Ook ’n nypende tekort aan iets anders

Daar was ’n interessante vraag gevra vandag op die radio – hoekom het Suid-Afrika so ’n “nypende” tekort aan ambagslui. Ja, dit was die woord wat op Monitor en Spektrum se Bakkiesblad gebruik was – nypend. Suid-Afrika het ’n “nypende” tekort aan ambagslui. Ek kon nie self die insetsel luister nie, en het maar net die vraag op die internet gesien, maar ek wil tog graag ’n aantal opmerkings oor die saak maak.

 

Alhoewel ek seker is dat hierdie saak redelik meer kompleks is as wat ek dalk kan teoretiseer, is daar een aspek waarop ek tog wil fokus. En dit is die persepsies wat daar bestaan oor mense wat met hulle hande werk. Ons het hierdie probleem al regtig lank. En ek is nie so seker die probleem is al opgelos nie. Naamlik dat daar neergesien word op mense wat met hulle hande werk. Die argument, die ou holrug geryde argument, is dat hierdie mense nie so “ontwikkel” is soos mense wat nie met hulle hande werk nie.

 

Hierdie onsmaaklike realiteit is goed gedokumenteer. Ek verbeel my die heel eerste keer wat ek daarvan gelees het, was in die biografie oor Maria Rothmann, natuurlik ’n merkwaardige vrou wat die Hertzogprys gewen het en wat werk gedoen het wat van onskatbare waarde was. Maar dit was ’n fout van mense om neer te sien op diegene wat ander talente en vaardighede as hulle ontvang het van die Groot Gees, en dit is ’n fout wat vandag nog herhaal word.

 

Mens kan maar net bloot kyk na die taal wat mense vandag nog gebruik om van mekaar te praat. Ek bevind myself in ’n beroep waar jy nie sal instap sonder ’n universiteitsgraad nie. Maar ’n argivaris word tipies as “minder ontwikkel” beskou in Suid-Afrika as wat ’n navorser is. Ek maak nie hierdie dinge op nie. Ek hoor hoe praat mense van mekaar. En ja, ook onder argivarisse kry jy natuurlik ook die wat dan neerkyk op die wat weer “laer” as hulle is. Die wat nie “grade” het nie.

 

Ja so erg is dit, by party departemente word die aantal grade van die personeel getel. Asof dit regtig boe of ba maak aan hoe die plek funksioneer.

 

Maar een ding wat ek ’n wyse man al hoor sê het is dat, wanneer die hoof van die organisasie weg is vir ’n week, dan kom min mense dit agter. Wanneer die skoonmaker weg is vir ’n halwe dag, dan skinder die publiek gou oor hoe slordig en vuil als is.

 

Hoekom is die mens tog so? Hoekom sien ons so neer op mekaar? Een keer per week trek ons saam en verklaar alle mense is gelyk voor Allah en Jesus, maar net wanneer ons uit die tempel of kerk stap verander alles so gou soos die sentimente en lojaliteite van ’n aandelemakelaar . . .

 

Die feit is dat dit geleerde mense, sogenaamde “ontwikkelde” mense soos ekself, was en is, wat hierdie persepsies laat ontstaan het, en wat dit in stand hou, dat mense wat nie “grade” het nie, dat hulle kwansuis “minder ontwikkel” is as “ons”. En dat hulle bydrae dus, gevolglik, minder waardevol is. Dit is geen wonder dat daar so baie kritiek teen universiteite ontstaan het nie. Ek het eenkeer na ’n onderhoud geluister tussen Frank Opperman en die toe radioman Niekie van den Berg. En Frank maak toe die opmerking – wat is die nut van die B.A. graad? Dit bly my by, want ek het in my persoonlike lewe ook al hoeveel keer daardie kritiek gehoor. En tog verruil ek my B.A. vir niks op aarde nie . . . Daar is baie mense wat met die B.A. begin het. En so is daar baie mense wat nie eens matriek het nie, en tog sinvol gelewe het en groot sukses behaal het. Wat vir een werk, werk nie vir die ander nie.

 

Frank Opperman is juis vir ’n ander rede baie interessant. Het hy nie self die rol vertolk van een van ons mees legendariese (dog fiktiewe) ambagsmanne nie? En wat het ‘ouboet’ nie als gedoen om die mechanic te stereotipeer as ‘dom’ nie? As ‘minder ontwikkel’ nie?

 

Dit is nie net die beroep van ambagspersoon wat ly onder stereotipes nie. ’n Ander goeie voorbeeld is Maatskaplike Werk. Ook daardie beroep ervaar ‘nypende tekorte’ wat betref mense wat dit betree. Ook die onderwys. Maar al hierdie beroepe word gestereotipeer. Mense ontmoedig mekaar en hulle kinders om hierdie beroepe te betree. En ja, ook die staatsdiens word gestereotipeer, veral deur diegene met ’n sekere politieke perspektief.

 

En so ontmoedig mense mekaar en beledig en verkleineer die een die ander se beroep, en hulle demotiveer jongmense om daardie beroepe te gaan beoefen, en dan, op ’n goeie dag, dan vra daardie selfde mense, maar waar, o waar is die loodgieters? Waar is die Maatskaplike Werkers?

 

So is die mens . . .

 

Ek hoop van harte dat mense sal begin besef dat daar ’n wye spektrum van mense nodig is om ’n gemeenskap en ’n ekonomie te laat slaag. Daar is boonop baie mense wat in navorsingsposisies sit, in die staatsdiens, die privaatsektor, by universiteite, maar wie se uitsette eintlik maar baie laag is, en dit wat hulle wel produseer kan regtig nie juis as ernstige navorsing beskou word, wat waarlik die gemeenskap ten goede beïnvloed en menslike vooruitgang stimuleer nie. Al wat baie van dit doen is om die teikens te bereik. En dan klap die wêreld hande en sê hulle is “meer ontwikkel” as die res . . .

Advertisements

2 comments

  1. Jy het ‘n baie goeie punt beet. Net soos wat daar vir jare ‘n oordrewe klem op die sg IK geplaas is. Mense se intelligensie is gemeet aan bepaalde toetse wat dan sou bepaal of hulle slim of dom is. Vandag besef ons dat emosionele intelligensie eintlik ‘n belangriker rol speel in jou vermoë om situasies te hanteer, Persoonlik glo ek dat daar verskillende tipes intelligensie is en dat mense wat prakties met hulle hande kan werk, se intelligensie net op ‘n ander vlak lê, of anders saamgestel is. Ek is getroud met ‘n man met ‘n B.Sc en B.Ed grade, maar met 10 duime. Baie ongemaklik is mens vir elke klein probleempie in die huis ‘n sg kenner moet inroep…. Op die ou einde is ons almal maar soos ratte in ‘n masjien en elke rat vervul ‘n belangrike funksie. Watter sukses kan ‘n groot maatskappyhoog nou eintlik bereik as daar nie mense onder hom is wat hulle werk reg doen nie? Of wat kan ‘n boer bereik sonder ‘n plaasarbeider wat sorg dat die vrugte gepluk kom?

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s