Lesersartikel: Die slagting van selektiewe geheue

Die 2005-herdenking in Hong Kong. Die voormalige Britse kroonkolonie is die enigste plek in China waar die Tiananmenprotes herdenk mag word. Die 2014-herdenking is deur meer as 200 000 mense bygewoon. (Foto: aihiu / LAI Ryanne / Wikimedia Commons)

Afgelope Donderdag, presies 25 jaar gelede het die Chinese weermag op ‘n maandelange pro-demokrasiebetoging op Tiananmenplein in Beijing toegeslaan. Amptelik het niks die dag gebeur nie, maar in die praktyk is honderde, indien nie duisende nie, betogers afgemaai of onder tenks en ander pantservoertuie vertrap. Diegene wat weet en dit selfs beleef het, moet vergeet, en dié wat nie weet nie, mag nooit uitvind nie.

Tot vandag toe, hulpmiddels soos Google ten spyt, is dit nie ‘n maklike taak om enige foto- of videomateriaal te bekom wat die fisiese slagting toon terwyl dit gebeur nie. Vooraf-foto’s, en agterna-foto’s is daar heelwat.

Vandag sou dit bitter moeilik gaan om so iets so onder die mat te kan invee, veral in ‘n land soos China waar byna elke stedelike Chinees met ‘n selfoon met kamera en video-opnemer rondloop. Beeldmateriaal sou die weste binne sekondes bereik het. Maar ‘n skrale 25 jaar gelede was baie van vandag se tegnologie nog net in die beginfase.

Maar die Chinese selektiewe geheue het nie verhinder dat die wêreld vergeet het nie. Of liewer, ‘n deel van die wêreld nie. Want China is ‘n opkomende ekonomiese en militêre reus. En so lui die gesegde in die politieke wetenskap: Alle lande is gelyk en ongelyk tegelyk.

Dit beteken dat lande verkies om nie te weet van China se vertrapping van basiese demokratiese regte nie, dat die wêreld ‘n blinde oog werp op die manier waarop China minderhede hanteer, hoekom lande toelaat dat China met handelsooreenkomste bedrywe, soos die klerebedryf, in hul handelsvennote byna te vernietig.

Suid-Afrika is een van die lande wat die Dalai Lama onder Chinese druk verneder het, en wat nou bekommerd is oor die impak van sy handelsbetrekkinge met China wat omtrent net China bevoordeel.

China se steun, saam met dié van Rusland, aan die Siriese despoot Bashar al-Assad, word met weinig meer as frustrasie begroet.

Beijing het selfs die eer gekry om ‘n Olimpiese Spele aan te bied.

China het sy gebiedswaters eensydig uitgebrei, en so die belange van verskeie ander Asiatiese lande aangetas. Daar is selfs nou en dan onmin tussen China en Noord-Korea. China is ontevrede oor Japan sy verdedigingsvermoë in die lig van Chinese indringing in sy belangsfeer begin uitbrei, terwyl daar onlangs anti-Chinese betogings in Viëtnam uitgebreek het nadat China ‘n boortoring in gebiedswater waarop Viëtnam aanspraak maak, opgerig het. Tot Taiwanese fabrieke en burgers is aangeval bloot omdat daar Chinese skrif op die fabrieke was.

Die sogenaamde pro-demokrasie-pleinbetogings het egter die simbool van opstande teen regerings met outoritêre strepe geword. Die Tahir-plein in Egipte was al male sonder tal die slagveld van sulke betogings wat nou reeds twee regerings laat tuimel het. Ook in die Oekraïne het die opstand wat tot die afsetting van die korrupte pro-Russiese president gelei het, hom op ‘n plein afgespeel.

Nou, met moderne tegnologie, is dit nie meer moontlik om geweld ongesiens teen betogers te pleeg nie. Daar was selfs webwerwe oorsee waar mense regstreeks kon volg hoe die sake dag vir dag op die plein in Kiëf verloop het.

So word elke hardhandige regeringsoptrede nog ‘n Marikana, en is regerings in die buiteland onder enorme druk van hul ontstelde kiesers om hard en duidelik standpunt in te neem.

Die ironie is dat Tiananmen min of meer “poort van hemelse vrede” beteken. Die demokrasie mag miskien nie volmaak wees nie, maar vir onderdruktes wat hul lewens of vryheid op die spel plaas vir demokratiese hervormings, is dit soos ‘n hemelse vooruitsig.

En die wêrelddeel wat die demokrasie koester, durf nie vergeet van hulle wat hul lewens opgeoffer het om dit te bereik nie – al word anderkant die bamboesgordyn erg gebrom daaroor.

Hierdie artikel is geskryf deur Herman Toerien. As u ook ‘n artikel op ons webwerf wil publiseer, gaan na ‘laai jou artikel‘.

Redakteursnota: ‘n Artikel met skakels na meer omvattende agtergrond oor die Tiananmenprotes kan hier gelees word. ‘n Beeldverslag kan hier gesien word.

Advertisements

Gee kommentaar!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s