Lesersartikel: Wie is Isis, en waar is Mosoel?

Die gebied in Irak en Sirië wat beheers word deur die Islamitiese Staat van Irak en Sirië. Die gebied is ongeveer ewe groot as die Vrystaat (Foto: NordNordWest / Spesh531 / Wikimedia Commons)

Die verowering van Irak se tweede grootste stad, Mosoel, deur die Isis-beweging het waarnemers wêreldwyd onkant betrap. Navo hou, op versoek van Turkye, ‘n blitsberaad. Die VSA bied Irak “enige moontlike hulp” aan.

Isis staan vir Islamitiese Staat vir Irak en Sirië. Dit het aanvanklik as dogter-organisasie van Al-Kaïda tot stand gekom, maar Al-Kaïda het onlangs bande verbreek omdat dit “erger as ons is.”

Dit is in die Soenie-weergawe van die Islam gesetel, maar is erg fundamentalisties. In die aansienlike gebiede in Sirië wat dié organisasie beheer, word diefstal met openbare amputasie gestraf. Mans wat dampies maak, word met stokke gelooi, en so ook vroue sonder kopdoeke.

Dit het aanvanklik in Irak ontstaan, waar die Sjiïete-meerderheid na die omverwerping van Saddam Hoessein – ‘n Soenie – aan bewind gekom het. Al is ‘n federale staat geskep met aansienlike selfregeringsmagte vir die Soenies, Sjiïete en Koerde, voel die Soenies steeds soos tweedeklasburgers in die land waar hulle eens die bewindhebbers was.

Met die opstand teen pres. Bashar al-Assad se bewind in Sirië het Isis ook na dié land uitgebrei. In Sirië is die Soenies weer die meerderheid, maar word deur die Assad-dinstie regeer wat Alawiete is, ‘n sekte van die Sjiïete-minderheid. Hoewel die opstand teen Assad deur ‘n groep pro-demokratiese organisasies begin is, het Isis en ander radikale Moslems hulle gou self genooi, en mettertyd die opstand probeer kaap. Daar was selfs gevegte tussen die strydende groepe, en is van ‘n burgeroorlog binne ‘n burgeroorlog gepraat.

In Irak het Isis aanvanklik eerder as terreurorganisasie bekend gestaan wat bomme in verskillende stede laat ontplof het, en dikwels Sjiïtiese moskees geteiken het. Geleidelik het dit egter ‘n meer konvensionele karakter aangeneem en stede begin aanval, hoewel sy ganse troepemag op sowat 12 000 geskat word – teenoor ‘n miljoen soldate van die Irakese weermag.

Nogtans het die verowering van Mosoel as skok gekom. Waarnemers meen egter dit was hoofsaaklik in samewerking met generaals van Saddam gedoen.

Tyd vir baie besinning was daar egter nie, want die stad is skaars beset, of die stad Tikrit is onderweg na Bagdad self verower. Vlugtende soldate het nie verwag die aanvallers sou met voertuie kom nie, en was nie waaksaam nie omdat hulle gemeen het dis regeringstroepe wat op pad was.

Isis laat egter nie gras onder sy voete groei om vyande te maak nie, wat sy suksesse betreklik kortstondig kan maak. In Sirië het die bewind van Assad die militêre oorhand begin kry. Die redes hiervoor is enersyds dat selfs die Soenie-bevolking nie kans sien vir die radikalisme van Isis nie, en hulle gewig by die minderhede soos die Christene inwerp wat Assad as die mindere euwel beskou. Voorts het Hizbollah, die Sjiïetiese groep in Libanon, aan die kant van Assad tot die stryd toegetree. Hizbollah is al as die sterkste mag in die Midde-Ooste, Israel uitgesluit, beskryf. Isis en Hizbollah pleeg die mees afgryslike wandade teenoor mekaar.

Ook uit Iran, ‘n oorwegend Sjiïtiese staat, het soldate betrokke geraak, hoewel die omvang daarvan nog in vaaghede gehul is. Verskeie senior offisiere het egter reeds gesterf.
Met die verowering van Mosoel het Isis egter ook sowat 80 Turkse burgers in die stad gevange geneem. Turkye is in die streek ‘n reus, en dis nie ‘n gawe plan om dié land as vyand te hê nie.

In Irak het Isis reeds aanvalle op die selfregerende Koerdiese gebied geloods.
Dit is byna ‘n uitgemaakte saak dat Iran ook die Sjiïtiese regering in Irak te hulp sal snel as sake vir die Sjiïete begin skeef loop.

Intussen moet lande wat in ander lande ingryp om demokratiese regerings te bewerkstellig, deeglik kennis neem van plaaslike omstandighede, of die gevaar loop om daardie lande met ‘n groter gemors agter te laat.

Hierdie artikel is geskryf deur Herman Toerien. As u ook ‘n artikel op ons webwerf wil publiseer, gaan na ‘laai jou artikel‘.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s