Hoekom ek dink ons vet is

‘n Man meet die omtrek van sy buik. (Foto: Fj.toloza992 / Wikimedia Commons)

Wanneer dit by kos kom, dan is mense vinnig op hulle perdjie. Ek dink na rassespanning en miskien God, grond en rugby, is daar min dinge wat onse mense so kan laat debatteer soos kos. Wat is die regte dieet? Wat is gesond en wat nie?

Ek is nie ’n goeie kandidaat vir die verkoop van gewigsverliesprodukte nie. Mense sal vir my lag en vra of ek dit self gebruik. Elke oorgewig mens het seker sy of haar verskoning. Myne is nie ’n verskoning eintlik nie. Dit is eerlikheid. Ek gee nie om nie. Of miskien moet ek sê ek gee nie altyd om nie. Soos baie mense het ek al opsetlik die dood getart, en andersins net eenvoudig nie my aandag op dinge soos gesond wees gevestig nie. Daar is baie aan die lewe.

Wat nou op almal se lippe is, is die ding van die professor Tim Noakes en die se “Real meal revolution”. Volgens Volksblad behels hierdie dieet dat jy vleis kan eet soveel soos jy wil, onder meer biltong, selfs snitte hoog in vet, en dat dit gesond is. Ek weet darem nie of dit presies is wat die professor bedoel nie.

Maar ek wil stilstaan by die vraag, hoekom is mense so oorgewig?

Ek het al in hierdie verband die vreemdste samesweringsteorieë gelees. Kyk daar is seker baie dinge waarvoor die geldmag blameer kan word, en een van die dinge wat mense sê is die geldmag en die wêreldbank wil ons vet he. Soos wat die wapenmaatskappye van hierdie wêreld oorloë benodig, so benodig die medikasiebedryf oorgewig en ongesonde mense. Oor die wapens het ek ook soms vermoedens, maar hier is wat ek dink aan die gang is – ons beweeg te min.

Opmerklik ook in vandag se Volksblad was daar ’n leser wat kort kommentaar gelewer het wat argumenteer dat mense meer oefening moet kry. Nou is dit so dat om te oefen gaan nie al die probleme oplos nie. Mens moet aan die dieet ook werk. Maar dit is eenvoudig net so dat mense nie naastenby soveel beweeg soos wat ons voorgangers het nie. Ons sit in lugverkoelde kantore vir ure aaneen. Ons ry oral heen in motors. Vergelyk daarmee die bestaansboere wat baie Afrikanerfamilies nog in die 1950’s was. Nou ja, teen daardie tyd was baie mense ook al verstedelik. Maar die punt is, mense het oor die algemeen meer beweeg. Daar was nie soveel motors nie. Mense het eerder gestap en fietsgery. Hulle het fisies hard gewerk. Daar was nie wasmasjiene nie. Daar was nie baie van die soorte tegnologie wat ons vandag het wat ons lui maak nie.

Hulle het hard gewerk en daarom kon hulle eet. Hulle MOES eet. Hulle moes eenvoudig als verorber wat hulle kon kry. Hulle lywe kon bakke en bakke mieliepap en brood en aartappels hanteer.

Daar word dikwels gepraat van die Mediterreense dieet. Is dit nie maar die eintlike basis van Noakes se sukses nie? Want o vet, daar is sukses. Mense juig oor die boek, ten spyte van al die kritiek in die media en selfs waarskuwings van dokters. Die groot verskil is natuurlik dat met die Noakes dieet word daar meer rooivleis geëet, waar in ’n Mediterreense dieet is dit meet vis. Die basis is egter dat stysels beperk word. Sekere groentesoorte bevat komplekse stysels, terwyl ander minder gesonde stysel bevat. Laasgenoemde is wat uitgesny word.

Die basis van Noakes se dieet is na my wete nie vleis nie. Dit is gesonde groente.

Soos met godsdiens, werk alles nie vir almal nie. Elke mens is uniek. Party wil met ’n orrel kerkhou, en formele klere. Ander soek ’n lawaai met ’n rockorkes, nog ander een wil in tale praat, ag, en so gaan dit aan. Maar wat die saak van lae koolhidrate en min suiker betref, dit is ook iets waarin ek glo. Ek is nie ’n maer mens nie, maar ek het my redes om te glo as ek suiker by my koffie gefoeter het die laaste twee jaar, en as ek baie meer stysel geëet het as groente, dan was ek dalk NOG groter om die middel.

Ek het die laaste tyd begin oefen, en ek moet bieg, dit maak waarlik ’n verskil. Mens voel goed en het meer energie.

Ek sal nie self groot hompe proteïen verorber nie. Mens moet nie meer as 300 gram van dit eet per ete nie. Eintlik is 200 gram al meer as genoeg. Maar wat mense van moet wegkom is groot borde mieliepap en baie brood en aartappels. Daar is gesonde volgraan brood, maar mense eet te veel verfynde stysels.

Maar nou ja, om vir ’n Vrystater te sê hy moet ophou pap eet, dit is ondenkbaar. Aan die ander kant, vir die boer wat 8 ure op ’n trekker sweet of ander harde fisiese werk doen, vir so ou gaan twee of drie bakke pap geen skade doen nie.

Dit is ons oukies wat in die kantoor sit vir 8 ure, wat liefs moet verbyhou.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s