My interaksie met die Mormone by die Boeremark

’n Mens het ’n wye verskeidenheid van uiteenlopende mense nodig om ’n ekonomie en ’n samelewing te laat slaag. Iemand moet die swaarvoertuie bestuur wat die produkte bring. Ander een moet die winkel inspekteer om sekere norme van sanitasie te probeer handhaaf. Daar kort paar mense in die buurt wat ou tale kan lees wat niemand meer kan praat nie. Want die antieke wêreld het steeds vandag ’n invloed op ons ontwikkeling. Nóg iemand is nodig om die vloere skrop en ’n ander een hanteer die finansies en doen die boeke. Dan is daar die kunstenaar wat die samelewing se norme uitdaag en vrae vra oor wat ons doen en hoe ons dit doen.

En so het elke wonderlike mens ’n gawe gekry waarmee hulle die gemeenskap kan dien.

Maar as daar nou een ding is waarvan ons ’n ooraanbod het, dan is dit mense wat dink hulle weet presies hoe God se kop werk en dat hulle en net hulle alle kennis in pag het oor die geheimenisse van die heelal . . .

Ag, eintlik het ek geen probleem met godsdiens nie. Ek het die wonderlikste gelowige vriende vir wie ek lief is en wat my liefhet. En ek glo dit is die fundamentele reg van elke mens om die geloof van hulle keuse te beoefen. Maar dit is wanneer mense opmerkings maak oor die samelewing, of wanneer hulle bepaalde gedrag openbaar dat ek nie ’n happy chappy meer is nie.

Was dit verlede jaar of vroeer vanjaar? Wat ons die reaksie teen godsdiens advertensies op televisie in Engeland gesien het? Dit was vroeer in 2014 dink ek. Die Sciëntologie. Die kerk van die baie bekende Hollywood akteur Tom Cruise wat skynbaar glo dat alle lewe uit die buitenste ruimte gekom het. Of Cruise en sy kerk die spyker op die kop slaan oor die bewering dat ons almal ruimtewesens is, daaroor kan mens seker debatteer. Maar een ding wat ek vir ’n feit weet, is dat ek nie by sy kerk wil aansluit nie. En ek wil BESLIS ook nie advertensies van daardie kerk sien tussenin ander openbare reklame nie.

Maar geld praat altyd as dit by kerke kom.

Mormone op die Boeremark in Bloemfontein (Foto: Barend van der Merwe)

Hier in Bloemfontein het ons die wonderlikste wonderlikste instelling, die Bloemfontein Boeremark, waar mense elke Saterdag vars produkte kan gaan koop, en klomp ander soort lekkernye. Daar is baie kerke wat van die geleentheid gebruik maak om by die Boeremark produkte te verkoop, dikwels ten bate van die wonderlike welsynwerk wat hulle doen. Maar helaas daar is nie net produkte te koop daar nie, ook God het ’n stalletjie, waar die lidmate van die Church of Jesus Christ of the Latter day Saints (oftewel die Mormone) hard aan die werk is om lede van die publiek saam in hulle afgronde in te trek.

In terme van die godsdiens opleiding wat ek as kind geniet het, sal mens die Mormone as ’n “sekte” kan klassifiseer. Ek wil my nie juis uitlaat hieroor nie. Natuurlik is my eie kerk, die NG kerk, ook weer vir baie ander mense ’n “sekte”, met hulle gekleindopery en vet weet wat als verkeerd is met NG mense. Soos ek verstaan, is die heel grootste verskil tussen die Mormone en die grootste stroom van die gereformeerde kerke, waaronder die NG kerk, is die feit dat die Mormone die leer van die drie-eenheid verwerp.

Nou ja, in daardie sin het ek simpatie met hulle. Ek is self skepties oor die drie-eenheidsleer. Dis daarom dat ek moes vrede maak daarmee dat ek myself nie ’n Christen kan noem nie. Ek lees wel graag Bybel en geniet my spiritualiteit, en ek ervaar God op my manier – ’n manier wat nie sin maak of goed genoeg is vir meeste se standaarde nie. Maar ek wil nie oor myself eintlik praat nie. Dis net vir agtergrond wat ek die dinge noem.

Wat ek by wil stilstaan is die Mormone. En hierdie Mormone se groot held is een historiese karakter met die naam Jesus. In sy lewe van nagenoeg 33 jaar, het Jesus nie een enkele mens verwerp of afgeskryf nie. Nee Jesus het saam met die hoere en die sondaars, saam met die smet van die samelewing het Jesus feesgevier en hulle omhels.

Maar hierdie Mormone hulle weet beter as hulle Jesus. Die een na die ander mens word deur die Mormoonse kerke onder sensuur geplaas en verban. Dit is iets verskriklik. So erg is dit, daar was anderdag ’n mens wat ’n “lys” gaan maak het van al die mense wat Jesus verwerp het. As ek kon dan sou ek daardie plasing nomineer vir die blogplasing van die jaar.

Ek het ’n foto geneem van die Mormone by die Boeremark. En toe staan die een natuurlik nader. Slim. Hy het begin deur te vra of ek familiegeskiedenis navors. Hulle is bekend daarvoor dat hulle ’n reuse versameling in hierdie verband het, waar hulle poog om elke mens op aarde te dokumenteer, en inderdaad baie naby daaraan is. Maar ek is nie op my bek geval nie en vra hom toe reguit of hulle NET familiegeskiedenis hier doen. Te minste kan ek rapporteer en sê nee, hierdie man is eerlik, want hy het toe bely hulle versprei ook die “good news of Jesus”.

En dis daar wat ek gesê het “no fanks”. My warm vetkoek het in so mate afgekoel dat dit nou eetbaar was, en terwyl die temperatuur daarvan gedaal het, het my bloeddruk waarskynlik gestyg. Dit was tyd om spore te maak.

Ek wil net my opregte dank uitspreek teenoor AL die ander geloofsgemeenskape wat nie soos die Mormone hulle godsdiens op ’n Saterdag gaan bemark op openbare plekke nie.

Dies wat eerder sosaties verkoop en die geld gebruik vir welsyn. Dis hulle wat regtig die wêreld verander.

Advertisements

One comment

  1. Die Boeremark het sedertdien besluit dat geen godsdiens, ideologie of politieke oortuiging op die terrein verkondig mag word nie. Kerke is dus steeds welkom om ‘n stalletjie by ons te huur, om produkte te verkoop, maar hulle mag nie hul geloof / godsdiens daar verkondig nie.

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s