit is totaal onversoenbaar met die moderne variante, uiteindelik is alle ideologieë kunsmatig in soverre dit dwangmatigheid vereis om te kan bestaan en sover as wat hulle organies is gesond en dit geld vir:
    Liberalisme, Nasionalisme, Sindikalisme, Sosialisme, Fascisme, ens . Daarbenewens is dit ook ongeag of die regeringsvorm uit ʼn Demokrasie, monargie, Republiek of uit die heiligste diktator van proletariaat bestaan.
    Dit is Hobbes se sterflike god – die staat wat kunsmatig is, die ideologie ʼn onbenullige bysaak.

    • Hmmm, interessante opinie! Ek sien egter steeds nasionalisme as kunsmatig. Net soos politieke landsgrense. Dis menslik uitgedinkte dinge wat nie deur die natuur erken word nie.

      Dankie vir jou lees en kommentaar.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s