Verdeelde land: Hoe die oorgang Suid-Afrika faal – Sampie Terreblanche

Lei die geldmag Suid-Afrika? (Foto: Discott / Wikimedia Commons)

’n Mens hoor dikwels die aanklag dat die post-1994 bestel net in eie belang optree. Net hulle eie vriende help. Hoe dikwels het ek nie al mense hoor sê dat niks goed uit Afrika kom nie. Alles wat van waarde is, kom uit die buiteland. Afrika het geen organiese filosowe nie (dis altyd mense wat nie eens die ABC van hierdie kontinent se geskiedenis ken nie wat sulke dinge kwytraak). Dit is van die opmerkings waarmee mens moet saamleef. Die buitewêreld tipeer ons, maar ons eie mense staan nie terug om eie erfenis af te kraak nie.

Die eenvoudige waarheid is dat dit menslik is om eers vir jouself te sorg. Kom ons wees eerlik. Dit is. Die mens bou bande en gaan sosiale kontrakte aan. En diegene met wie jy geen kontrakte aangaan nie, moet opsy staan. Ons gaan dan selfs kontrakte aan met God, so seg die teoloog. Ja, daar is twee “testamente” in die Bybel. Hierdie “testamente” is ooreenkomste. Krap my rug, dan krap ek joune. Daai tipe ding:

“Staatsondersteuning aan Afrikaners het ’n belangrike bydrae gelewer tot hul vinnige ekonomiese opkoms van 1948 tot 1974. Waar die staats- en semistaatsektore in 1948 hoofsaaklik deur Engelssprekendes beman is, het die NP [Nasionale Party] hierdie sektore binne tien jaar ‘verafrikaniseer’. Die NP het die tweetaligheidsbeginsel as hefboom gebruik om van Engelse in die staatsektor wat nie Afrikaans magtig is nie, ontslae te raak.” (p 177)

Mense is opgehef uit die staatskas en dit was baantjies vir boeties. Hulle het vir hulle gestem en daarom moes hulle hul eie mense help. Maar vandag verwag mense die regerende African National Congress (ANC) behoort anders op te tree as wat hulle eie mense het. Vandag is dit ’n onreg skynbaar dat daar iets soos regstellende aksie is. In 1948 was die tweetaligheidsbeginsel skynbaar nie.

Die waarheid is eintlik dat mense maar mense is. Ons sal nooit verander nie.

Ek is skepties oor ekonome. Ek lees en luister graag wat hulle sê, maar ek is skepties. Wat merkwaardig is aan Sampie Terreblanche se nuutste boek, is die feit dat hy skynbaar van mening verander het sedert 2002, toe sy magnum opus, “A History of Inequality” verskyn het. En wat meer merkwaardig is, is dat hy sonder skaamte erken dat hy dink hy fouteer het. Dit is nie aldag dat prominente denkers toegee dat hulle “verkeerd” kon wees nie.

Ek skryf verkeerd in aanhalingstekens want ek gaan gladnie voorgee dat ek presies weet wat is reg en wat nie. Die crux van Terreblanche se argument is dat Suid-Afrika basies beheer word deur die geldmag. En dat dit die geldmag is wat meeste van ons probleme in die land, soos werkloosheid en armoede veroorsaak. Hiervoor voer hy uitgebreide argumente. Maar wie is hierdie “geldmag”? Dit is die korporatiewe sektor wat gedryf word deur die, wat Terreblanche doop “neo-liberale” beleid. Onbeheerste kapitalisme dryf ons ekonomie.

Ek het so tyd gelede ’n redenasie gevoer oor die saak van duistere geldmagte. Ek is na dese stadig maar seker besig om te begin glo dat daar tog mates van waarhede aan al hierdie dinge is. Ten spyte van Suid-Afrika se politieke oorgang, het die gaping tussen ryk en arm gegroei. Die redes hiervoor moet veral in die ekonomiese skikking van 1994 gaan soek word.

Vir die toekoms skets Terreblanche ’n uiters duister prentjie. Hy voorspel nie dat die land daarin sal slaag om korrupsie en elite bevoorregting om te keer nie. Hy voorspel eerder ’n gewelddadige revolusie. Tog moet mense wat met leepoë terugverlang na apartheid, maar liefs wegbly van hierdie boek af: “…Suid-Afrika is ongetwyfeld ’n baie beter plek as voor 1994” (p 191).

As daar enige behoud vir Suid-Afrika gaan wees, so glo ek, dan gaan dit wees in demokratiese beginsels. Die land het baie om oor wakker te le, maar indien kiesers in die toekoms meer aggressief gaan begin om leiers tot verantwoording te roep, dan sal daar dalk een silwer randjie aan ’n baie donker wolk wees.

Vir die groter uitdaging, die van die sogenaamde “neoliberale” ekonomiese bestel, wat daartoe lei dat die gaping tussen ryk en arm aanhou groei, daaraan sal waarskynlik min spoedig verander. Dit is nie maar net iets wat in Suid-Afrika gebeur nie, maar in baie lande.

Politieke ideologie, wat kan mens daarvan sê? Is daar een ideologie wat onfeilbaar is? Ek glo nie daar is nie. Daar sal altyd kapitalisme wees, en daar sal altyd sosialisme nodig wees. Dit is soos Tereblanche tereg skryf, die kapitalisme veronderstel dat die individu se regte bevorder moet word, waar die demokrasie dit het oor die staat as geheel se regte. Die demokrasie en vryheid van spraak is die enigste twee groot wapens wat ons het, waarmee ons die wêreld kan uitdaag. As mens dit verloor, dan het jy amper alles verloor.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s