Curriebeker 2014 naweek nommer 2

Sewe punte! Dit is wat gestaan het tussen die Argentyne en die Springbokke toe die eindfluitjie blaas. En die Poemas het nogal naby gekom in daardie laaste minute. Voor die wedstryd was daar vir hulle gelag maar dit was so amper of die wedstryd kon gelykop geëindig het. Die feit dat die wêreldkampioene Nieu-Seeland gelykop gespeel het teen Australië, is goeie nuus vir die Springbokke. Na die heel eerste naweek van die kompetisie is die Bokke bo aan die punteleer. Maar net die gedagte aan die wedstryd teen die Poemas in Argentinië lyk nou soos ’n berg om te klim. Dit gaan nie maklik wees nie lyk dit vir my.

Wat die Curriebeker betref, met my eie en die res van die wêreld se voorspellings het dit hierdie week baie beter gegaan as verlede week. Waar ek verlede week 2 uit 4 reg voorspel het, het ek hierdie week al vier uitslae korrek voorspel. Die komende naweek se wedstryde is egter nie so maklik om te lees nie.

In hierdie week twee van Curriebeker 2014 was dit onmoontlik om al die wedstryde behoorlik te volg. Drie van die wedstryde het gelyktydig plaasgevind. Die OP Kings is besig om ’n verleentheid te word, nie dat mens dit totaal en al gladnie verwag het nie. Daardie span sukkel om in die Vodacombeker te kompeteer, en is nie op meriete toegelaat tot die premierliga van die Curriebeker soos wat die Griekwas en die Poemas (Hierdie is Suid-Afrika se Poemas en nie die van Argentinië nie) was nie.

Miskien is dit beter om nie veel te praat oor die afgelope naweek se rugby nie. Die wedstryd tussen die Griekwas en die Cheetahs het sy oomblikke gehad. Die ander drie wedstryde het ek gladnie gesien nie. Dit is opmerklik dat die Griekwas nou, twee naweke na mekaar, teen twee van die tradisionele ‘sterker’ unies, slegs met sewe punte verloor het, en die kans is daar dat hulle die 30ste die bordjies kan verhang wanneer hulle weer teen die Cheetahs te staan gaan kom, maar die keer in Kimberley.

Die komende naweek se rugby beloof nogal vuurwerke. Week drie van die kompetisie, en nou kom drie wedstryde waar die uitslae in die weegskaal hang, asof die wedstryde nou spesiaal so gekies was om nou die kaf van die koring te skei. Miskien moet mens begin by die vierde wedstryd. Die Blou Bulle het nou ’n uitstekende kans om hulle heel eerste wedstryd in die 2014 Curriebeker te wen, wanneer hulle teen die OP Kings te staan gaan kom. My voorspelling is dat die Bulle daardie wedstryd met 20 tot 25 punte sal wen.

In die wedstryd tussen die Haaie en die Cheetahs, gaan ek maar weer oë toeknyp en uit lojaliteit my eie span as die wenner voorspel met ongeveer 5 punte. Dit is so met die Haaie, Cheetahs en die Bulle, dat al drie hierdie spanne tans kwesbaar is. Die Cheetahs wat ek vandag sien speel het, het egter beslis die potensiaal om die Haaie in Durban te klop.

Alle oë gaan egter hierdie naweek op Nuweland wees, wanneer die Westelike Provinsie en die Leeus mekaar die stryd sal aansê. Die Leeus sal na alle waarskynlikheid die gunstelinge wees, maar in hierdie wedstryd kies ek die tuisspan as gunstelinge. My keuse is WP met om en by 5 punte.

Die wedstryd wat egter die meeste onsekerheid by my laat is die tussen die Griekwas en die Poemas. Dit is waarskynlik so dat die Poemas hierdie wedstryd sal wen. Tuisveldvoordeel is iets wat baie in hulle guns tel. Maar omdat ek hou van die Griekwas en hulle as my sogenaamde “2de span” beskou, gaan ek vir ’n wen vir Griekwas met ongeveer 5 punte. Mag dit veel meer as 5 wees!

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s