Wanneer mense bos gaan met “die Stem” . . .

Dit is eintlik op ’n ironiese manier heel logies dat die sing van “Die stem van Suid-Afrika” tydens ’n kapitalistiese Mekka soos die InniBos kunstefees, waarheen mense in hulle derduisende heen stroom om hulle oorbodige geld op onnodige luukshede te gaan verkwis, dat die hele storie die mense van PRAAG se harte so kan laat vermurwe. As mens immers die ontwikkeling van die Unie van Suid-Afrika navors, dan is dit duidelik dat die hele staat van Suid-Afrika sy oorsprong het in ’n kapitalistiese kompromis tussen Boer en Brit. Reeds in 1907, toe die Unie op die horison was, het een waarnemer, ene A.K. Soga opgemerk dat “… this will be a glorious country for corporation pythons and political puff-adders, forced labour and commercial despotism, but no fit place for freemen to live in.”* Hoe profeties was hierdie woorde darem nie, as ons dink, van die Rand-rebellie van 1922 tot die tragiese gebeure by Marikana in 2012, om maar enkele insidente te lys nie? Hoe profeties was dit darem nie?

Die ou Boere wat in die Suid-Afrikaanse Oorlog geveg het van 1899 – 1902, was nie kapitaliste nie. Maar hulle nasate wat in die 21ste eeu lewe is presies dit in murg en been. Dit is hoekom die PRAAG mense nou nie juis opgewonde raak oor Orania nie, en indien “die Stem” in Orania gesing sou word, sou dit nie eens die nuus gehaal het nie. Nou nie dat die gehate mense daar in Orania juis elke dag die stem sing nie (ek is elk geval nie bewus daarvan nie).

Ja dit is tog jammer tot watter mate mense nog in die verlede lewe in Suid-Afrika, en die sing van “die Stem”, veral binne hierdie konteks, versimboliseer hierdie karaktereienskap van baie Suid-Afrikaners. En dit is nie net een groep in onse land wat so maak nie. Dis baie menslik. Ons heersende party, die African National Congress, verromantiseer ook dikwels die verlede, want die verlede besit vir baie van daardie mense die skyn van ’n verenigde drieparty alliansie met een gemeenskaplike vyand en geen interne wrywing nie – alles natuurlik historiese illusie en fantasie. Hierdie hunkering van mense na wat was word ook versimboliseer deur twee ander onlangse insidente. Volgens wat berig word, het Hofmeyr na afloop van die gebeure by die InniBos fees gereageer en verklaar dat ”Integrasie het ons die mees gewelddadigste land gemaak laaaaaank voor ek die Stem gesing het. Ek vereenselwig die nuwe vlag & volkslied daarmee”.

Daar bestaan dus geen twyfel dat die optrede in hierdie geval polities gedryf was nie. In ons land baklei mense mos maar altyd. Die een klomp sê vergeet die verlede en moenie alles altyd op apartheid blameer nie en vergeet tog net die verlede en vergeet die verlede en, en o ja, kom ons sing gou “die Stem” en ons vergeet die verlede. En ons vier Bloedrivier en dan “vergeet” ons die verlede en ons vergeet dit. Ai.

Maar hier le die eintlike ironie in Hofmeyr se opmerking. Dit ontbloot sy simplistiese interpretasie van Suid-Afrika se ontwikkeling. Suid-Afrika se mense was eintlik nog altyd geïntegreerd, anders as wat Hofmeyr se opmerking beweer. Die integrasie wat ons vandag ken, is bloot maar sosiale integrasie. Want ekonomies was wit en swart en “bruin” en Indiër en al die ander eintlik nog altyd maar intiem verweef. Die sogenaamde ‘ou’ Suid-Afrika, was immers gebou met die hande van die arm klasse wat vir hulle goedkoop arbeid uitgebuit was, en hulle was meestal swart. In ander gevalle was daar Indiërs ingevoer om die werk goedkoop te verskaf, maar IEMAND moes uitgebuit word.

