bok, bok, staan styf . . .

Die verstommende effek van sosiale media het homself weer in al sy glorie ten toon gestel in ’n reeks gebeure gedurende die 2014 sokker wêreldbeker, toe die 17 jarige Belg, Axelle Despiegelaere, oornag ’n modelkontrak losgeslaan het, nadat foto’s van haar op die internet versprei het. Maar haar nuutgevonde populariteit het nie lank geduur nie. Sy open toe ’n Facebook rekening en laai ’n klomp foto’s van haarself daarop, onder meer een waar sy ’n bok geskiet het tydens ’n jagsessie. En dit het alle hel laat losbars, met stringe kritiek. Daar was tot skynbaar ’n “spin-off” oor die hele storie, toe foto’s van die legendariese film regisseur Steven Spielberg die rondte begin doen, kammakastig by die karkas van ’n dinosourus wat hy kwansuis platgetrek het – wat weereens tot ’n stortvloed van kritiek gelei het.

 

Daar is miskien een punt van kritiek wat ek self teen die jonge dame kan maak, dit is die bewoording dat hulle nou Amerikaners gaan jag – dit nou na aanleiding van België se wedstryd teen die Verenigde State van Amerika. En sy het toe ook die bewoording verander. En mens moet ook in ag neem dat sy 17 is. Ek weet nie of dit vir enige mens gesond is om oornag so sensasie te word nie, en dan op daardie jong ouderdom. Bitter baie mense sal die situasie verkeerd hanteer. Ek meen nie almal het die ervaring van Queen Liesbet nie.

 

Maar wat ek wel jammerlik vind, is die haat wat daar teen die jagbedryf is. Ek is nie self ’n jagter nie en ek kan nie skiet nie. En ja, foto’s van dooie bokke staan my ook gladnie aan nie. Maar wat sal mense nie als mee spog nie. Een ou met sy duur motor. Ander een met haar ring. So is die mens. Ons waardes verskil. Ek vind dit amper net so walglik om met rykdom en uitspattighede te spog as met dooie bokke. Om die waarheid te sê, gee my dan maar die dooie bokke. Die manier waarop baie mense lewe, so uitspattig en spandabelrig, laat ’n uiters hoë koolstof voetspoor, en wis baie meer spesies uit, as die mense wat elke winter ’n bok of wat gaan skiet.

 

Om die waarheid te sê, Suid-Afrika is een van die rykste lande wanneer dit by biodiversiteit kom. Daar is min lande wat ons kan ore aansit. En dit is aan die jagbedryf wat ons baie hiervan te danke het. Om maar een voorbeeld te noem – ek het op ’n plaas grootgeword. En daar was nie iets soos vlakvarke in die wild toe ek grootgeword het nie. Hulle was almal uitgejag. Maar toe die wildsbedryf in die 1990’s begin groei, toe het van hierdie varke ontsnap, en vandag is vlakvarke nie meer iets wat jy net op poskaarte sien nie. O nee, jy loop nou die gevaar dat jy in haar en haar spannetjie gaan vasry met jou motor. Maar hulle is die pragtigste diere – mooi van lelikgeit.

 

Maar so is die mens. Oningelig.

 

En die besigheidsmense het hulleself lekker slim uit die saak uitgewikkel, en so is die dametjie se kontrakte nou nie verder gevoer nie.

 

Maar die hele insident beklemtoon net weereens vir my hoe bitter onkundig mense darem maar is. En hoe onverdraagsaam. Dit is eintlik tragies presies hoe min hulle weet van wat die jagbedryf alles vir die beskerming van diere doen.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s