My boetie se sussie se ou

Gister. In die Sand du Plessis teater. En die mense daar vra dat ons vir almal moet vertel van “my boetie se sussie se ou” – as jy daarvan hou. As jy dit nie geniet nie, probeer dit maar stilhou. Ek was daar danksy die gawe mense van lefra produksies en hulle vennote. Ek gaan nie sommer na kunste kyk nie. Dis deels omdat ek nie geld het nie. Maar dis ook nie NET dit nie. Ek is nou maar eenmaal bietjie van ’n introvert/kluisenaar. Nie introvert in die klassieke sin nie. Volgens die een vriend van my wat die Sielkundes en goet beter opgelees het, ’n INFP. Dit is die introvert wat na buite toe leef. Maar ek is die soort wat eerder ’n boek sal lees. Oor ander mense. Regte mense. Eerder as wat ek sal uitgaan en uitermatig sosialiseer en die dorp rooi verf.

 

Ek gaan egter van tyd tot tyd en besoek teaters. Die heel grootste teater waar ek myself pal tuisvind, en wat een groot uitsondering is op my vorige paragraaf, is Vrystaat Stadion – die tuiste van hardlooprugby, waar ek pal my R60 gaan offer vir die sportgod.

 

Maar nietemin, oor ‘my boetie se sussie se ou’, ek wou eers niks daaroor skryf nie. Ek skryf net iets as die drang by my ontstaan. Want ek is nie ’n skrywer nie. Ek is ’n argivaris en ek doen grootliks net wat ek wil. Veral na werk. Dan doen ek wat ek wil. Wat ek geniet. En as ek lus is om te blog dan blog ek en as ek nie lus het nie dan los ek dit en gaan doen wat ek voor lus het. Uiteindelik het ek myself tog geroepe gevoel, nie om die produksie die “groen lig” te gee nie. Want wat ek van die uitvoerende kunste en van kuns in die algemeen weet, dit is gevaarlik.

 

Al wat ek eintlik oor die saak wil uitlig is dat ek dit tog geniet het. Sonder om te veel weg te gee, die hele “boetie se sussie se ou” is natuurlik niks anders nie as ’n totale klug. En die doel van ’n klug, as ek dit nou reg verstaan, is die amper uitsluitlike doel van ’n klug, is om die gehoor te laat lag. En om jou te vermaak. Dit is nie diep filosofies nie. Dit is nie gewortel in die kernvraagstukke van die mens se bestaan nie. Die idee is om skreeusnaakse situasies te skep op die verhoog en vir die mens ’n stukkie ontvlugting te gee. So is dit met “my boetie se sussie se ou”.

 

Die hele idee van een man wat twee gesinne onderhou, en dit regkry, sonder om uitgevang te word, dit is van meet af aan iets wat net nie realisties is nie. As mens egter ’n klug te krities kyk, dan sal jy dit nie kan geniet nie. Jy moet maar jou verbeelding laat gaan. Na als dink ek nie ek het elke nuanse van die teks gesnap nie, maar ek het baie daarvan WEL gesnap. En ek het dit heel komies gevind. Ek hoop ook van harte vir die organiseerders se part dat dit groot gehore sal lok. Ek wil tog herhaal dat ek nie met hierdie opmerkings ENIGE mens wil probeer aan OF afraai om dit te gaan kyk nie. Al wat ek kan staaf is dat ek die produksie heel aangenaam gevind het en lekker gelag het.

 

boetie

Dit het my bietjie laat dink aan Proesstraat. Vir iemand wat nie sy verbeelding laat gaan nie, sal Proesstraat onmoontlik tog snaaks kan wees. Jy moet jouself maar ‘laat gaan’ as jy dit kyk. En dieselfde prinsiep geld vir ‘my boetie se sussie se ou’. Dit wys nog tot en met Saterdag 12 Julie 2014.

 

Goeiste en daar gaan Duitsland toe en vermorsel die arme gasheerland Brasilië. Nou is dit oor sowat ’n uur tyd vir Nederland en Argentinië. Ek gaan duime vashou vir Nederland, hulle sal moet wakker slaap!

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s