My oupa wat in 1906 gebore en in 1999 oorlede is, het ons vertel dat daar as kind in hulle streek swart mense geboer het. Toe kom die regering en vat die swart mense weg, en teen die einde van die sy lewe was die regering maar weer besig om die swart mense terug te bring as grondeienaars. So het die wiel maar gedraai en die seisoene gekom en gegaan. So ek glo nie vir een enkele oomblik dat ons eens op ’n tyd heeltemal “apart” was nie. Dit is nonsens. En wat die geweld betref, die ou Suid-Afrika het eenvoudig nie veiligheidsdienste aan sekere klasse van die samelewing verskaf nie. Dit ten spyte van die feit dat daardie mense ook maar gemelk was van belastings. Dit het laaaaank gevat voordat daar stadig maar seker begin is om te poog om gelyke dienste te verskaf.

Tot ’n mate maak dit egter sin dat sekere mense terug sal verlang na hulle posisie van bevoorregting. Dat hulle in die verlede sal lewe. Wie wil nie dinge op die skinkbord kry nie? Wie wil nie beter behandeling kry as ander nie? Meeste mense sal graag wil. So, ook die onlangse opmerkings op PRAAG se webwerf, toon in hoe ’n mate Suid-Afrika se mense dikwels nog in die verlede lewe. Dit mag miskien so wees dat lede van Suid-Afrika se “kommunistiese” party baie hoë posisies in die regering geniet. Maar die vraag is, hoe “kommunisties” is hierdie kommuniste van ons land regtig, daar waar hulle in gegoede buurte bly en in luukse motors rondry? Is hulle kommuniste in die sin wat Joe Slovo, Ruth First, Chris Hani en Bram Fischer was? Ek het juis anderdag iets hieroor geskryf en my gevoel laat blyk.

Oor Steve Hofmeyr wil ek ook net ’n opmerking of wat maak. Ek het die grootste bewondering vir sy begaafdheid en ja, ek geniet sy werk. Hy is ’n uitstekende akteur. Hy het ’n besondere stem en dit wat hy vir Afrikaans gedoen het is waarlik iets waarvoor ons hom kan bedank. Dit is des te meer vir my jammer dat hy soveel ambisie toon om uiteindelik die politiek te betree. Ek dink dit sal ’n reuse terugslag wees vir Afrikaanse musiek, ag, sommer vir musiek in die algemeen.

Ek was gebore in die ‘’ou’’ Suid-Afrika, maar dit is nie iets wat ek weer sal wil sien nie. Daar was baie goeie dinge aan die ou Suid-Afrika. Daar was byvoorbeeld, om maar net een vrug uit te sonder, kundigheid in die ou Suid-Afrika ontwikkel wat internasionaal as baanbrekerswerk beskou word. Maar staatkundig was die ou Suid-Afrika gedoem. Dit was ’n eksperiment wat misluk het. Die mense van Orania besef dit, en hulle besef dat om waarlik jou volkstrots uit te leef, moet jy bereid wees om sekere eienskappe van kapitalisme, spesifiek die gewetenlose tipe kapitalisme, wat op die uitbuiting van goedkoop arbeid berus, te laat vaar. Vandaar die slagspreuk “eie arbeid”, wat ons met Orania assosieer. Daar is egter ander groeperinge in ons land, soos vergestalt deur die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, wat hierdie feite nooit sal aanvaar nie en altyd sal terug hunker na die vleispotte van apartheid, waarvan God (ten minste die God waarin ek glo) ons verlos het.

Dit is vir hierdie redes dat ek ongemaklik sal wees om self “die Stem” te sing, veral binne die konteks waarin dit by die fees gebeur het. Die lied is vir my mooi in die sin dat dit deel is van ons erfenis en ons historiese realiteit, en dit kan nie weg gewens word nie. Ons kan nie die mense wat dit as hulle volkslied geag het oordeel met die norme van vandag nie. Maar “die Stem” is nie meer my volkslied nie. Dit was vir nagenoeg 9 jaar lank, maar dit sal nooit weer wees nie.

 

* Odendaal, A., The Founders: The origins of the ANC and the struggle for democracy in South Africa, p. 335Jacanda Media, Auckland Park, 2012

Advertisements

16 comments

  1. Ek wens ek was daar gewees toe die volkslied gesing is , glo my ek sou ok hartlik saam gesing het, aangesien die meeste in die huidige S.A maak soos hulle wil kan ons seker ook n bietjie oorboord gaan.
    Mooi so Steve.

  2. Orania het op hul Facebookblad gesê:

    “Die eerste drie verse [van Die Stem] het heelwat inhoud wat vandag nie meer vir Afrikaners relevant is nie soos ‘ons sal lewe ons sal sterwe’, maar die vierde vers is nog uiters relevant.”

