Ek kies steeds die kerk: Stories, stryd en standpunte oor die kerk en die wêreld – Neels Jackson

Op die flapteks agterop, stel Neels Jackson iets van sy saak – “Dit het mode geword om die kerk te kritiseer. As ’n mens jou op van dié kritiek moet verlaat, het die kerk, in besonder die Afrikaanse kerke, geen geloofwaardigheid meer nie . . .”. En tog kan die teenargument ook gemaak word. Is dit nie die kerk wat die wêreld konstant in die beskuldigingsbank plaas nie? Wat mense gevange en in permanente skuld hou met die gedagte dat ons almal “in sonde ontvang en gebore” is nie? Dit terwyl al minder en minder mense vandag nog die skeppingsverhaal in die boek Genesis, met die ‘sondeval’, vandag nog letterlik lees en verstaan?

 

Mense wat nie oopkop is nie, moet wegbly van Neels Jackson se “Ek kies steeds die kerk”. Dit is ’n uiters genuanseerde teks. Dit is ’n boek wat enige persoon wat ’n weersin in die bestaan van die kerk het, so glo ek, sal uitdaag.

 

In my boek, en dit is waarskynlik so omdat ek gefassineerd is deur die ontwikkeling van kerke en geloofstradisies, daarom is die naam Neels Jackson in my boek ’n “huishoudelike” naam. Ek ken hom nie, maar ek lees al sy skryfwerk vandat ek my verstand gekry het. Ek was om en by vyf jaar oud, toe Jackson as verslaggewer by Beeld begin werk het in 1990. Sedertdien het Jackson ’n deurwinterde mediaman geword. Hy het gespesialiseer in die skryf van berigte en artikels rondom kerke, en hoe hierdie ontwikkelinge die samelewing raak.

 

En by die lees van “Ek kies steeds die kerk”, wat ’n keur van sy skryfwerk as verslaggewer behels, kan mens uiteindelik, na die laaste sprook gesprak is, verstaan hoe hy by die titel uitgekom het van “Ek kies steeds die kerk”. Om die waarheid te sê, dit maak vir jou niks anders as sin nie.

 

Die berigte en artikels vervat in die volume, strek oor meer as twee dekades. Die verhale is kleurryk, en eg Suid-Afrikaans. Die kerk mag miskien nie meer leef in die harte van alle moderne mense nie, maar wat hierdie verhale telkens skets, is dat die kerk lééf in die wêreld. Dit is daarmee intiem verweef. En dit sal altyd met ons wees, in een of ander vorm. In al sy geure, kleure en vorme, sal die kerke altyd met ons wees. En hulle sal altyd aanhou om ons gemeenskappe te help vorm.

 

Daar is by Jackson geen sprake van neerhaligheid teenoor bepaalde tradisies nie. As verslaggewer is hy uiters objektief, en skets hy van die skynbare onbenullige tot die mees invloedrykste kerkfigure in terme wat mens se verbeelding aangryp en jou boei. Die onderwerpe is ewe eens ryk geskakeerd. Van homoseksualiteit tot Belhar. Van vroulike bemagtiging in die kerk, tot die smag na paternalisme onder vroue. Die teenstrydighede en verwarring, die menslikheid, die drama van die toestand wat lewe is, en die sug na die spirituele, na die verwondering van die kosmos, en die misterie van menswees.

 

Maar Jackson lewer nie net verslag nie. Hy het oor die jare ook baie ontleding gedoen, en gevolgtrekkinge gemaak. In een van sy dramatiese stukke getiteld “Wit en bruin in ’n dubbelbed by die swart Geels”, vertel hy hoe dit gekom het dat hy tot die besef gekom het dat die beleid van apartheid misluk het. Tydens ’n uitreikaksie beland hy saam met ’n sogenaamde “bruin” familie, met die van Geel, in ’n township. Die Geels was in die swart woonbuurt hervestig nadat hulle as “swart” geklassifiseer was ingevolge die bevolkingsregistrasiewet. En uit nood moes Jackson toe ’n kamer deel met ’n Indiër man, wat hom toe konfronteer oor apartheid. So skryf Jackson, “daardie aand, saam met ’n jong Indiër tussen die lakens op ’n dubbelbed in die townshiphuisie van die swart Geels wat eintlik bruin moes wees, het ek besef dat apartheid onverduidelikbaar is.” (p 169).

 

Ag en so gaan die lys aan. Daar is die een fassinerende stuk na die volgende. Hy berig oor bedelaars en die skade wat mense doen deur vir bedelaars geld te gee – dat dit ’n bose siklus in stand hou, volgens kerkleiers. Daar is Ian Fluks, wat met ’n ompad na ’n straatbestaan in die teologie geindig het, net om tragies gedood te word. En sy skryfwerk ondersoek skrifinterpretasies. Van die skeppingsverhaal, en hoe uiteenlopend dit gelees word, tot by die boek Openbaring, waaroor daar soveel chaos en verwarring binne die kerke bestaan.

 

“Ek kies steeds die kerk” is ’n werk wat ek besonder baie geniet het, en net eenvoudig nie kon neersit nie. Ons kan dankbaar wees dat hierdie wonderlike keur te boek gestel is.

 

Hierdie is die tweede boek van drie wat handel oor spiritualiteit wat ek onlangs gekoop het en kommentaar op lewer. Die laaste een wat gaan volg is Julian Müller se “Geloof anderkant Sondag: Christenskap met en sonder die kerk”.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s