Geloof anderkant Sondag: Christenskap met en sonder die kerk – Julian Müller

Ek sien daar was Sondag in die Rapport uittreksels uit gemelde boek gepubliseer. Ek sien dit op die internet want self is ek te arm vir koerante, en ek voel boonop dikwels ingedoen wanneer ek die koerante koop en daar is klomp skinderstories en nie genoeg harde nuus nie.

 

Die boek “Geloof anderkant Sondag” is nou die derde en finale “spirituele” boek wat ek gekoop en deurgelees het, en waaroor ek ’n aantal opmerkings wil maak. Ek onthou nog die skrywer se vorige werk “Om te mag twyfel”, en “Geloof anderkant Sondag” sluit natuurlik grootliks by daardie werk aan. Die hoofargument van die boek is dat die skrywer die idee van die “nuwe” geloofstaal verder wil voer. In “Om te mag twyfel” is die leser gelaat met die gedagte dat die geinstitusionele kerk vasgevang is in ’n pre-wetenskaplike geloofstaal, wat nie meer vandag vir mense sin maak nie.

 

In die nuwe werk ondersoek hy hierdie, is sy woorde, “geloof anderkant Sondag”. Wat behels hierdie geloof? Hoe lyk dit? En die antwoord is natuurlik, bietjie voorspelbaar sou ek tog sê, dat dit geen spesifieke vorm het nie. Dit is nie didakties en voorskriftelik nie.

 

Wat vir my egter die vreemdste is van Müller se werk, is egter dat hy op een plek in die boek skynbaar argumenteer dat mens steeds ’n Christen kan wees, sonder dat jy in die gedagte van Jesus as “soenoffer” glo, en dit sluit ook in die maagdelike geboorte, en skynbaar ook die goddelike aard van Jesus. Dit is vir my vreemd want hoe ek nog altyd dié geloof verstaan het, is dat die idee van Jesus as soenoffer, die een enkele groot eienskap is wat Christen van nie-Christen onderskei. Maar Müller sê NEE. Volgens hom het die idee van Jesus as soenoffer eers veel later ontstaan, om en by die 11de eeu, as ek nou reg onthou wat hy geskryf het.

 

So skryf hy dan ook van lidmate iewers in ’n NG gemeente in Pretoria, wat omgekrap was omdat die idee van die soenoffer tydens ’n begrafnis geopper was.

 

Ek moet bieg hierdie dinge is vir my baie vreemd. Bitter baie vreemd. Ek was maar drie jaar gelede nog aktief by kerke in my dorp betrokke. Hier in een van die gemeentes in Bloemfontein waar ek bly, ook NG, sit ek toe die aand daar by die selgroep, en toe kom die onderwerp van die boom van kennis ter sprake. Daardie aand toe word daar gesê dit was ’n ware historiese boom daardie, en dit was ’n ware historiese slang daardie. En dit is daar waar dinge dalk op ’n manier finaal vir my begin tuimel het, hoewel die saak natuurlik ’n lang aanloop gehad het, wat sekerlik sy wortels in my jeugjare het . . .

 

Maar, ek het Müller se boek tog baie insiggewend gevind en dit geniet. Ek dink wel dat die kerk in Suid-Afrika, in sy huidige vorm, nog ’n baie glorieryke toekoms gaan he, indien nie in die langtermyn nie, dan ten minste in die medium tot langtermyn. Die feit dat die Afrikaanse kerke skynbaar sukkel, beteken nie dat ALLE kerke in Suid-Afrika sukkel nie. Daar is kerke wat uit hulle nate bars.

 

Ek verstaan egter dat die mens kompeks is. Mense se behoeftes verskil. Ek vermoed ook dat daar tog, uiteindelik, ook skuiwe sal kom uit die tradisionele kerke. Dit sal gebeur want die kerke sal die “anderkant Sondag” se maniere begin inkorporeer. Mense sal by mekaar leer. Dit is wat die Katoliese kerk doen – dié leer by die einste kerke wat hulle eens op ’n tyd probeer uitroei het – naamlik die Protestante. Die verandering kom wel bitterlik stadig, maar hulle word eenvoudig daartoe gedwing deur die tye.

 

Daar is iets anders wat ook ’n rol speel. Daar is mense wat hou van die gestruktureerdheid van die tradisionele kerke. Ek was eenkeer by ’n geleentheid waar daar gepraat was oor Eugene de Kock – die voormalige Vlakplaas bevelvoerder. Die gesprek het gewentel om die moontlike vrylating van De Kock. En toe merk die akademikus Piet Croukamp op in hoe ’n mate De Kock respek openbaar vir die volgelinge van die Islam. Vir hulle dissipline.

 

Ja, mense se spiritualiteit verskil. Party mense is eenvoudig so dat hulle dit soek om te hoor dat hulle slegte smetterige sondaars is. Niks sal hulle ooit stop om mense te betaal om dit vir hulle te vertel nie. Dit gee hulle ’n “kick”, en spoor hulle aan tot groot dade van welsyn. En so sal dit ook dan nodig wees vir die “anderkant Sondag” mense om in harmonie met die tradisionele kerk te werk. Dit sal die ideaal wees. Gelukkig argumenteer Müller ook self langs hierdie lyne.

 

Nou ja, dit is dan wat ek alles wou sê rondom “Geloof anderkant Sondag”. Ek het begin om die blitsverkoper “Wat sê die prokureur? Regsake wat jou raak” deur Igna Klynsmith te lees. Maar ek gaan nie voor volgende week iets daaroor geskryf kan kry nie. Wat my veral getrek het aan dié boek, is dat die boek ’n ontleding bevat van die saak “Die mensdom (?) vs. Jesus van Nasaret”. Die boek is glo al uitverkoop, en die uitgewers gaan ’n nuwe oplaag druk.

 

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s