God se oë is blou: ’n Kop-en-hart-reis – Abel Pienaar

Ek het anderdag deur ’n boekwinkel gestap en toe drie publikasies opgemerk. Al drie het in 2014 verskyn en handel oor geloof/godsdiens/spiritualiteit. En toe al drie aangeskaf uit nuuskierigheid. Ek het nou reeds een van die drie deurgelees en alreeds met een van die ander twee begin. En Abel Pienaar se boek was die eerste wat ek deurgewerk het. En daaroor wil ek nou net ’n aantal opmerkings maak. Ek gaan beslis ook oor die ander twee skryf. Die een wat ek tans lees is geskryf deur Neels Jackson, eintlik ’n tipe keur van sy skryfwerk as joernalis, met as titel – Ek kies steeds die kerk – wat natuurlik totaal in stryd is met wat Pienaar te sê het.

 

Nietemin, so ietsie oor Pienaar se skryfwerk, ek het natuurlik op ’n keer iets wat hy in Rapport geskryf het nogal kritiseer. So erg was dit dat ek deur van Pienaar se aanhangers gekontak is oor wat ek gesê het. En wat natuurlik rondom hom laer getrek het en my kritiseer het vir my kritiek. Nou ja, ek staan steeds by wat ek daardie tyd kwytgeraak het. Ek het daardie spesifieke stuk van hom as anti-Christelik ervaar. Miskien was dit nie wat hy bedoel het nie. Ek sal nie weet nie. Maar dit is die indruk wat ek gekry het. Want dit is asof daar met die stuk geargumenteer word dat alle Christene opsetlike leuenaars is. En dat die sogenaamde “historiese” Jesus eintlik net niks anders as ’n slim tipe onderwyser was nie.

 

Die gebruik van die Evangelie van Thomas is interessant, maar uiteindelik is kenners verdeeld oor hoe ‘oud’ dit is. Dat daar ook verskillende ‘lae’ is aan daardie evangelie, daaroor het ek min twyfel. Dit was ingekleur oor tyd. En die heel oudste en outentieke bron wat ons oor Jesus het, is na my beskeie mening die brief Tessalonisense, wat enkele dekades na Jesus se dood geskryf was. In daardie brief is dit duidelik dat Jesus van die vroegste tye as ’n messiaanse figuur gesien was. Ek het ook rede om te vermoed dat dit reeds gedurende Jesus se leeftyd so was dat daar van Jesus in terme van ’n Messiaanse figuur gedink was. Daarvan getuig ook Galambush se werk “The reluctant parting”, na my mening sterk. Wat my die meeste omgekrap het was dat die opiniestuk beweer het dat die konsilie van Nisea tien jaar, let wel, TIEN JAAR, na die dood van Jesus ‘besluit’ het dat Jesus meer as mens was. Sommer net so oornag. Dit terwyl dit algemene kennis is dat Nisea eeue na Jesus se dood plaasgevind het.

 

Maar nietemin, ek wil eintlik skryf oor Pienaar se nuutste poging. En vir hierdie boek, kan ek niks anders as lof uitspreek nie. God se oë is blou is ’n baie interessante versameling van essays. Dit is sekerlik, uiteraard, so, omdat ek myself ook maar uiteindelik as agnosties sien. Dit is daarom eintlik logies dat agnostiese besinninge my sal geval. Dit was veral deel een van die boek wat ek die meeste geniet het. Die boek is in twee dele gedeel met as die eerste wat getitel word “Dekonstruksie van my dink en glo”. In hierdie gedeelte le die meeste vleis, en by die lees daarvan kom die briefskrywer Paulus se woorde by my op dat ons sien in ’n spieël in ’n raaisel.

 

En net soos die skrywer van hierdie boek, is dit vir my tragies dat daar mense is wat regtig glo, waarlik vas oortuig glo, dat hulle hierdie raaisel opgelos het. Dat hulle iewers ‘tuisgekom’ het. En dat almal wat nie daar op hulle eiland sit nie, eintlik besig is om te dwaal.

 

Wat ek ook uiters handig gevind het, is die stukke wat handel oor die antieke geloofsisteme. Die rol wat landbou gespeel het in die ontwikkeling van menslike spiritualiteit. En dan veral, hoe mites werk en dat ons mites anders moet lees as historiese tekste. As geskiedskrywing.

 

Wat die tweede deel van die boek betref, dit is die deel wat ek die minste geniet het. Maar dit het tog ook waarde. Hierdie deel is getitel: Rekonstruksie van my dink en glo, en wat my bietjie afsit hiervan, is dat dit uiteindelik maar net vir my soos motivational talk gevoel het. En daarvan had en nie lus nie.

 

Maar daar is een ding van hierdie publikasie wat dit regtigwaar ’n onreg aandoen, en dit is die talle skryf en spelfoute. Hierdie is miskien die grootste klap in die gesig vir die uitgewer. Dit is steurend, en dit doen die outeur se standpunte ’n onreg aan. Ek was op een stadium lus, omdat ek geweet het ek gaan waarskynlik iets wil skryf oor die boek, was ek lus en maak notas van al die skryf en leesteken foute. Selfs een of twee spelfoute. Dit is asof die werk nie noukeurig deur ’n proefleser en veral taalversorger nagegaan was nie . . .

 

Maar wanneer ek alles in ag moet neem, dan kan ek nie anders as om uiters beïndruk te wees met hierdie publikasie nie. Die grootste waarde daarvan le in die eerlikheid. Dit is van hoogstaande gehalte in hoe ’n mate die skrywer uit verskillende tradisies put om tot sy gevolgtrekking te kom. Ek wil dit selfs waag om te sê dat hierdie publikasie die wortels van ons demokrasie versterk, want dit herrangskik stereotipes. Dit is uitdagend. Dit vra vrae skaamtelose vrae.

 

Dit gaan vir verskeie redes nie die Andrew Murray-prys ontvang of deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer word nie. En eintlik, sou die talle skryffoute daarin oorgesien word, dan sou ek dit graag met ’n prys wou laat wegstap, want ek dink wat Pienaar hier reggekry het is nie net uniek in Afrikaans nie, maar dit is ook ’n knap bydrae in die algemeen tot die reuse versameling van bronne oor spiritualiteit.

 

Ek is tans besig om die boek “Ek kies steeds die kerk: Stories, stryd en standpunte oor die kerk en die wêreld” deur Neels Jackson te lees. Dit is die volgende in die reeks van drie boeke waaroor ek iets wil skryf op die Afrikaanse Opinieplatform.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s