    Toe ek daar was tydens Geloftedag 2012 het die mense in Orania nie eens die eerste vers van Die Stem gesing nie, neet die vierde vers is gesing.

    • Waarlik! Die mense van Orania dwing respek by my af. Daar skuil goed beredeneerde argumente agter baie van wat hulle doen. Ons kan leer by hulle hoe om dinge te oordink voordat ons optree!

    • Ek geniet altyd jou kommentaar Christian ek het al so baie dinge wysgeword deur jou skrywerk te lees, selfs wanneer ek nie saamstem nie.

      Ek voel dit is mense se reg om daardie lied te sing ja. Dit is nie teen ons konstitusie nie. So ons moet beslis mekaar se reg verdedig om dit te kan sing as hulle sou wou. Dit is ook interessant om te let op Herman Toerien se kommentaar, war hy verwys na kent gij dat volk en ook die ou Vrystaat republiek se liedere. Beide is nog in die sangbundels en dis deel van ons erfenis.

      Ek dink wel Steve het die platform wat hy gekry het welwetend misbruik. Maar dit is maar die tipe risiko wat feesorganiseerders neem. Ek twyfel of die regering, wat verskeie Afrikaanse kunsproduksies en veral films borg, hulle steun sal onttrek aan die kunste oor iets soos die voorval. Hierdie is maar net ‘n klein debat onder die Boere.

      So ek stem grootliks saam met wat jy geskryf het. Dit is elkeen se reg om die Stem te sing. Ek sing self af en toe vir ontspanning volksliedere wanneer ek so bietjie die kitaar tokkel, en onder meer die Stem van Suid-Afrika. Ek is nie gekant teen die lied nie. Maar my standpunt het ek nou gestel hierbo. Ek beskou dit nie as my amptelike volkslied nie. Maar ‘n deel van die bevolking soek dit wel.

      Dit lyk my mense soek ‘n sterk, half meer aggeressiewe tipe lied vir ‘n volkslied. Die Franse baklei al hoe lank want baie van hulle voel weer hulle lied is TE bloeddorstig. Dit is skynbaar so dat baie mense voel dat Nkosi Sikelele te gewyd is en nie die vuur van nasietrots wakkermaak nie.

      Maar waar dit, soos in die geval van Steve Hofmeyr, gaan daarom dat dit ‘n hunkering is na die ou Suid-Afrika, daar verskil ek. Die feit dat baie dinge in die ‘nuwe’ Suid-Afrika ook skeefloop, vervul my glad en geheel en al nie met heimwee na die ‘ou’ Suid-Afrika nie.

      Maar wat ek hou van Steve Hofmeyr. Hy is ten minste iemand wat glo ek die konstitusionele pad wil stap. Maar hoe baie mense word nie weens hierdie tipe opswepery betrokke by verregse aktiwiteite nie, en dan is hulle lewens verby? Dit is tragies.

      • Om nou van al daai 45 000 mense te sê dat hulle hunker na die apartheidsdae gaan ‘n bietjie ver, Barend. Ek glo ook nie dat Steve Hofmeyr terugverlang na die ou Suid-Afrika. Steve erken die nuwe Suid-Afrika en hy gebruik Die Stem net om sy stem dik te maak, omdat die regering tog nie luister nie.

        Ek dink ‘n bevolkingsgroep moet die kans hê om sy stem dik te maak – ook as die pyn by ander groepe oplewer. Dit is demokrasie. Die ortodoks-gereformeerdes en anti-christene maak ongelooflike rusie in die Nederlandse parlement. Maar ondertussen hou hulle wel die Nederlandse minderheids-koalisie-regering (waarvan hulle geen deel uitmaak nie) aan die mag.

        En as Die Stem ‘n middel daartoe is, is dit volgens my geregtig om dit te sing.

        Maar ek stem met jou saam, as Die Stem deur ekstremistiese groepe word gebruik om apartheid te verheerlik, dat daardie groepe Die Stem nie moet sing nie.

        • Daar moes beslis baie mense daar gewees het wat wel gematigd is. Dit is waar. Ek weet die meeste Boeremense is eintlik gematigd. Die onlangse verkiesing het dit bewys. Slegs sowat 5000 het vir die Front Nasionaal gestem. Die oorgrote meerderheid het DA en VF plus gestem.

