Die kopseer van Geskiedenis in Suid-Afrika se skole sleep voort

In die koerant vandag. Die minister Angie Motshekga. Daar is glo ’n aankondiging gemaak dat Geskiedenis dalk kort voor lank ’n verpligte vak op skool sal moet word. En die nuus is natuurlik, soos te verwagte, erg uiteenlopend ontvang. Die idee laat my met ’n kopseer net by die gedagte daaraan. Nie omdat ek NIE ten gunste daarvan is nie. Dit is maar net dat die saak so kompleks is dat mens sidder by die gedagte om daaroor te teoretiseer.

In die verlede is Geskiedenis uiteraard gebruik om die Nasionale Party en die se nasionaliste se visie te bevoordeel. Dit was geen unieke geval nie. As ek moet raai sou ek sê meeste regerings maak so. Trouens, daar is die gesegde wat lui dat die Geskiedenis altyd deur die oorwinnaars geskryf word. En in Suid-Afrika van 2014 is daar een party wat regeer. Net een. Die res is maar skadufigure.

Na afloop van Suid-Afrika se heel eerste demokratiese verskiesing in 1994, het daar nogal heelwat weersin in die vak Geskiedenis ontstaan. Die rede hiervoor is omdat mense nie mekaar se stories wou hoor nie. 1994 was polities ’n samesmelting, maar nie geesteskultureel nie. Eintlik was die agteruitgang van Geskiedenis iets verskrikliks, tot so mate dat daar bitter min van dié dissipline oorgebly het. Die aantal inskrywings vir studente wat ‘Geskiedenis’ op tersiere vlak neem, het getuimel. Politieke Wetenskap het die gewilde opsie geword, en daar is gefrons wanneer mense hoor jy studeer ‘Geskiedenis’. Wat kan mens doen met ‘Geskiedenis’? – Is daar smalend gevra, veral deur talle Politieke Wetenskaplikes, wat hulle dissipline as gelykstaande aan Geskiedenis, net sommer paar trappies beter ook daarby, beskou het.

In 2005, 11 jaar na afloop van daardie verkiesing, skryf die historikus R.W. Johnson in sy boek “South Africa: The first man, the last nation” op p. xiii dat “History ceased to be a compulsory school subject, a change which caused the numbers of those choosing to study history to plummet: there was no longer a need for history teachers and thus no jobs. Within universities history shrank sharply and at the same time a strange new bastard subject was born, Heritage Studies, whose content suggested it was mainly useful for training tourist guides.”

En vandag sit ons met die skade: Ons het ’n generasie jongmense deur ’n skoolloopbaan gesit, en hulle het daar uitgestap sonder dat hulle bemagtig is met vaardighede oor hoe om te reageer wanneer hulle met ons land se ongelooflik komplekse erfenis gekonfronteer word. Hulle het weinig insig en sensitiwiteit vir die verlede. Hulle het nie ’n aktiewe historiese bewussyn nie. En hulle kan maklik om die bos gelei word deur simplistiese opswepery deur politici, omdat hulle geen vaardighede ontwikkel het om histories genuanseerd te dink nie.

Die probleem is dat mense tot vandag toe nog nie juis in mekaar se verhale belangstel nie. Een goeie voorbeeld is die Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat bepleit dat daar baie meer oor Paul Kruger gedoseer word aan skole. Nie net is die kritiek uitgespreek nie. In 2012 publiseer die akademie hulle “Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag”, waarin die naam Charlotte Maxeke nie een keer verskyn nie, en waarin hulle die sosiale ongeregtighede van apartheid regverdig deur die kapitalistiese suksesse van die apartheidsbeleid te besing.

Volgens die berig in die Volksblad vandag is die Demokratiese Alliansie reeds gladnie gelukkig met die idee van Geskiedenis as verpligte vak nie. Ook die IVP se woordvoerder is skepties, en vrees dat die grootskaalse herimplementering van Geskiedenis as verpligte skoolvak, net as regeringspropaganda gaan dien.

Wat ek ook wonder is, is dit nie maar eintlik al reeds verpligtend in die vorm van Sosiale Wetenskappe nie? Ek was self bietjie lank gelede op skool. In my jare was daar nie iets soos Sosiale Wetenskappe nie. Maar ek het met dit te doen gekry in my eie opleiding.

Dit is eintlik amper ongehoord dat ‘Geskiedenis’ as selfstandige vak voor graad 10 aan skoliere aangebied word, hoewel dit soms gebeur. Die rede hiervoor is dat daar aanvaar word dat ‘Geskiedenis’ nie pappagaaiwerk is nie – die dissipline behels interpretasie. En alhoewel daar altyd enkele briljante leerders is wat hulle medeleerders ver vooruit is, is die grootste groep mense van gemiddelde intelligensie eers rondom 16 jarige ouderdom, dus graad 10, gereed om waarlik krities om te gaan met historiese gegewens, soos wat in die dissipline van ‘Geskiedenis’ verlang word.

Daarom is ek, wat self ’n gekwalifiseerde Geskiedenis onderwyser is, maar half verdeeld oor die saak. Wat bepalend belangrik is, is dat alle leerders aan sosiale wetenskap blootgestel word. Miskien sal dit nie so slegte idee wees as almal Geskiedenis neem nie, maar dit sal tog diegene wat veel meer tegnies aangele is benadeel, want Geskiedenis vereis baie goeie taalvaardighede.

Miskien moet hulle dit moontlik maak om aansoek te doen, en met die nodige evaluering soos gemotiveer deur ’n Sielkundige, diegene wat eerder ’n ander dissipline in die plek van Geskiedenis wil neem, dit dan toe te laat. Daarby moet dit wat vir leerders in die klasse geleer word, nie bepaal word deur politici nie, maar deur professionele historici. Maar dat die mense van ons land dit nodig het om aan mekaar se verhale blootgestel te word, dit het ons inderdaad meer as ooit nou nodig.

Advertisements

One comment

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s