’n Nota oor die heiligheid van Jesus se lyding vir Christene

Ek het weer begin wonder en peins oor die toneelstuk “Return of the ancestors”, wat ek die naweek by die Vryfees gesien het, wat, so terloops ’n heel goeie stuk teater is. Maar wat my laat wonder het is, hoekom het ek instinktief geweet dat die een toneel onsensitief is teenoor Christene?

 

Die toneelstuk handel oor gestorwe voorvaders wat Suid-Afrika van 2014 besoek, en die politiek en toestande van vandag beleef. In die een toneel is daar twee lede van die staatsbeheerde media, en hulle kom te staan teenoor die inkarnasie van Steve Biko. Dan vra hulle vir Biko om soos die gekruisigde Jesus te poseer, en om homself dan met tamatiesous te besmeer vir effek en “unhappy” te lyk. Ek verstaan die rasionaal agter die toneel. Die rasionaal is felle kritiek teen Suid-Afrika se huidige staatsbestel. Daar is akademici wat dokumenteer en argumenteer dat die nalatenskap van spesifiek Steve Biko en die swartbewussynsbeweging misbruik word vir eie gewin, of so nie, dat dit misken word, soos wat die toneelstuk dan ook te kenne wil gee. Lees byvoorbeeld die artikel hier, vir een goeie voorbeeld van hierdie kritiek. Nou die toneel uit “Return of the ancestors” het ten doel om te spot met Suid-Afrika se huidige heersers. Hulle te tipeer as mense wat die geskiedenis net gebruik vir eie gewin, maar ongelukkig is dit onsensitief teenoor Christene.

 

En die rede? Die rede het ek bepeins, vanuit my eie ervaring omdat ek eens self daardie geloof beoefen het, omdat ek steeds Christen vriende het wat vir my baie dierbaar is, en uit wat ek al alles gelees het.

 

Die rede is wel waarskynlik dat die lyding van Jesus vir Christene heilig is. Dit is heilig omdat Christene tipies glo dat Jesus vir hulle sondes gekruisig en gemartel is. En daarom, in hulle geloof, is hulle mede aandadig aan hierdie Heilige man se pynlike einde. Daarom praat hulle oor die marteling binne ’n bepaalde konteks waar dit gemaklik is.

 

Met ons konstitusie en die se vryheid van spraak, staan dit natuurlik enige mens vry om met hierdie heilighede om te gaan soos hulle wil, solank daar nie haat en geweld teenoor enige geloof aangewakker word nie. Tog, in ’n ideale samelewing, voel ek dit sal ideaal wees dat mense meer sensitief is. Daar is byvoorbeeld, in terme van die wette van ons land, niks wat ons verhoed om Jesus of God te probeer skets nie. Tog weerhou baie mense hulle hiervan. Die tien gebooie verbied immers die maak van sketse, foto’s of beelde. En veral baie Islamiete is sensitief vir voorstellings van God (die Arabiese woord vir God is “Allah”) en hulle heiliges.

 

Met sulke talentvolle skrywers en kunstenaars, moet daar tog ander metafore gewees het wat hulle iewers kon soek. En tog verstaan ek hulle was op soek na ’n uiters dramatiese metafoor. Maar selfs vir my, as nie Christen, is dit bietjie onsensitief teenoor my Christen vriende. En ek sê dit nie omdat ek eens self daardie geloof beoefen het nie. Ek was nooit Islamiet nie, maar ek sal nooit hulle profeet probeer skets nie. Mens moet tog probeer, so ver as moontlik, om andere te respekteer. Daar is ander tonele, veral een waar die akteur ’n kerkman se tipe klere gemeng met die van die heersende party dra – natuurlik ook in kritiek teen die kerke en godsdiens. Maar dit is die lyding van Jesus wat vir Christene heilig is, en wat die res van ons moet probeer respekteer so ver as moontlik. Ek weet daar is nie bewustelik gepoog om aanstoot te gee nie. Maar hierdie tipe van dinge, of dit bewustelik of onbewustelik is, sal niks verander aan gelowiges se geloof nie. Dit sal hulle net seermaak en hulle vertroue skend.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s