          Kyk hieso as Steve Hofmeyr beloof om uit die politiek te bly (want hy dreig al lank om dit te betree) dan beloof ek om paar van sy CD’s te gaan koop want ek is baie lief vir sy sang! En ek hoop hy hou aan sing en word nie politikus nie.

          Ek wil nie he hy moet soos Niekie in die woestyn beland nie. Hy moet ons liewer aanhou vermaak!

          • Maar Barend, iemand sal die woestyn moet betree en bedwing om dit groen te kan maak. Anders sal die woestyn altyd woestyn bly. Die feit was dat Niekie te laag op VF+ se lys was… ‘n Mens moet ook aan die rand van die woestyn begin – nie sommer in die middel nie…

            Kyk maar wat hulle in Orania doen… in die woestyn.

            • Lag ja dis waar. Ons kan onderskei tussen die mense wat baie praat en min doen, en dies wat min praat maar nogal baie gedoen kry. Laasgenoemde is pragmatiese mense wat respek afdwing by vriend en vyand. Mense wat die vermoee ontwikkel het om krities te kan dink en selfrefleksie te kan toepas en ja selfs koersverskuiwings te kan maak wanneer dit moet. Ek lig my hoed vir diesulkes.

    • Gewoonlik, wanneer die Stem gesing word, dan word dit aan die einde van funksies gesing en dit word dan prakties in die plek van die nasionale volkslied gesing. Ek weet nie of dit is wat Steve bedoel het nie. Skynbaar wel, aangesien hy so uitvaar teen die huidige simbole van Suid-Afrika en ons volkslied.

      Soos ek se, teen die lied self en die sing daarvan het ek nie ‘n probleem nie, maar waar dit in die plek van die amptelike lied gesing word, daar maak dit my tog ongemaklik. Die ou Suid-Afrika was ‘n plek waar vroue onderdruk was. Dit was ‘n streng patriargale samelewing waar die Broederbond jou lewe regeer het. Hulle het besluit waar jy bly, waar jy werk, wat jy eet en saam met wie jy mag slaap. Dit alles het hulle gedoen met hulle staatsgodsdiens. As jy nie aan die regte denominasie behoort het nie, dan was jou lewe swaar. Dit is maar baie soos wat jy ook in die nuwe Suid-Afrika konneksies nodig het om deur SEB bevoordeel te word . . .

      En die media was onderdruk in die ou Suid-Afrika. Ons weet vandag baie meer wat in Suid-Afrika aangaan as wat mense daardie jare geweet het. Dinge was toegesmeer op ‘n skaal wat onmoontlik is in die nuwe Suid-Afrika. Al die skietgoed wat mense vandag teen die regering het, is danksy die vrye pers wat toegelaat word deur die einste regering van die dag.

      So staatkundig voel ek ongemaklik met ‘die Stem’. Sosiaal is dit een storie. Mens kan dit seker sing. Ek sing dit self party dae. Maar staatkundig is dit NEE – Dit is nie my volkslied nie.

      • Ek verstaan jou. Tog dink ek dat ou simbole moet saam kan transformeer in die nuwe tyd. Soos wat Kovsies nou doen met die standbeeld van Staatspresident M.T. Steyn, wat nou heeltemal in pienk plastiek ingepak is.

        • M.T. Steyn was ‘n heel pragmatiese man wat ek bewonder. Hy was baie van sy tydgenote ver vooruit.

  3. Niks fout daarmee om die Stem te sing nie. Dis n mooi lied en beslis nie n verlange terug na apartheid nie. n Gedeelte vd Stem is dan deel vd huidige volkslied. Dan mag daai gedeelte mos ook nie gesing word nie of hoe? Nee wat,daar is party mense wat darem nou die dam onder die eend uitruk met hul teenkanting teen die sing vd Stem. Ek sal die Stem beslis sing as die geleentheid hom voordoen.

    • Ja dit is jou reg Frik. En mens moet daai reg respekteer. Ek sing self die Stem met my kitaar soms. Maar dis nie my volkslied nie en ja ek kry regtig die indruk Steve verlang terug na apartheid. Na die bevoorregte posisie. Dit is basies wat hy gese het.

      Geniet jou naweek Frik! Hoop dit gaan goed met jou!

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s